Van skrywers, die liefde en romanses gepraat … Marlies Haupt

5

Die jaarlikse Romanza-Valentynsaand wat deur die Moot-biblioteek en LAPA Uitgewers aangebied is, het vir groot vermaak gesorg …

Woensdagaand 18 Februarie het skrywers, uitgewers en lesers by die Moot-Biblioteek in Gezina bymekaar gekom om saam te gesels oor romanses, die liefde en natuurlik helde en heldinne. Sam Cooper, bemarker van die Tswane munisipaliteit-biblioteke, het as gespreksleier opgetree. Drie skrywers, Joléne de Koningh, Tosca de Villiers en Susan Olivier het die gehoor met hulle kwinkslae en snaakse antwoorde vermaak.

Valentynsaand

Tosca de Villiers het vertel dis nie maklik om liefdesverhale te skryf nie, maar sy skryf omdat sy nie anders kan nie – dit is vir haar ’n lewensnoodsaaklikheid. Haar tweede romanse in die Romanza-reeks, Drome word waar, het in Januarie verskyn. “Ek skryf in die kar teen die stuurwiel terwyl die kinders netbal- en balletklasse het.”

Lien Roux-de Jager, is bekend as skrywer van spanningsverhale. Sy wou graag haar twee skryf-‘lewes’ van mekaar skei en daarom skryf sy liefdesverhale vir die Romanza-reeks onder die naam Joléne de Koningh. Haar romanse Perfek vir haar verskyn in April. Lien hou van laat slaap en staan graag 10:00 se kant op. Sy begin eers skryf ná sy aangetrek en grimering aangesit het.

Tosca trek egter nie aan nie. Sy skuif doodtevrede 04:00 soggens in haar slaapklere agter die lessenaar in en begin skryf. Sy meen dis vreeslik as haar held en heldin rusie gemaak het en sy wil hê hulle moet vrede maak, maar dan lui haar wekker wat beteken dis tyd om aan te trek vir haar werk.

10996507_928445370522842_6413790886755161274_n

Lien meen skryf is amper soos heilige praktyk: “Dit dryf my teen die mure uit as iemand my onderbeek.” Sy kan nie saans vroeg inkruip nie, want sy kyk eers crimi-reekse op die TV. Tosca en Susan  is egter ‘early birds’ – jy mag hulle nie saans 22:00 bel nie, want dan is hulle al in die bed.

Susan is die skrywer van ondermeer die romanses Troukandidaat en Onbeplande liefde.  Sy werk voltyds by ‘n prokureursfirma en beskou haarself as ‘n ongedissiplineerde skrywer. Sy moet tussendeur haar werk tyd maak om te skryf. En dít kan sy net doen wanneer die groot ‘skryflus’ haar beetpak. Tog gaan sy soggens vroeër werk toe sodat sy vir ‘n uur kan skryf terwyl sy ‘n lekker koppie koffie by ‘n koffiewinkel geniet.

ps1

Tosca sê sy is tevrede as sy 1 300 woorde per dag skryf. Sy skryf ook altyd eers te veel – sowat 80 000 woorde en dan begin sy sny tot sy die 40 000 woorde het wat vir ’n Romanza vereis word. Om een boek te voltooi, sal haar om en by ’n jaar neem omdat sy net deeltyds skryf.

Vir Susan neem dit so ses maande om ‘n romanse te voltooi. Lien skryf weer sommer terselfdertyd aan ’n paar boeke, maar sê haar spanningsverhale neem sowat een jaar en haar romanses so drie maande om te voltooi – mits sy voltyds daaraan skryf.

ps2

Hier het die skrywers die gehoor lekker laat lag. Lien antwoord vasbelote: “Jaaaa.”

“Want”, beaam Tosca, “soms roep ’n kortverhaal en dan moét jy hom eers skryf.”

Susan verskil egter hieroor. Sy sê sy moet eers één verhaal afhandel – anders raak die verhale en karakters deurmekaar.

Tosca verduidelik dat ’n nuwe karakter soms onverwags sy of haar opwagting maak. Sy bêre die persoon dan mooi in ’n lêer want dan kry sy of hy ’n plekkie in haar volgende boek.

ps3

Tosca het vertel sy knie daai karakters “terug in die verhaalskottel in”. “As karakters nie wil ingaan nie, dan gaan stap ek of ek kook.”

Volgens Lien is dit belangrik om te weet waarheen jy as skrywer met ’n verhaal gaan, maar sy meen: “Die karakters maak net soos hulle wil!” Daarom maak sy ’n karakterskets van elkeen van haar karakters en hulle kry ook elk ’n volledige CV. Dit help haar om kop te hou wanneer karakters besluit om baas te speel.

Almal het saamgestem toe Tosca noem dat ’n Romanza uniek is in die sin dat die skrywer vooraf van een aspek doodseker is: Naamlik, jy weet die held en heldin moet bymekaar uitkom.

ps6

Tosca het gemeen daar is verskillende geesgenote vir verskillende fases van ’n mens se lewe en beklemtoon graag dat liefde altyd ‘n kans het. Susan glo baie mense geniet ’n tweede gelukkige huwelik terwyl sommige mense nooit ware liefde vind nie.

Alda Geers, ’n Romanza-skrywer wat ook die Romanza Valentysnaand bygewoon het, het gesê dat sy in romanses die gevoel kry: die held en heldin het hulle beste pasmaat gekry. Die leser moet weet die held en heldin is mekaar se enigste.

ps4

Hier het die skrywers soos ‘een man’ geantwoord: “Voorhuwelikse seks.” Hulle meen die held en heldin in moderne romanses het beide meer lewenservaring en die heldinne is sterk en onafhanklik.

Lien het vertel die moderne skrywer is baie gemakliker met sensualiteit terwyl dit in vroeër jare se romanses ’n groot taboe was. Volgens Susan is die hedendaagse heldin vry en sy het dikwels ’n loopbaan. “Sy is iemand – ‘n entiteit op haar eie.”

Die uitgewer, Charlene Hougaard, het gemeen een van die grootste verskille is: “Die heldin val nie elke vyf minute flou nie.”

ps5

Sam het die aand afgesluit met die gewaagde vraag: Hoe voel die skrywers oor die benaming ‘hygroman’ wat so dikwels aan romanses toegeskryf word?

“Ek haaaaaat dit,” sê Susan. “Oeh nee siesa!” skree Lien. En Tosca antwoord: “As ’n leser dit so wil noem, pla dit my nie. Solank hulle die boeke lees, is ek gelukkig.”

Alda Geers is egter van mening dit skep die wanindruk dat romanses slegs oor seks gaan. En almal (uitgewers, skrywers en die gehoor was dit met haar eens). Wanneer die held en heldin begin ‘hyg’ is die verhaal klaar, wel, ten minste klaar op papier. Daarna moet die held en heldin nog die “droom leef” soos Tosca dit beskryf het. “En dis nie altyd so maklik of rooskleurig soos in romanses nie.”

54 55 56

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s