#FBF Verlede Vrydag se Rooi en Roekeloos

Kristel Loots se jongste roman, Katerina se mojo, is verlede week rooi en roekeloos bekend gestel. Hier vertel sy van dié vanuit haar perspektief!

kristel-loots-415-01-29-mojo_006-epos

So net na ses stap ek toe in my roekelose rooi romp, in die bestek van ’n middag spesiaal vir die geleentheid teen ’n stink spoed aanmekaargeslaan, en ’n rebel-rooie blom, by die Chinese winkeltjie gekoop, op my ample bosom die Rooi Paartie wat vir Katerina se mojo gereël is, tegemoet. Daar is toe al klaar genoeg mense feestelik vergader vir ’n moewiese paartie en alles is rooi en rumoerig.

kristel-loots-7

Rooi ‘punch’ met genoeg slaankrag om mindere mense van hul voete af te kry en rooi goetertjies en dingetjies in bakke om die kake aan die kou te kry.

Binne ’n halfuur wemel dit. Daar het glo verrassend baie mense onder Marieta se aanvoering/uitnodiging/dreigmente/aandrang/armdraai (sy is goud werd!) ge-RSVP. Vir my lyk dit asof almal opgedaag het en hul bure saamgebring het, die meeste in rooi getooi. Selfs doktore en professore en groot kokkedore. En mede-skrywers soos die sjoe-mooie Nanette van Rooyen en ons eie liewe Elsa Winckler. Eureka van Sasnev kom gesels en ST Potgieter, die skrywer en sielkundige, kom groet ook. Lede van Marieta se fênsie-literatuur-agtige leeskring is daar en ook van haar leeskring vir gewone mense en ander gewone en ongewone mense, van gewone en ongewone leeskringe.

Toe daag onse Elias Nel ook op, skrywer en ATKV-projekorganiseerder en Koning van die Rieldans. Izak de Vries, Lapa se ywerige bemarker, het hom o.a. ook gelukgewens met die toekenning van die Departement van Kultuursake en Sport in die Wes-Kaap vir sy nasionale bydrae tot taal en kultuur, en erfenis. Elias en die ATKV het die rieldans, wat aan die uitsterf was, laat herleef.

(Miskien moet ons dit met Volkspele ook doen? Of dalk nie?)

Het al voorheen saam met Elias opgetree, hou baie van hom en hy het nogal erg feestelik gelyk ook. ’n Formidabele figuur. Hy was so goed met die vrae wat hy stel, so rustig en tog ook baie, baie pittig.

Wat ek so van Elias waardeer, is hoe spontaan hy aan die lag kan gaan. Hardop en onbeskroom kop agteroor kan skaterlag. Sonder voorbehoude, sonder pretensie. Ek deel graag die kollig – en die donder – met onse Elias. Die gaste het hom en sy sêgoed baie geniet.

Dit was min of meer die gees van die aand, lig en luimig met baie lag. So hier en daar ’n ernstige oomblik, ook oor die boek, maar dit was few en far between. Die hele Valentyns, almal dra rooi-idee het eerder vir lighartigheid gevra as om te praat oor die diepere letterkundige betekenis van die simbole wat in Katerina se mojo na vore kom, dames en here. Die WAT??? WAAR??? Wanneer???

Izak was vreeslik dierbaar. Hy bons daar rond soos ’n vlooi, ewe rats en moeilik om vas te vat. ’n Vlooi laat hom ook nie inperk nie, maar skarrel en spring rond om sy ding te doen. Hy kan ’n mens altyd so ophemel dat jy jouself en jou boeke skaars herken.

HUH? Van wie praat hy nou? Van MY??? Luv dit natuurlik!

Hy was Vrydagaand behoorlik op sy stukke. Ons almal was. Die gaste was gaaf en gunstig, Marieta, in ’n mooi, rooi top, was ’n ‘baie besige by’, daar was kelnerinne en dinge, baie lekker kos. En wyn. Het ek gesê: en wyn?

bro

Elias het gesorg vir die beste ‘moment’.

Katerina se mojo se werkstitel was: Broccoli is nie blomme nie. En dis eintlik die tema van die boek, die sedelessie, wat mens dit ook al wil noem. Omdat Simon vir Katerina ’n mandjie broccoli laat aflewer het (sy het gewigsprobleme, of altans hy laat haar dit glo, goedbedoelend, hy is ’n dokter en wil hê sy moet gesond eet) en dieselfde tyd vir sy kollega, ’n poppie, tien jaar jonger en 20 kilogram ligter as Katerina, blomme laat aflewer omdat sy hom met ’n aanbieding gehelp het. Katerina het sy broccoli behandel met die misnoeë wat dit verdien het. M.a.w. dames en here, en veral here, as jy nie wil hê jou vrou moet haar mojo verloor nie, moenie dieselfde fout maak nie, of jy nou goed bedoel of nie, want: BROCCOLI IS NIE BLOMME NIE.

elias se broccoli en lapa se blomme

Toe pluk Elias met groot vertoon ’n mooie bossie broccoli uit, vir ‘my’, vir Valentyns. Waarna ek gelukkig gou genoeg op my voete kon dink om te vra: waar’s die vullisdrom, Elsa se Theo vir my een naderbring … sodat ek die broccoli daarin kon gooi. En die liewe, goeie gehoor skaterlag vir die onstigtelike manewales.

kristel-loots-11

Daar is boeke verkoop en ek moet teken en ai, al daai name, o.a. Aan: Arthurene en Ute. Hoe? Wat? En toe koop ’n Goodwood-vrou, wat ek al seker 30 jaar lank ken, ook ’n boek en ek dink: dankie tog, vir ’n wonder hoef ek nie te vra hoe spel mens jou naam nie. Die moeilikste van so ’n boek-tekenry is dat jy veronderstel is om aan die gesels te bly terwyl jy teken anders is daar ’n doodse stilte en almal kyk na jou hande. En myne is hoeka maar oud en gerimpeld, en dan maak jy foute. M.a.w. ek is toe heel ontspanne, uiteindelik. Want haar naam is … is… BES. Makliker kan mens nie kry nie, ’n graad eentjie kan haar naam skryf. B-e-s! Met ekstra swierige letters skryf ek toe: Vir BeTs. Almal se name met swoeg en sweet reg gespel, maar nie hare nie.

Die gaste het gemaal en geraas, soos by enige ‘normale’ lekker paartie en Marieta se letterkundige huis bewonder. Selfs die vloer sluit aan by haar passie vir boeke. Sommige van die gaste is boontoe om op die dak aan ’n drankie te teug en oor die gholfbaan uit te staar hoe die gras groei.

Ek raak aan die gesels met een van die stoere Stellenbosch-professors en slaan my naam met ’n plank, maar dis ’n ander storie vir ’n ander dag. Nogtans bloos ek toe. Om aan te sluit by die tema van die aand, ROOI en Roekeloos.

Opsommend: Nie ’n aand wat ek maklik sal vergeet nie.

Eintlik was alle betrokkenes so wonderlik. Dit laat my regtig eintlik ‘klein’ voel En dit, weet julle almal, is ek nie.

Ek kan maar net weer sê: dit was ‘huge’.

En toe alles verby is, toe nog net die bittereinders om die tafels geskaar sit en ek die aftog blaas, LOS ek Marieta se mooi huis net so deurmekaar vir wie weet wie om op te ruim en gaan klim in my kooi, moeg maar tevrede .

En dit, dames en here, was die Rooi en roekelose – en rumoerige – paartie.

Dankie, dankie, dankie Lapa en al jou dissipels.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s