Haar trouman – Frieda van der Westhuizen

Haar trouman (Hoëres)

“Eeek!” Leila skrik haar yskoud. ’n Gil bars uit haar keel en sy wip vinnig agteruit. Reg voor haar in die slaapkamer staan ’n reus van ’n man met sy rug na haar gekeer. Hy is bruingebrand, breedgeskouerd en poedelnakend!

Vinnig soos die pik van ’n kobra skiet sy hand uit na die handdoek op die bed en swaai hy dit om sy kaal lyf voor hy omdraai. Smal, sexy heupe verdwyn agter die skild.

“Wat de hel?” Sy gesig is ’n toonbeeld van ontsteltenis toe hy na haar kyk. “Wat soek jy hier?”

Leila begin onbeheersd giggel en sit gou haar hande voor haar mond terwyl sy hom op en af bekyk.

“Wat staan jy nog daar? Skoert uit die kamer!” beveel hy kwaai.

Leila besluit agteruitwyk is op die oomblik die veiligste opsie toe sy die konsternasie op sy gesig sien, en maak haar gou uit die voete. Wie op aarde is hierdie kaalbasman wat Emma se stortgeriewe sommer so goedsmoeds gebruik terwyl sy weg is? Leila haas haar verbyster terug na die sitkamer.

Sy is skaars daar toe hy in die deur verskyn, dié keer meer fatsoenlik in ’n blou jean wat laag op sy heupe hang. Sy hare is ligblond verbleik deur die son en die hare op sy bors steek af teen die sonbruin van sy vel. Hy is duidelik briesend, want die vonke spat uit die karamelbruin oë.

“Klop jy nie voor jy in ’n huis instap nie? Magtig, man, om mens se privaatheid so in te dring!” spu hy die woorde woedend uit.

Leila vererg haar bitterlik vir die vent. Wie is hy om háár te kom aanval oor privaatheid skend?

“Moenie vir my kom skree nie. Ek is die onskuldige een hier.” Met sy groot gestalte toring hy oor haar, maar Herkules moet voorwaar nie dink sy gaan terugstaan vir hom nie. Sy laat haar nie boelie nie.

“Waarom gaan stort jy nie in ’n hotel of iets as jy nie ’n beter plek het nie?” wil sy weet.

“Wag ’n bietjie, dit is . . .” begin hy weer.

Hy bly verbaas stil toe die Hallelujakoor skielik uit die sofakussings opstyg. Leila gryp die selfoon uit haar handsak.

“Hallo, Leila, hoe ver is jy nou? Is jy al by die huis?” verneem Emma toe Leila die foon teen haar oor sit.

“Ja, ek is al hier, Emma, en hier is ’n kaal man in jou huis.”

Emma bly ’n oomblik verstom stil voor sy weer praat. Haar stem het ’n oktaaf gestyg toe sy vra: “ʼn Wátseding? Leila? Het jy van daai bottels wyn wat jy saamgeneem het, op pad soontoe oopgemaak? Waarvan praat jy, man?”

“Ek is so nugter soos die pous, Emma,” verseker Leila haar tante. “Ek sê jou ek het ’n kaal man in jou kamer aangetref.”

“Wat de joos gaan hier aan? Met wie praat jy,” vra die vreemdeling van die ander kant af. Hy gee ’n tree vorentoe en steek sy hand uit asof hy die selfoon by Leila wil neem. Op daardie oomblik kom Waldi by die deur ingehardloop. Toe hy sien die wildvreemde man maak ’n dreigende gebaar na sy ounooi, korrel hy en storm op hom af. Die man steier met ’n swetswoord agteruit en probeer die hond keer.

Deur die pandemonium kom Emma se stem skril oor die foon. “Leila, is jy orraait? Wat gaan daar aan?”

“Ek’s oukei, Emma,” verseker Leila haar gou. “Ek bel jou nou terug.” Sy verbreek die verbinding en gryp na Waldi om hom af te keer. Toe skel sy driftig op die man: “Jy skop nie na my hond nie, hoor!”

“Nou maar hou dan die ongedierte van my af weg.” Hy klits die sand wat Waldi se pote op sy broek gesmeer het omslagtig met die agterkant van sy hand af. “Was dit Emma van langsaan met wie jy nou gepraat het?” vra hy toe hy opkyk.

Leila word doodstil. “Wat bedoel jy met ‘langsaan’? Emma het baie uitdruklik vir my gesê sy bly in Seemeeustraat nommer dertien.”

“Dis reg, ja, maar wat soek jy dan by my?”

Is die man heeltemal simpel of probeer hy maar net sy stert uit die moeilikheid bluf? Hy moet tog nie dink sy is onder ’n kalkoen uitgebroei nie, sy val nie vir sy slimstreke nie. Sy is seker Emma bly alleen in die huis, en sy het ook die adres baie duidelik vir haar gegee voor sy gery het.

“Hierdie huis is nie nommer dertien nie,” verklaar hy beslis. “Die nommer is op die muur geverf, kom kyk self.”

Toe hy omdraai en in die rigting van die voordeur loop, volg Leila hom ergerlik. “Ek het die huisnommer van die straat af gesien,” sê sy kwaai. “Ek kan lees, hoor!”

Voor die huis kyk sy op na die swart syfers wat op die muur geverf is. Haar hart sak tot in haar skoene. ’n Ligte briesie roer die blare van die kanferfoelie oop en sowaar, wat vir haar nes ’n dertien gelyk het, is nou onmiskenbaar ’n vyftien!

Leila weet aanval is altyd die beste verweer. “As jy jou rankplant so netjies soos jou grasperk gesny het, sou so iets nie gebeur nie,” snou sy hom toe. “Moes ek nou hier gestaan het tot die wind die blare wegroer?”

Sonder meer draai sy om en stap die huis binne om haar handsak te gaan haal, met Waldi kort op haar hakke.

“Hou daai dierasie uit my huis uit,” waarsku die man onverbiddelik. “Kyk hoe lyk die matte reeds.”

Leila kyk af na die sandspore wat Waldi orals gelos het. “Liewe hemel, dis ’n bietjie seesand, nie vulkaniese lawa nie.” Sy vryf-vryf met haar voet oor ’n kol tot die sand in die dik wol van die mat verdwyn. “Daar!” verklaar sy tevrede.

Sy een wenkbrou lig sarkasties toe hy sê: “Die feit dat jy dit nie kan sien nie, beteken nie dit is weg nie.”

Leila staar hom verstom aan. Die man is ongelooflik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s