Die jongste boeke is hier!

Dit is weer sulke tyd! Ons is almal mal oor die vier Romanzas wat elke maand verskyn en hierdie maand kan jy ook vir Vic Nel ontmoet en lees hoe Catriona en Rudolf se liefde alles oorwin. Hier is die jongste titels.

MIDDERNAGMINNAAR – Dina Botha

Middernagminnaar

Mikayla Schutte verstaan nie hoe enige vrou alles in haar lewe kan opgee ter wille van ’n man nie. Tot sy Alain Khalifa in Aboe Dhabi ontmoet, en hy al haar vooropgestelde idees laat verkrummel.

 SONSKYNMEISIE – Serena Steyn

Sonskynmeisie

Shevonne besef dat sy haar jeugvriend Martin liefhet, maar het hom reeds vertel dat die mediakroonprins Dieter Elliott haar droomman is. Martin neem haar daarom nie ernstig op nie, al is daar ’n vonk tussen hulle.

JY IS MYNE ALLEEN – Petronel Louw

Jy is myne alleen

Anien vlug Bergoord toe ná ʼn liefdesteleurstelling. Daar spat die vonke tussen haar en Theo. Hulle besluit om te trou, maar selfs ʼn huwelik keer Della nie om Theo te probeer verlei nie.

SY HART SE PUNT – Ida Bester

Sy hart se punt

Suné en haar swaer is mede-erfgename van haar skoonouers se plaas buite Dullstroom. Hy was haar jeugliefde, maar is onverwags met iemand anders getroud. Daarom wil sy die plaas vinnig verkoop hê. Maar Armand het ander planne…

Goue dagbreek – Bets Smith

Goue dagbreek (2de Uitgawe)

Die oorlog en Gordon Fraser veroorsaak ’n oënskynlik onoorbrugbare kloof tussen Catriona en Rudolf Dreyer. Waar daar kort gelede nog liefde was, lees Catriona haat, afkeer en veragting in sy oë. Hy glo sy was vir sy twee broers se teregstelling verantwoordelik en sy kan hom nie bereik om hom van die teendeel te oortuig nie.

As Rooikruisverpleegster deurkruis sy die Boererepublieke in die ambulanstrein op soek na hom, in die hoop dat sy hom sal raakloop en van haar onskuld kan oortuig. Maar toe dit wel gebeur, vertel sy oë haar hy vermoed sy gaan hom weer eens verraai.

Sy ontdek hy het Rudolf Dreyer diep weggebêre. Hy is nou Ben van den Berg, skerpskutter vir generaal Botha. Soms kaptein Ben Sutherland, Kakie-offisier. En vir Catriona hou hy hom blind en doof, want Trevor Carruthers, haar pa se handlanger en regterhand is ’n immer teenwoordige faktor waarmee rekening gehou moet word.

Toe hulle paaie onverwags begin saamloop, kry sy ’n tweede kans. Deur haar bedrywighede as spioen vir die Boeresaak stel Catriona haar lewe in gevaar en hoop dit sal hom van haar lojaliteit verseker. Die oorlog moet egter eers vele kronkelpaaie met hulle lewens loop voor sy hom kan oortuig dat sy enigiets vir hul liefde sal doen.

Kodenaam Icarus – Henk Breytenbach

Kodenaam Icarus

Vic Nel wou net ’n normale lewe lei met ’n vrou, ’n kind, dalk ’n hond en ’n kat, maar die laaste dae van die Apartheidsregering het hom opgesaal met ’n klomp onsmaaklikhede wat sy gesin verwoes het, dinge waarvoor hy nooit om amnestie gaan pleit het voor die Waarheid- en Versoeningskommissie nie.

In die hede, twintig jaar later, verkeer hy in ’n staat van anonimiteit – geen bankrekenings, huisverbande of enigiets waar sy identiteit betrek sal word nie. Hy werk as gehuurde spiere vir enigiemand wat bereid is om kontant te betaal en nie te veel vrae te vra nie. Tot die dag toe Luka Flodiotis, een van die land se mees gesoekte misdadigers, met die verkeerde meisie moeilikheid soek. Vic het gereken hy leer die man net ’n les, maar slaan hom toe dood in die proses.

Met sy vingerafdrukke op die toneel, maak die polisie Vic Nel hul eerste prioriteit – maar hy verskyn ook op die radar van sy vorige betaalmeester, Eric Du Preez, die laaste Apartheidsdirekteur van Nasionale Intelligensie. Du Preez maak kontak met Nel en kry hom so ver om ’n ou geval weer oop te krap – Nel moet ’n voormalige lid van die Ierse Republikeinse Leër gaan opspoor. Die Ier het onder kontrak van die ANC die bom geplant wat die Helderberg in 1987 laat neerstort het en hy beskik oor inligting oor die betrokkenheid van ANC-grootkoppe wat die huidige regering tot ’n val kan bring.

In die proses moet Nel die polisie ontwyk, asook Du Preez wat ander planne met die Helderberg-inligting het. Sy dogter, wat hy twintig jaar gelede laas gesien het, beland ook in die spervuur en dwing Vic om uiteindelik sy verlede te konfronteer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s