JY IS MYNE ALLEEN – Petronel Louw

Jy is myne alleen

Anien draai vir die hoeveelste keer die sleutel in die aansitter. Niks nie. Die ding is morsdood. Dêmmit, deksels en verdomp! Dis nou die laaste ding wat sy nodig het. Moedeloos slaan sy die stuurwiel. Sy helder op. Leendert se meenthuis nie te ver nie van waar haar kar haar ordentlik in die steek gelaat het nie. Dan maar voetslaan soontoe en die insleepdiens van daar af bel. Koebaai, Mugg en Bean. Sy sug afgehaal. Sy het nou so daarna uitgesien om ʼn lekker koffietjie te drink en haar te verdiep in haar geliefkoosde skrywer se jongste roman, maar nou kan sy nie anders nie. Haar foon is ook onkapabel, die lugtyd is gedaan. Sy wou juis gou nog lugtyd gelaai het. Nou kan sy nie eers vir Leendert bel nie. Dis nou maar so. Kar en foon is kapoet.

Sy sug diep. Gelukkig het sy ʼn stel sleutels vir die meenthuis, want Leendert is nie tuis nie. Sy dink terug aan die laaste rampspoedige gesprek op die stoep. Dit was ook al vyf maande terug. Die Maandag daarna het ʼn bode met ʼn bos bloedrooi rose by haar werk opgedaag. ʼn Nota het dit vergesel met net een woord, ‘jammer’ daarop geskryf. Anien was teleurgesteld dat Leendert nie ʼn meer persoonlike liefdesboodskap gestuur het nie, maar gelukkig het hy sedertdien nie weer gekarring dat sy by hom moes intrek nie. Sy houding bekommer haar steeds. Dit is asof hy doelbewus ʼn afstand tussen hulle handhaaf.

Ai, sy skud haar kop. Hy werk te hard. Dit is seminare, werkswinkels, oortyd en wat nog alles. Vandag, so op ʼn Saterdag het haar arme liefling nog ʼn vergadering ook. Anien snork gebelg, dis darem verregaande wat van hom verwag word deur sy vennote.

Sy klim uit, haak haar handsak om haar skouer en begin flink aanstap. Haar oog vang die flonkerende diamant aan haar ringvinger. Leendert se keuse vir haar. Sy sou eintlik iets fyner verkies het, maar nou ja, die arme ding bedoel dit tog net goed. Wat sê hy altyd? Net die beste vir die vrou van sy hart. Wie kan nou teen so ʼn redenasie stry? Nou nie dat sy van opgesmuktheid hou of enigsins statusbehep is nie. Leendert het egter besluit sy kan net groei in hierdie proses dat hy besluit watter klere sy moet dra en hoe haar grimering moet lyk. Hy voer aan dat sy sy leiding vanuit ʼn manlike oogpunt benodig. Elke keer nog sodra sy meer natuurlik wil grimeer en minder formeel wil aantrek is sy houding so onsmaaklik dat sy dit eerder vermy. Dit is seker maar ʼn klein prys om te betaal om dit op sy manier te doen. Hy verkondig in elke geval aan wie ook al wil hoor dat sy smaak onberispelik is.

Mabet het al ʼn paar maal heel diplomaties met Anien daaroor probeer praat. Sy lag elke keer Mabet se bekommernisse weg. Leendert het haar lief en wil net die beste vir haar hê. Hy het tien teen een ʼn punt beet, want sy en Mabet het nog altyd plat op die aarde en ongekunsteld deur die lewe gegaan. Leendert voel ‘plat op die aarde’ is net ʼn ander beskrywing vir platvloers. Sy sug van verligting toe die meenthuis in sig kom.

Die meenthuis se elektroniese hek gly geluidloos oop. Anien drink die malsheid van die wintertuintjie in. Alles haar handewerk. Klein blombeddings oortrek met verskeie soorte lelies laat haar van genoegdoening sug. Sy kry nooit genoeg van die skoonheid van haar tuin nie.

Sy frons. Die voordeur is nie gesluit nie? Leendert het seker vergeet. Sy stoot die deur doelgerig oop, haar gedagtes by die insleepdiens. Dan verstar sy. Die guitige giggellaggie van ʼn vrou klink vanuit die slaapkamer op, gevolg deur Leendert se onmiskenbare diep stem. Sy stemtoon is intiem en sag. Anien kan nie hoor wat hy sê nie, maar gemeet aan die skreeulaggie wat volg en die ’Leendert, jou stouterd’-gilletje!, is dit allesbehalwe ʼn sogenaamde formele vergadering! Anien se voete kry ʼn wil van hulle eie en dra haar na die oop slaapkamerdeur toe waar sy versteend bly staan. Die toneel wat haar begroet laat haar vervaard na die kosyn gryp om nie om te val wanneer die skokgolf van realiteit haar tref nie. Daar lê haar verloofde en sy wulpse sekretaresse, Dee, in hul naakte glorie. ʼn Ongekende woede neem van Anien besit. Die lae, gemene luis. Sy maak hard en stadig keelskoon. Dee gil lank en skril. Leendert spring vervaard op en hou ewe kuis ʼn kussing voor hom.

“Anien. Liefling. Dis nie soos dit lyk nie. Niks het gebeur nie. Regtig nie! Ons het net gou ʼn lêer by die huis kom haal, en … .”

“Ag, asseblief, Leendert.” Anien staar hom en Dee vir ʼn oomblik minagtend aan, voordat sy stadig die verloofring van haar vinger aftrek en dit op die spieëltafel gaan plaas. Sy draai so waardig as moontlik om en marsjeer kop omhoog by die meenthuis uit.

Haar trane begin ongehinderd teen haar wange afstroom. Met haar hand teen haar mond teen haar mond gedruk, strompel sy deur die elektroniese hek. Dit is asof haar verstand nie  betekenis kan heg aan Leendert se verraad nie.

Buite op die sypaadjie draai sy stadig om en slinger die stel huissleutels met al haar mag en krag oor die heining tot op die stoepie. Die afstandbeheermeganisme spat in duisend skerwe. Soos haar hart. Verslae en verslaan staan sy vir ʼn oomblik besluiteloos. Haar kop voel dof, asof iemand haar van haar verstand beroof het.

Leendert verskyn in die voordeur en sy wag nie ʼn oomblik langer nie, haar voete kry vlerke. Sy hardloop so vinnig as wat haar bene haar kan dra en glip vinnig in by die kafee op die hoek. Sy staan hygend na asem en loer deur die glasvenster om te kyk of Leendert in aantog is. Die lae gespuis! Haar oog vang die Griek agter die toonbank wat haar besorg aanstaar. Ruk jou reg, maan sy haarself. Sy glimlag vaal vir die man en vra so gelykmatig moontlik in Engels: “’n R110-lugtydkoepon, asseblief?”

One thought on “JY IS MYNE ALLEEN – Petronel Louw

  1. Die Skryfbesigheid says:

    Baie geluk aan Petronel Louw met die publikasie van haar eerste Romanza. Sy het by ons ‘n kursus gedoen en ons is geweldig trots op haar. Mag hierdie die eerste van vele wees. Ek kan nie wag om dit te lees nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s