Drome word waar – Tosca de Villiers

Drome word waar (Hoëres)

“Wanneer laas was jy vir ’n behoorlike mediese ondersoek?”

“Nog nooit nie. Ek bly sover moontlik van dokters en hospitale af.”

Leon lig haar hand op, soek na die polsslag. “Jy is yskoud.” Hy voel aan haar voete, glimlag toe hy die heldergroen toonnaels sien. “Verf jy jou naels om by jou oë te pas?”

Maryke voel hoe sy bloos, skielik spyt dat sy en Leslie Saterdag so verspot was.

Leon loer by die gordyn uit. “Suster, sal jy asseblief vir juffrou De Wet ’n kombers bring?”

Hy kom staan weer langs die bed en druk op haar maag. “Het jy hier seer?”

“Ek makeer niks.”

“Nou hoekom is jy dan op die teaterlys vir ’n gastroskopie?”

“Dit is die spul by African Geographic. Hulle wil hierdie simpel spul toetse en goed gedoen hê voordat hulle my Kigali toe stuur.”

“Om wat daar te gaan doen?”

“Foto’s te neem van die gorillas en die mense en die landskap.”

“A, nou onthou ek waar ek jou gesien het. Jy het nou die aand die foto’s by ons klub beoordeel.”

“Dit kan wees, ek beoordeel dikwels. By watter klub is jy?”

“AFO.”

“O, ja, dis mos julle wat hoofsaaklik voëls en diere afneem.”

“En jy was glad nie beïndruk met my fantastiese leeufoto nie.”

Maryke sug. Ek is al so moeg vir foto’s van leeus dat ek self kan begin brul, dink sy. Dit voel vir haar elkeen wat ’n kamera kan hanteer, reken as hulle ’n leeu afneem, moet dit ’n goeie punt kry.

“Ek sou baie graag jou mening oor my foto wou hê. Jy het die aand baie insiggewende kommentaar gegee maar my foto het nie voor die afsnypunt op die skerm gekom nie.”

Hy druk weer op haar maag: “En hierso? Is dit seer?”

Maryke beur regop. “Al wat jy moet doen, is om daardie vorm in te vul sodat ek kan huis toe gaan en my tas pak vir Rwanda.”

“Miskien onthou jy die foto? Dit was een van ’n leeumannetjie en ’n wyfie in die Serengeti?”

Maryke maak haar oë toe en dink. “Ja, ek verbeel my ek onthou die foto. Goeie potensiaal gehad, maar heeltemal verkeerd gemaskeer. As ons van dieselfde foto praat.”

“Verkeerd gewat?”

“Gecrop – die Afrikaanse woord vir maskeer.”

’n Verpleegster skuif die gordyn oop. “Hier is die kombers, Dokter.”

“Dankie, Juffrou.”

Sy gooi die kombers oor Maryke se bed, maak seker dit is mooi ingevou om haar voete.

“Ek dink juffrou De Wet is baie gespanne oor die prosedure en ek gaan vir haar ’n spierverslapper en kalmeermiddel voorskryf. Gee die inspuitings so gou as moontlik.”

“Dit is nie nodig nie!” protesteer Maryke. “Doen net die prosedure en vul die vorm in dat ek gesond is. Ek wil nie ingespuit word nie. Ek makeer net mooi niks.”

Leon kyk na die verpleegster. “Jy moet maar versigtig werk wanneer jy juffrou De Wet inspuit. Hierdie groenoog katjie het skerp naels.”

Die verpleegster knipoog vir Leon. “Ek sal versigtig wees, Dokter. Die storie oor rooi hare wat vurige humeure weerspieël, is nie ’n ouvroustorie nie.”

“Ek moet terug teater toe, maar as ek ’n kans kry, sal ek weer by jou kom inloer. Anders sien ek jou in die teater en as alles goed afloop, later vanmiddag in my spreekkamer.”

Hy trek die gordyne om haar bed oop en stap uit. Maryke tel die PIX-tydskrif op en maak dit oop maar lees nie. Haar aandag is vasgenael op Leon wat met een van die verpleegpersoneel staan en praat. Hy is presies die model waarna sy soek – ’n onbekende gesig en op ’n ruwe manier aantreklik, groot en sterk. Deesdae se modelle is meesal sulke pieperige metromanne. Sy sou darem baie graag wou weet hoe lyk hy sonder ’n hemp.

Leon sê nog iets vir die verpleegster en kyk dan na Maryke. Sy ruk die tydskrif tot voor haar gesig. “Sterkte,” groet hy en sy hoor hom oor die gladde vloer wegstap.

Heeltemal te vinnig is die verpleegster weer by Maryke. “Is diep in die twintig nie al te oud om nog so bang vir ’n inspuiting te wees nie?” vra sy en vee met iets nats oor Maryke se arm.

Maryke knyp net haar oë styf toe en voel die steek in haar arm en die brandgevoel wat versprei voordat ’n warm, lam gevoel deur haar lyf trek.

Sy probeer die artikel oor die nuutste kameratoerusting lees maar sit ná ’n rukkie die tydskrif neer en draai op haar sy. Sy dommel in, word weer wakker van die geskarrel toe die pasiënt in die bed langs hare teater toe gestoot word. Toe draai sy op haar ander sy en raak weer aan die slaap.

Sy hoor iemand met haar praat en kry haar oë met moeite oop. Die mooi man van vroeër vanoggend staan langs haar bed. Hy is weer besig om die swart rubber om haar arm vas te draai en styf te pomp. “Hoe gaan dit hier?”

“Dit sal beter met my gaan as jy net jou hemp kan uittrek sodat ek . . .” Sy hoor die piepgeluid van die masjien langs haar bed. “. . . jy is so ’n mooi man, perfek vir die foto van Atlas wat ek moet neem en jou bruin hare met die sonstrepies . . . netsowel ek moet die foto van agter af neem want jy het sulke . . .”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s