MIDDERNAGMINNAAR –Dina Botha

Middernagminnaar

Die res van die nag was hopeloos te lank. Ná haar besoeker kon sy net nie weer aan die slaap raak nie. Sy het gelê en planne beraam oor hoe sy Aboe Dhabi so gou moontlik kan verlaat. Die nag het een sakie vir haar opgeklaar. Sy wou dit eers nie glo nie, maar die verbreekte verlowing en die redes daarvoor het tog haar ewewig versteur en haar selfbeeld erg beskadig. Om ’n skurk wat haar ’n bietjie aandag gee haar rebound te maak is meer as net malligheid. Dis klassifiseerbaar. Terug in Suid-Afrika gaan sy vir berading. Klaar!

Daar is weer donker maantjies onder haar oë en sy reik na haar sakkie grimering. Nee, wat sy eintlik nodig het om haar reg te ruk is ’n swem in die hotel se binnenshuise swembad.

Die water is heerlik verhit toe sy ’n rukkie later uit gewoonte eers die water se temperatuur met haar groottoon toets. Sy balanseer haar lyf op die randjie van die swembad en duik in. Toe probeer sy al die spinnerakke in haar kop wegswem.

Dis te vroeg vir enige van die hotel se ander gaste en sy gebruik die tydjie om oor haar sondes te peins. In die kluis in haar kamer is ’n kissie juwele wat by  ander se  wete nog gesteel is. Hoe op aarde gaan sy sonder om haarself weg te gee vir Hassan laat weet die juwele het op  wonderbaarlike wyse weer hulle pad teruggevind?

Sy draai op haar rug en hang in die water. Natuurlik het sy nog heelwat ander selfverwyt, soos hoekom sy in die eerste plek nie met die waarheid vorendag gekom het nie. Hoekom sy ’n skurk probeer beskerm. Daar is ook iets ernstigs verkeerd met haar redenasievermoë, dis seker.

“Mikayla?”

Mikayla ruk en trap water toe sy haar voete probeer vind. Haar hart klop gevaarlik vinnig. Vir ’n oomblik dag sy sy hoor die inbreker se stem, maar dis Alain wat op die rand van die swembad staan. Hy lyk ontevrede.

“Alain?” sê sy verbaas. Sonder dat dit die bedoeling was,  het sy naam oor haar lippe geglip. “Wat doen jy hier?”

“Ek het jou in jou kamer gaan soek, maar jy het nie geantwoord nie. Ek wou net bekommerd raak, toe ’n skoonmaker sê sy het jou by die hysbak gesien. Ontvangs het jou nie by die deur sien uitgaan nie en uiteindelik spoor ek jou hier op. Is iets fout?”

“Moet daar fout wees as ek swem?”

“As jy dit hierdie tyd van die oggend doen, ja.”

“Ek kon net nie langer slaap nie,” jok sy vlot. Sy swem kant toe. “Gee

asseblief my handdoek aan.”

Die frons tussen Alain se oë het nog nie verdwyn nie, maar hy draai nietemin weg om haar handdoek van die stoel af op te tel. Sy klim die trappies uit en wag dat die water solank teen haar lyf afhardloop. Toe hy terugloop, neem hy haar voorkoms in. Haar tweestuk bedek alles wat bedek moet word, maar soos die frons tussen sy oë groei, sou  mens dink sy staan in haar Evasgewaad voor hom. Nee, die man se oë sou seker van skok uitgespring het as hy ooit so iets moet aanskou.

Asof sy ’n kind is, hou hy die handdoek oop en sy laat hom toe om dit oor haar skouers te sit. Toe draai sy haar toe in die handdoek en loop na waar sy haar strandsak gelos het. Hy volg haar.

“Hoekom is jy so vroeg op soek na my?” En hoekom kyk jy steeds so kwaai na my? wil sy vra. Terwyl sy op ’n antwoord wag, vryf sy haar lyf droog. Sy raak selfbewus wat Alain, arrogante man wat hy is, gee skynbaar nie om dat sy weet hy kyk na haar lyf nie. En wat sien sy daar in sy oë? Seker nie bewondering nie, want Arabiese mans is nie veronderstel om met sulke oë na alleenloper-  Westerse meisies te kyk nie. Inteendeel, dis sonde om met begerige oë na enige meisie te kyk. ’n Duiweltjie kry ’n sitplekkie op haar skouer. Sy neem die handdoek en begin haar hare droogvryf. Onbeskaamd weet sy dat haar kurwes nou voor sy oë ’n dans moet doen. Sy vermy egter sy oë, want oogkontak kan ’n ander boodskap stuur, naamlik dat sy dit juis doen om sy aandag te trek.

“Maak gou, hier kom iemand!”

“Ekskuus?” vra sy en verstaan nie die dringendheid in sy stem nie.

“’n Kelner is op pad hierheen en jy wil tog seker nie hê hy moet jou só sien nie.”

“Nie hoe sien nie?” vra sy aspris.

“Mikayla, moenie my geduld beproef nie. Jy staan soos ’n verleidelike Lorelei jou hare en droogvryf. Jou … borste beweeg en … Dis onaanvaarbaar dat enigiemand jou so sien.”

Vreugdetjie of vies? Sy kan nie besluit wat die besitlike stemtoon aan haar doen nie. Sy kyk om haar rond en sien dat daar wel ’n kelner in die deur verskyn het, maar hy kyk net  rond vir leë glase en goed op die tafeltjies. Tydsaam draai sy die handdoek om haar lyf en steek die punt onder haar arm in.

“As jy my vrou was, Mikayla Schutte, sou ek jou nie toegelaat het om ooit só voor mense te verskyn nie. Inteendeel, jy sal vir seker ’n abaya dra, met ’n sluier. Net jou oë sou uitsteek.” Hy probeer nie eens sy ontevredenheid wegsteek nie.

Die iesegrimmigheid wat sy so pas weggeswem het, is danksy Alain se aanmerking terug. Dis presies wat sy vermoed het. Al het hy vir ’n paar dae sy opinie vir homself gehou, sal Alain sy vrou soos ’n  besitting behandel. “Maar ek is nie jou vrou nie. Die kans is skraal dat jy ooit daardie voorreg sal hê. Die dag as ek trou, sal dit nie met iemand wees wat my onder ’n sluier wil wegsteek nie. My wil degenereer tot ’n gesiglose en willose nonentiteit nie. My huwelik sal ’n vennootskap met gelyke regte wees.”

“Alles goed en wel met jou gelykeregtestorie, maar ’n vrou se liggaam is  daar om deur net haar man bewonder en geniet te word. Nie deur elke Jan Rap en sy maat nie. Of hou jy daarvan as wildvreemde mans jou bewonder?”

Is ’n belediging die man se teenargument? Sy hou van mans se aandag – ongeag of hy ’n tandlose woestynbewoner of ’n kelner in ’n hotel is? Tipies van ’n chauvinistiese Arabier. Hulle het ’n uiters beperkte visie. In Alain se geval geen. Mikayla tel haar drasak op en kyk hom reguit in die oë. “Ek weet nie wie jou as my sedebewaker aangestel het nie, maar die pos is nie vakant nie.” Sy draai om en stap weg. Alain weet dit nie, maar sy aansien het pas van hero tot zero geval.

Toe sy ’n rukkie later uit die kleedkamer kom, sit Alain by een van die tafeltjies. Hy het sowaar op haar gewag. Sy maak of sy hom nie sien nie en wil by hom verby loop. Hy vat haar aan die arm en trek terselfdertyd haar sak van haar skouer af. “Ek sal jou strandsak dra.”

Geen verskoning en geen apologie. Dalk is dit ook ’n sonde.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s