Jy is my engel – Mari Roberts

Jy is my engel (Laeres)

Donna moes ingesluimer het, want sy ruk wakker toe iemand liggies aan haar skouer skud.

“Donna.” Die stem is sag, teer en baie bekend. Sy maak haar oë toe, oortuig dat sy droom. “Word wakker.”

Sy weet sy droom. Hoe dan anders? Greg Duncan het nog nooit so geklink nie. Sy maak haar oë traag oop toe haar hand warm toegevou word. Die groen oë met die swart wimpers is baie naby. Sy knip hare verwonderd. Dan tref die realiteit haar en dit voel of sy kan begin huil van teleurstelling. Het sy dan gedroom sy is op pad huis toe?

“Wat?” Sy kreun, sit regop en laat sak haar kop in haar hande. “Waar is ek?” Wat maak Greg hier by haar? As haar kop net nie dof gevoel het nie.

“Kom, die vliegtuig is gereed.” Die bevel is sag maar dringend.

Sy lig haar kop, staar verdwaas van hom na die huurmotorbestuurder wat haar met ʼn prettige glimlag in die truspieëltjie sit en dophou. Greg is blykbaar haastig, want hy haal die duffelsak langs haar uit en gooi dit oor sy skouer voordat hy na die groot staalgebou begin aanstap. Na ʼn paar treë kyk hy om. “Die taxi is betaal. Kom nou,” sê hy weer, hierdie keer ongeduldig.

Sy kyk na die huurmotorbestuurder asof sy antwoorde by hom soek, maar hy skud sy kop.

“Hy lyk haastig,” merk die man droog op. “Ek sal hom liewer nie laat wag as ek jy is nie.”

Sy trek haar skouers terug en skuif met ʼn onderdrukte skelwoord uit die motor. “Dankie,” mompel sy voordat sy die deur toedruk en Greg soos ʼn lam ter slagting volg. As sy net kan verstaan wat aan die gang is, maar dit is asof daar ʼn vakuum is waar haar kop moet wees.

“Waarheen gaan ons?” haar stem klink hol in die stil nag. Agter haar trek die huurmotor weg.

“Ons gaan huis toe,” antwoord hy oor sy skouer terwyl hy ʼn glasdeur vir haar oophou. Dat hierdie woorde haar ruk, skeel hom klaarblyklik nie.

Die moedeloosheid val soos ʼn donker kombers oor haar. Sy moes geweet het dit is te goed om waar te wees. Dit was net te maklik om tot hier te kom. Hoe hy haar opgespoor het, weet Donna sowaar nie. Dit is soos ʼn vlieg voel wat met ʼn vlieëplak bygekom is, dink sy. Sy is kilometers van die stad af, sy het geen vervoer tot daar nie en dit is donker nag. Watter ander opsies het sy as om Greg te volg?

Die glasdeur klap soos ʼn doodsvonnis agter haar toe. Behalwe vir twee netjiese rusbanke en ʼn tafeltjie met ʼn potplant en ʼn staanlamp, is die vertrek leeg. Teen een muur is foto’s van vliegtuie en teen ’n ander, langs nog ʼn deur, is die logo wat sy op die internet gesien het toe sy die vliegtuig bespreek het. Ten minste is sy op die regte plek, dink Donna wrang.

Sy kyk fronsend na Greg: “Hoe weet jy ek wou weggaan?” vra sy oorbluf.

Voordat hy haar kan antwoord, verskyn ʼn man met spierwit hare geklee in ʼn uniform.

Hy groet vriendelik en steek sy hand na Greg uit. “Ek is Doug, julle vlieënier. Ons is gereed om op te styg.” Blykbaar aanvaar hy dat Greg die een is wat die besprekings gedoen het en kyk nie eens in haar rigting nie. Hy hou die deur oop waardeur hy pas gekom het, ʼn stille uitnodiging dat hulle hom moet volg.

Donna het nie ʼn keuse nie. Sy trek die pet met ontsetting laer oor haar oë en volg die man met Greg op haar hakke deur ʼn kort gangetjie. Toe hulle deur nog ʼn deur stap, is dit in ʼn massiewe helder verligte vliegtuigloods in. Daar staan drie vliegtuie van verskillende groottes, asook ʼn helikopter met dieselfde logo op. Die vliegtuig naaste aan hulle, ʼn Gulfstream, as Donna moet raai, se trappies is laat sak. Hulle stap direk daarheen.

“Ontspan,” hoor sy Greg se stem toe hy haar elmboog vasvat. “Hy herken jou nie.”

As dit maar die rede was, dink Donna toe sy willoos teen die trappe opklim. Die kajuit is luuks met gemaklike sitplekke wat soos rusbanke lyk. Sy gaan sit soos ’n ou vrou in een van die sitplekke en maak haar oë toe.

ʼn Lugwaardin, netjies geklee in ʼn poeierblou uniform, verskyn kort nadat hulle opgestyg het en vra of hulle iets wil drink. Greg, wat in een van die ander stoele plaasgeneem het, bestel koffie vir hulle albei.

Hierdie man wat nou saam met haar gaan koffie drink, verwar Donna al hoe meer. Vandat hy vir haar begin werk het, het sy hom nog nooit, nie een dag, gesien eet of drink nie, besef sy skielik.

Sy skuif sodat sy by die venster kan uitkyk. In die ooste begin die lug rooi raak, maar onder haar sien sy klein groeperings liggies wat ʼn aanduiding is dat hulle oor ʼn dorpie vlieg. Sy sluit haar oë, probeer verbete die ontnugtering en teleurstelling in haar dooddruk. Sy is ʼn gevangene van haar eie omstandighede. ʼn Voël in ʼn goue kou, en daar is niks wat sy daaraan kan doen nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s