Vier magiese woorde – Ria Richards

Vier magiese woorde

Hy sit sy hand intiem oor hare wat op die hekkie rus. Diamantliggies speel plesierig in die deurskynende oë. “Jammer, het ek die mooie juffrou Hartjies te vroeg wakker geraas?”

Sy oliebesmeerde hand is sag en warm. Zayleandré se pols versnel. ’n Lekker gevoel jaag deur haar lyf en betrap haar onkant. Selfs haar nekhare staan orent. Sy voel simpel omdat sy bloos soos ’n preutse tienermeisie wat in ’n seksvoorligtingklas sit.

“Ek bedoel dit, ek is regtig jammer ek het so vroeg gepla.”

Hy het nog nie een maal sy oë van haar gesig af geneem nie. Ongemaklik kyk sy weg en konsentreer eerder op sy mond wat sy nou ordentlik kan bewonder. Dis ’n vol, sexy mond met sensuele kurwes – sy onderlip net-net dikker as die bolip met effe onegalige, maar spierwit tande. ’n Glimlag wat seker menige vroue se ondergang is, plooi stadig om sy mond.

Haar hartklop versnel nog ’n rapsie. Dan kyk sy maar liewers vir sy neus. Dis smal, nie heeltemal reguit nie, maar dit dra tog by tot sy aantreklikheid. Sy manlikheid.

Sy vryf met haar hande selfbewus oor haar arms om hulle besig te hou toe sy agterkom sy is onverklaarbaar spyt omdat hy sy warm hand van hare afgehaal het. “Hoekom sny jy dan die gras? Amos doen dit gewoonlik?”

“Amos het laat weet sy kind is siek; hy kom eers weer volgende week. Ek het gedink ek sny maar vroeg, voor dit reën.”

Zayleandré kyk op na die oop, blou lug bokant haar en frons. “Watter reën? Daar’s nie eens ’n wolkie in die lug nie.”

“Ek voel dit aan my knie. Dis ’n ou rugbybesering. As daar reën in die lug is, vertel hy my.” Hy vryf oor sy regterknie soos ’n ou omie met rumatiek. “Onthou my woorde: Vanmiddag reën dit katte en honde.”

Sy trek haar skouers ongeërg op. “As jy so sê.” Sy kyk na die ou, uitgediende grassnyer langs die hekkie. “Hoekom sukkel jy met hierdie antiekstuk? Tannie Babsie het mos verlede maand ’n splinternuwe grassnyer gekoop.”

“En jy sê my nóú eers?”

“Jy het nie gevra nie. Dis ook nie my skuld as jy teen jou oogvelle vaskyk nie. Dit staan oop en bloot in die motorhuis reg voor tannie Babsie se motor.”

“Ek dog jy staan spesiaal hier om vir my dankie te sê vir die sjokolade; nou baklei jy met my.”

Hy glimlag weer sexy. Sy voel hoe haar bene jellierig raak en wonder of hy regtig so lekker kan soen soos in haar droom. Sy vervies haar vir haar eie stormagtige gedagtes. “Ek eet gewoonlik nie sjokolade nie, dit gee my migraine.”

“Jammer, ek het nie geweet nie. Gee dit dan maar terug. Ek sal dit gaan omruil vir iets anders. Sê net waarvan jy hou.”

’n Blos sprei oor haar wange. Die sjokolade het sy dieselfde aand opgeëet nadat Pieter haar afspraak met Janus so opgemors het. Nou het sy haar al weer vasgelieg. Sy sal vinnig ’n plan moet maak met haarself. Dit is nie in haar aard om te lieg nie.

“Jy lyk vir my na die biltong-en-droëwors tipe meisie,” sê hy nadenkend toe Zayleandré nie reageer nie.

Sy ril oortuigend. “Nee, dankie. Ek gril my morsdood as ek net daaraan dink dat ek rou vleis moet eet. Dan praat ek nie eens van al die vlieë en brommers wat daarop gaan sit nie.” Nog ʼn leuen, dink sy benoud. Sy sal haar voortande gee vir ʼn stukkie biltong met ʼn lekker stewige stukkie vet aan.

Haar oë slaan vas op die swart oefenbroekie – weer die enigste kledingstuk wat hy aanhet. Dit lyk in elk geval nie of hy biltong kan bekostig nie, want elke keer as sy hom sien, het hy dieselfde broekie aan. ʼn Giggellaggie breek deur voordat sy dit kan keer. “Ek hoop nie jy slaap vanaand in daardie broek nie. Dis vol olie.”

Sy wens sy het liewer haar mond gehou toe hy eers betekenisvol na die oliekol kyk en toe na haar. “Gelukkig nie. Ek hou nie daarvan as iets my vasdruk wanneer ek slaap nie, behalwe natuurlik wanneer dit ʼn mooi meisie soos jy is.”

Sy kyk vas in sy oë wat ondeund vonkel en haar hart mis ʼn klompie slae. Sy kry dit sowaar nie reg om ‘n paar woorde agtermekaar in te span om een konstruktiewe, logiese sin te vorm nie. Hy het haar heeltemal onkant betrap. Om alles te vererger bloos sy weer soos ʼn bakvissie.

“Ek gaan vir my koffie maak,” borrel dit na ʼn rukkie vinnig oor haar lippe.

“Dit sal lekker wees, dankie.”

“Hemel, maar jy ís aanmatigend! Ek glo nie ek het gesê ek gaan vir óns koffie maak nie.”

“Die keer net een lepel koffie, asseblief,” ignoreer hy haar fyn sarkasme moedswillig. Haar liggaam stuur gemengde seine na haar brein, waar ʼn ernstige kortsluiting plaasvind toe hy haar ’n piksoentjie op die neus gee. “Ek weet mos jy sal dit nie oor jou hart kry om my van die dors te laat omkom nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s