HIBISKUSVROU – Rykie Roux

Hibiskusvrou

“Op die terrein van liefde loop mens doekvoet. Jy dink ek weet nie wat ek doen nie, maar mense se harte is al vir twaalf jaar my besigheid. Jy kan maar ontspan. Armand en Helena sien mekaar glad nie.”

Theuns onderwerp Nerita vir lank aan daardie deurdringende blou oë van hom. Soos ’n magneet met ’n noordpool, wat na sy suidpool gedraai is, voel sy sy aantrekkingskrag.

“Kom ons antwoord die volgende vraag anders,” sê Theuns en kyk in sy leêr na die lys vrae. Hy skeur ’n vel papier uit die notaboek met die leeromslag wat hy ook saamgebring het en gee dit vir haar. Hy lag stilletjies by homself sodat die kuiltjieplooi in die linkerkant van sy mond meer prominent is. Sy sukkel om haar oë daarvan weg te hou.

“Wat is jou gunsteling soetgoed?” vra hy en hou sy pen na haar toe uit.

Die pen is onverwags swaar in haar hand. Dis van vlekvryestaal wat gepoets is tot die dof en glad is. Sy trek die doppie af en sien ’n outydse vulpenpunt.

“Mooi pen,” merk sy op.

“Ek is ’n pensnob. Ek skryf net met vulpenne en dit moet ’n mooi pen wees.” Hy glimlag skeefweg. “Oorblyfsel van my jeugjare. Bic penne herinner my aan armoede.”

Sy notapapier is ook van hoë gehalte, karringmelkkleur met ’n growwe tekstuur. Dis so oop en skoon soos wat sy daardie middag as ’n student onder die jakarandaboom was.

Die ink vloei tot binne-in die riffels van die papier toe sy ‘suurlemoenmeringue’ daarop skryf.  Sy is nie gewoond aan die plat punt nie en haar handskrif lyk kollerig.

Hy vat die pen by haar en skryf self iets op sy eie vel neer. Hy skeur dit uit en hou die vel na haar uit.

Hulle ruil papier. Suurlemoenmeringuetert, staan daar op sy papier.

Sy kyk verras op en sien hy sit haar en uitlag.

“Ek het Helena uitgevra oor jou,” beken hy.

“Dis kul!” raas sy.

Hy skud sy kop. “Goeie voorbereiding.”

“Goeie voorbereiding vir wat?” vra sy.

“Kan jy nie agterkom hoe jy my fassineer nie? Ek betrap myself keer op keer ek sê goed vir jou sê wat ek nie sommer vir mense vertel het nie. Ek kry jou nie uit my gedagtes nie.”

As hy haar na hulle gesprek in haar huis wind-uit gehad het, het hy haar nou omtrent bewusteloos.

“Wat?”

“Hoekom dink jy is ek vanoggend hier?”

“Want jy wil aan my karring oor Armand en Helena.”

Hy skud sy kop. “Ek wil jou beter leer ken.”

“O, maar jy weet alles van my af. Ek het swanger geraak by die hel weet wie en nou is ek ’n gefrustreerde sielkundige, omdat ek te bang is om te leef.”

Hy lyk onthuts. “Is dit hoe ek dit laat klink het?”

Sy kruis haar arms.

“Die middag toe ek by jou huis was, was ek bekommerd en pynlik aan vry met die doringdraad. Ek is nie altyd so onaangenaam nie,” sê hy en sy kuiltjieplooi keep diep in sy een wang in. Sy jeuk om haar vingers saggies daardeur te trek.

“Wat haat jy?” lees hy die volgende vraag.

“Gaan ons regtig aan met die twintig vrae? Wat haat jy?” speel sy vir tyd.

“Oneerlikheid,” sê hy sonder om te dink en sy mond verstyf voordat hy ’n hap van sy roosterbrood vat. “Wat haat jy?”

Dat haar kind ongelukkig is. Dat sy haar ouers en haarself teleurgestel het. Dat sy nie haar ideale kon verwesenlik nie en soos ’n derderangse matchmaker werk as sy regtig ’n goedopgeleide sielkundige wou wees. Dat sy uitgelewer voel dat die man oorkant haar dit so gou kon agterkom. Dat sy weet sy behoort hom op ’n afstand te hou, maar nie lus is nie.

“Klapper.”

“Klapper?”

“Coconut. Ek eet nie ystervarkies nie, drink nie pina coloda nie, strooi nie klapper oor my kerrie en rys nie. Ek háát dit.”

“Goed gespeel, Cornelia Margaretha Janssens.”

Sy erken sy kompliment met ’n hovaardige kopknik. Hy gaan nie so maklik verby haar skanse kom nie.

“Wat is vir jou die mooiste ding in die wêreld?” is sy volgende vraag.

“As ek sien hoe ’n verhouding begin blom tussen twee mense wat ek geweet het goed gaan klaarkom en ek sien hoe elkeen se persoonlikheid oopvou soos ’n blaar in die son.”

Hy gaan dit nie regkry om haar te laat glo sy maak op haar manier ’n verskil in mense se lewens nie.

“Soos jy broer en Trys?”

“My broer gaan ’n uitdaging wees. Hy is pas deur ’n egskeiding en is ’n leeu met ’n seer poot. Wat is vir jou die mooiste ding in die wêreld?”

“’n Vrou natuurlik. My meisiekind wat nog so vars en onskuldig is.” Hy bly lank stil. “Jy.”

Haar maag maak ’n walletjie toe sy blou-oog elektriese stroom haar weer tref. “Daar is kraaispoortjies langs my oë en rekmerke op my maag.”

“Jy is nog steeds pragtig met jou groen oë en blink, bruin hare, ’n regte hibiskusvrou,” sê hy.

“Aits, jy ken al die tricks in die boek. Jy het nie nodig om na Soulmeet toe te kom nie. Met sulke sjarme wed ek die vroumense lê agter jou aan.”

Hy glimlag lui.

“Hibiskusvrou?” wil sy weet.

“Toe ek jou die eerste keer gesien het, was jy die enigste een wat rooi aangehad het. Die kleur pas jou.”

“En wat is die uitslag?” vra sy om haar ongemak oor sy komplimente te verbloem. “Wat gaan jy volgende week aan die groep terugrapporteer?”

Sy oë vonkel. “Dat jy potensiaal het, maar dat ek nog afsprake moet jou sal moet hê om seker te maak. En hier is nog baie vrae wat ons moet deurwerk.”

“Ek dink nie dis ’n goeie idee nie, Theuns,” keer sy en kyk weg.

“Ek weet. Ek sal jou nogtans graag weer wil sien.”

Hy bly so lank stil sy kyk uiteindelik op en sy gesig is baie ernstig.

“Hoekom?” vra sy.

“Ek hou van jou. Ek dink jy hou van my. Kom ons leer mekaar beter ken.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s