HAAR EIE SPROKIE – Cheryl Rogers

Haar eie sprokie

Sy kyk verras op toe die kleinhekkie kraak. Dis Jandré en sy wonder hoekom haar hartklop skielik versnel.

In sy arms hou hy ’n baie omgekrapte, spartelende Felix vas. Felix hou duidelik nie daarvan om rondgedra te word nie en gee ’n lelike skril miaau. “Eina, jou verduiwelse swerkater!” roep Jandré uit. Hy laat los Felix sonder enige seremonie. Die kat laat nie op hom wag nie, en verdwyn soos blits om die hoek van die huis. Blondie kon nog nooit ’n kat wat hardloop weerstaan nie, en sit vir Felix agterna.

“Wat doen jy met my kat?” vra Erika ontstoke. Haar hart klop steeds vinniger, maar nou is dit meer van ergernis as enige iets anders.

Jandré stap doelgerig op haar af. Sy oë, wat gister ’n gesellige koffiebruin was, is nou amper swart en hy lyk nie baie gelukkig nie. “Kyk Erika, ek het niks teen katte nie, maar jy sal moet probeer om jou kat aan jou kant van die muur te hou. Ek het hom in ’n pot vol saailinge in my kweekhuis gevind; knus opgekrul en vas aan die slaap. Al die plantjies is pap gelê; ek twyfel of ek ’n enkele een sal kan red.”

Erika sukkel om nie te lag nie. So tipies Felix, dink sy. Sy sien egter die donderwolk wat oor Jandré se gesig beweeg, en sluk vinnig haar lag in. “Jammer daaroor,” sê sy, “maar is dit al? Ek dog hy het minstens jou kos gesteel of in jou huis gepiepie.”

Jandré kyk haar onbegrypend aan. “Doen hy dan sulke goed?”

Erika trek haar skouers op. “Nie in my huis nie.”

“Jy probeer grappies maak, maar ek is ernstig. Hou jou kat weg van my kwekery af of …”

“Of wat?” Sy is dadelik weer op haar perdjie. “Dreig jy my miskien? As jy enige verstand het, behoort jy te weet dat ’n mens nie aan ’n kat kan voorskryf nie. Al manier hoe ek hom van jou plek af sal kan weghou, is deur hom permanent in die huis toe te sluit. En ek weier om dit te doen. Dalk moet jy jou kweekhuis se deur toe hou.”

“Doen jy net wat nodig is,” sê Jandré bruusk. Hy vee sy kuif uit sy gesig. Op die agterkant van sy hand is ’n krapmerk waaruit die bloed sypel.

“Eina,” sê Erika. “Hy het jou lelik gekrap.” En dis jou verdiende loon, wil sy amper snedig byvoeg, maar sy bedwing haarself. Sy kan dit maar dink en sy kan dit selfs sê, maar diep binne-in haar voel sy nie regtig dat hy dit verdien het nie. Sy voel eerder jammer en ’n klein bietjie skuldig omdat háár kat die oorsaak was.

Jandré kyk vlugtig na sy hand. “Dis niks.”

“Nee, dis nie niks nie,” sê Erika beslis. “Netnou kry jy die een of ander infeksie en dan dagvaar jy my, of iets.” Sy staan op. “Kom saam huis toe. Ek sal die plek gou vir jou ontsmet.”

“Nee dankie,” sê Jandré. “Ek sal dit self skoonmaak.”

“Ag man, moet nou nie so vol nonsens wees nie. Of is jy dalk bang dit gaan brand? Kom.” Sy gryp hom aan sy mou en trek hom agter haar aan huis se kant toe. Toe sy agterkom dat hy haar wel volg, los sy selfbewus sy mou. Wat op aarde is met haar aan die gang? wonder sy oorbluf.

In die huis beduie sy na die een sitkamer. “Sit solank hier. Die watte en ontsmettingsmiddel is in die badkamer. Ek gaan haal dit gou.”

Sy draf die trappe twee-twee op na bo.

Dianne is besig om af te stof in die boonste gang. “Vir wat is jy so haastig?” vra sy. Erika voel soos ’n stout kind toe Dianne haar krities op en af kyk. “Jy kan mos nie die trappe so uithardloop met daai tingerige lyfie van jou nie. Dis nou nie asof jy ’n paar kameelperdbene het nie. Netnou haak jou voet vas en val jy jou disnis op die trap.”

Erika glimlag. “Toemaar, ek het darem nog nie geval nie. Jandré wag onder vir my. My kat het hom stukkend gekrap en ek wil die plek ontsmet.”

Dianne se oë rek effens. “O,” sê sy alwetend.

“O, wat?” vra Erika agterdogtig.

“Jy moet oppas vir die Humans. Hulle is goeie mense, maar hulle dinge met die vroumense werk nooit uit nie. Oppas dat jy nie seerkry nie.”

“Ag, jy is laf. Ek het geen belangstelling in Jandré of Joubert nie. Jandré het hoeka net hierheen gekom om met my oor my kat te baklei.”

Dianne glimlag, maar sê niks verder nie.

Erika voel ’n blos oor haar wange kruip. “Ja toe, dink wat jy wil,” sê sy voor sy by die badkamer ingaan.

Erika vind Jandré voor die kaggel in die sitkamer. Hy staar op na ’n reuse skildery bo die kaggelrak van ’n ouerige man met ’n pyp.

“Het jy enige idee wie hy is?” vra sy saggies agter hom. Die skildery het haar dadelik opgeval toe sy dit gister die eerste keer gesien het.

“Dit was my oupa, Albertus Human,” sê hy, sonder om sy oë vir ’n oomblik van die skildery af te neem.

Erika frons. “Ek verstaan nie. Wat doen sy skildery hier?”

“Hierdie was sy huis. Hy het die huis, meubels en al, aan tannie Lizzie nagelaat in sy testament.”

Nou is Erika omtrent verward. “Maar hoekom? So sy het nooit die huis gekoop nie. Hoekom het sy jou oupa se huis geërf? Was sy familie van hom?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s