SY HART SE PUNT – Ida Bester

Sy hart se punt

’n Ruk ná die ontbyt sien Suné Naudé gaan sit sy oornagsak in die motor. Sy stap hom tegemoet toe hy terugkom.

“Naudé, ek wil graag my skoonouers se klere oppak om weg te gee. Ek weet nie wanneer ek weer op die plaas sal kom nie. Sal jy omgee as ek saam met Armand terugry?” Die ingewing het daar op daardie oomblik te binne geskiet, maar sy glo dit sal reg wees met Armand.

“Nee, doen gerus wat jy moet doen.” Sy mond stem in maar sy oë sein teleurstelling. “Ek het ongelukkig ’n afspraak met Dorette, wat môre weer vertrek, ander kon ek gebly het om te help.”

Suné pak vir hom van die vars muffins in ’n houer terwyl Armand die skottelgoed begin afdra. Sy vertel hom van haar plan en hy stem dadelik in. Hy staan met sy hande in die wasbak toe Naudé kom groet.

“Ek sal jou bel sodat ons syfers kan gesels,” bied Armand aan maar steek nie ’n hand uit nie.

“Ja, ons sien mekaar gou. Ek is bly ek het jou ontmoet.”

Weer eens lees Suné in Naudé se oë die ontkenning van sy woorde. Jaloers, hy is blykbaar jaloers op Armand, hoekom kan sy nie dink nie. Daar het niks gebeur wat hom kan laat dink sy het ’n romantiese verbintenis met haar swaer nie. Sy gaan sien hom by die motor af en stap terug na die kombuis. In die deuropening gaan sy staan en kyk uit oor die plaas terwyl die motor in die verte verdwyn. By die dam net onderkant die huis duik ’n paar windswaels kruis en dwars oor die water agter goggas aan. Hulle skaduwees vleg paadjies oor die blink oppervlak. Dit is alles pragtig, dis waar, maar vir haar ’n middel tot ’n doel.

Armand voel haar teenwoordigheid aan sonder dat sy ’n geluid gemaak het. Toe hy omkyk, sien hy Suné in die buitedeur staan met haar rug na hom toe. Die oggendson omlyn haar aanloklike profiel en verander haar haardos in ’n stralekrans om haar kop. Sy hart pols voelbaar in sy nek.

Voor hy hom kan keer, sê hy haar naam. “Suné.”

Sy draai stadig om. Die lig waarteen sy afgeteken staan verblind hom en haar gesig is vir hom net ’n skaduwee. Die jare smelt weg. Voor hom staan weer die jong vrou wat vir hulle die plaas kom wys het.

Suné se binneste trek op ’n kol toe ’n skor mansstem haar naam agter haar sê. Al haar sintuie moet opgeskerp wees deur die stilte wat sy staan en indrink het want in die stem hoor sy ’n warboel emosies vermeng met haar naam. Die verlange, frustrasie en uitgestelde hoop is so tasbaar soos ’n hand wat op haar skouer gelê word om haar aandag te trek.

Sy draai om, en sy weet dat iets in hierdie bonatuurlike oomblik onherroeplik gaan verander. In die doflig van die kombuis staan Armand na haar en kyk met ’n uitdrukking in sy oë wat sy herken. So het hy na haar gekyk in hierdie einste kombuis lank gelede. Of was dit gister?

Iets dring haar om nader te gaan. Sy moet voor hom gaan staan in en in sy oë kyk en seker maak dat sy reg sien.  Dat sy die lig in sy oë reg vertolk. Toe sy beweeg, kom hy ook nader asof getrek deur onsigbare bande. Dit voel vir haar asof sy na hom toe swem deur newels van half vergete sinne en emosies wat nooit verwoord is nie. Hulle het so min tyd gehad. Kan hulle dit ooit inhaal?

Elkeen se arms vind vanself hulle pad om die ander een se lyf. Die klammigheid aan sy hande veroorsaak koue rillings oor haar rug maar Armand se lippe brand in haar hals waar hy haar naam herhaal. Haar hand kruip na sy nek en lig sy kop na hare. Hulle lippe soek naarstig na mekaar Sy voel haar liggaam gewigloos word in sy sterk arms. Hy tel haar moeiteloos op en dra haar in die gang af.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s