SONSKYNMEISIE – Serena Steyn

Sonskynmeisie

Shevonne kies met sorg ‘n kort wit denimrompie en suurlemoengroen bloesie met ‘n mooi halslyn vir haar afspraak met Martin. Toe glip sy haar groen armbande en bypassende oorbelle aan, en trek haar mooiste paar sandale nader. Sy huiwer met haar voet half in die sandaal. Wat ‘n klomp moeite vir pannekoek eet. Voorheen sou sy in haar ou denim en T-hemp by Martin opgedaag het, haar hare waarskynlik in twee stertjies vasgebind.

Sy het hare gewas en dit hang glansend oor haar skouers. Sy grimeer met sorg en frons vir die troebel oë in die spieël. Sy is nie meer dieselfde nie. Vir die eerste keer vandat sy by Martin gaan kuier, haal sy diep asem voor sy by die spieël wegdraai. Sy maak dubbel seker daar is nie lipstifmerke op haar tande nie. Dit voel kompleet asof sy op ‘n eerste afspraak gaan.

Martin maak die deur oop met ‘n kaal bolyf en die palet in sy hand. “As jy so vroeg is?” vra hy verbaas. “Ek dag ons eet eers drieuur pannekoek.”

Shevonne skuif by hom verby en gaan sit op haar gewone stoel. Sy kruis haar lang bene, terwyl sy seker maak dat die rompie darem nie te hoog optrek en onbetaamlik been wys nie. “Ek het jou lanklaas gesien. Toe besluit ek om sommer te kom kuier ook.”

Hy bekyk haar en fluit dan saggies. “Jy is uitgevat, nè? Gaan jy iewers heen?”

Shevonne glip van die stoel af sonder om te antwoord en gaan staan voor die verfdoek. Die skildery is van René op ‘n atletiekbaan. Die foto staan in ‘n raampie op die tafel langs sy verfgoed.

“Dis ‘n geskenk vir haar ma,” sê Martin agter haar.

Toe Shevonne omdraai, is sy teen hom. Sy onthou haar ma se woorde en drink hom in; die gespierde bors en arms, die wye ferm mond en sterk ken. Sy lig haar hand en raak aan die hare wat van die middelpaadjie af om sy gesig val. Dit is sag. Sy sjerriekleur oë raak intens en hy sit die verfkwas langs hom op die koerantpapier neer en vee sy hande aan die lap af.

“Sien jy iets waarvan jy hou?” vra hy sag.

Haar vinders gly oor sy kuiltjies en raak aan die mooi neus voor sy haar hand laat sak. Haar asem kom meteens hortend en sy wil wegdraai, maar hy vang haar arms vas. Sy hande gloei warm teen haar kaal boarms. “Jy het my nog nie geantwoord nie.”

Sy probeer verleë wegtrek, maar hy hou haar sag, dog ferm vas. Sy frons vir hom en klap haar tong, bewus daarvan dat daar ‘n blos op haar wange lê. “Ek het nou die dag by Mamma gekla oor René wat jou so annekseer, toe sê sy jy is nie meer die speelmaat van langsaan nie, jy het grootgeword. Ek kyk maar net na jou met volwasse oë. Dis al.”

Hy lag sag. “Toe is die uitvattery al die tyd vir my. Wat is jou slotsom toe?”

“Dis my saak. Martin, los my!”

“Nie voor jy geantwoord het nie.”

“Ek…” sy lek oor haar lippe. “Jy is vir my soos ‘n broer,” sê sy floutjies.

Sy slanke hande begin haar boarms saggies masseer en beweeg op na haar nekholtes toe. “Is ek jou broer?”

“Natuurlik nie. Ek…” Haar hande beweeg vanself na sy kaal bors toe. Die vel is warm en soepel onder haar vingerpunte. Sy kyk verward op na hom. “Nee. Nee, jy is nie.” Haar vingerpunte dwaal na sy ferm lippe.

Hy vang haar hand in syne vas en draai dit om. Sy hare ruik skoon na sjampoe en kielie haar neus toe hy afbuk en haar pols tydsaam soen. Rou skok ruk saam met vlamme van begeerte deur Shevonne. Sy knip haar oë vinnig. Dan draai Martin weg en tel weer die lap op.

“Hoe was jou naweek?”

“So-so.” Sy klink uitasem en stap wasbak toe om water in ‘n glas te gooi. Toe drink sy dit in een teug leeg en haal diep asem terwyl sy dit op die wasbak neersit.

Martin hou haar steeds dop met gesluierde oë en maak sy verfkwas skoon. Dan bêre hy die kwas en trek sy hemp aan.

Iewers hoor Shevonne kinders lag en die bure se hond blaf. ‘n Oomblik in die ewigheid. Sy gaan sit weer. Haar knieë voel lam. Niks sal ooit weer dieselfde tussen haar en Martin kan wees nie.

Hy tik op die kombers langs hom. “Kom lê hier by my,” nooi hy, en daar is ‘n toon in sy stem wat sy nog nie gehoor het nie.

Sy skuif tot langs hom en kyk op na hom. “Waarmee is ons vandag besig hier?” Sy trek ‘n streep oor sy neus en laat haar vingers teen sy wang en ken afgly. Sy kan die bewing nie uit haar stem hou nie. “’n Soort eksperiment?”

“Hm.” Hy leun vorentoe en soen haar sag. “Wetenskap is mos my vakgebied.”

“Martin…” Vrees oorspoel haar en sy klou aan sy skouer vas. “Ons beweeg op ‘n terrein wat ek nie ken nie. Moet ons oor die lyn van net jeugvriende wees trap? Ek is bang…”

“Dat jy die bekende gaan verloor?” Hy soen haar weer, en hierdie keer glip haar hande om sy nek en soen sy hom terug, weer en weer, sodat hul lippe kleef en hy later wegtrek. Sy asem jaag en sy oë is donker. “Het ons nie gistermiddag reeds daardie lyn oorgesteek nie, Shevonne?”

Sy druk haar hand voor sy lippe toe hy weer sy kop laat sak. “Wat van René?”

Hy soen haar hand. “Wat van Dieter?”

Sy glip haar hand weer agter sy nek in. Hy skuif sy hande onder haar in en trek haar hard teen hom aan terwyl hy haar mond met syne gevange neem. Trillings van erotiese plesier spoed deur Shevonne se hele liggaam. Sy stoot haar hand onder sy los hemp in en vryf dit behaaglik teen sy rug op. “Jou vel is warm en ferm,” prewel sy. “Ons speel kamma-kamma vandag, ek en jy. Asof ons die eerste keer saam uitgaan, asof daar geen komplikasies is nie. Martin, jy soen lekker.”

Hy lag en sy hoor dat hy ook uitasem is. “Dis nog vroeg vir ‘n vrysessie,” terg hy, “maar aangesien daar nog so min mense hier is…” Hy soen haar weer op die punt van haar neus en toe weer op haar lippe.

Shevonne knibbel sy lip en stoot haar hande deur sy hare. Sy ken hom as soveel jare, en sy het nooit geweet sy mond smaak na heuning nie. Sy nek is warm en sterk onder haar hande.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s