Santie van der Merwe

Santie van der Merwe se debuutroman, Gelyke kans, het pas verskyn. Leer kan haar beter.

Santie (2)Gelyke kans

Wie is Santie van der Merwe?

Ek is ʼn tuisteskepper, die ma van ʼn volwasse dogter en seun, en ek is al vir ses en twintig jaar met die liefde van my lewe getroud. Ek het op Schweizer- Reneke grootgeword. Ek hou van alleenwees, en raak selde eensaam. Ek is nuuskierig, en wonder baie oor dinge, belangrike dinge én onbenullighede. Orde maak my rustig, en ek hou van ʼn plek vir elke ding, en elke ding op sy plek.

Wat inspireer jou om te skryf?

Mense en hulle unieke situasies inspireer my om te skryf. Ek sien stories in elke winkeltrollie voor my, en in elkeen wat in die ry voor my in die poskantoor of in die bank staan. As jong skoolkind  het ek stories geskryf in sulke dun, goedkoop oefeningboekies, en dit ewe dramaties onder my pophuis se vloer weggesteek sodat niemand ander dit lees nie. Later het dit gedigte vol tiener-angs in my skoolboeke geword, en tot vandag toe het ek oral stukkies skryfwerk op papiertjies. Toe my jongste drie jaar gelede uit die skool uit is het ek besef my loopbaan as die versorger van my kinders is verby, en dis tyd om iets nuuts aan te pak. Ek het toe meer doelgerig begin skryf.

Watter eienskappe maak ’n held en heldin vir jou aantreklik?

Wat ʼn held  en ʼn heldin vir my aantreklik maak, is wat regte mense ook vir my aantreklik maak. Eerlikheid, opregtheid, verdraagsaamheid, regverdigheid en onafhanklikheid. Dit geld vir beide mans en vroue. Die vermoë om selfhandhawend, maar bedagsaam te wees, en ʼn goeie sin vir humor is bewonderingswaardig. Fisieke aantreklikheid is ʼn bonus, maar ʼn bysaak.

Wie is jou gunstelingskrywers?

Irma Joubert, Dana Snyman en Annelie Botes is my gunsteling Afrikaanse skrywers. En oorlede Audrey Blignaut. Ek hou minder van spanningsverhale, maar ek geniet af en toe iets van Deon Meyer of Chanette Paul.

My gunsteling skrywers in Engels is Kate Atkinson, Wally Lamb, Joanna Trollope en Elizabeth Strout. Daar is nog baie meer, maar dit sal ure neem om almal op te noem.

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

As ek nie skryf nie, lees ek. Ek lees amper enige-iets, behalwe rillers en wetenskapfiksie. Al wil ek baie graag van fantasie hou, kan ek my ander wêrelde as waarin ons leef, moeilik voorstel.

Verder doen ek handwerk. Borduur, brei, en hekel. Alles te make met gare of wol en naalde. Ek doen dit terwyl ek TV kyk, of terwyl ek na audio- boeke luister. Dis vir my lekker om huislike dinge te doen, soos om te kook, wasgoed op te hang, en af te stof.

5 thoughts on “Santie van der Merwe

  1. Annette de Mol says:

    Hello Santie. Ons het dieselfde smaak as dit by boeke lees kom. Gelyke Kans was fantasties. Kon hom nie neer sit nie. Junie is sovêr vir jou nuwe boek, kan nie wag nie. Baie dankie vir goeie leesstof.

  2. kristelloots says:

    My huishouding roep desperaat na `n vrou soos jy. Kan `n mens jou huur, Santie? Wys gerus van jou hekelwerk, ek het daarna geloer en dit slaan die asem weg. Ek hou van die idee van `n storie in elke winkeltrollie. Ek loer ook altyd nuuskierig na wat ander mense koop en wat in daardie huishoudings van belang is. Die hele wêreld lê regtig vol stories.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s