LIEFDE AGTER SLUIERS – Rika du Plessis

Liefde agter sluiers (Hoëres)

Na haar eerste tree in die kombuis wieg sy geskok tot stilstand. Christo staan by die oop kombuisdeur met ’n koppie stomende koffie in sy hand, en kyk haar onbeskaamd op en af aan. In ’n oogwenk gloei haar wange. Haar uiters dun en skrapse nagkabaai laat nie veel aan die gedagtes oor nie. Wat maak die man hier? Hy het tog gesê hy is net naweke hier.

Sy wil omvlieg en terug kamer toe hardloop, maar dis of haar voete ’n flirtasie met die kaal vloer onder hulle aan die gang het en weier om te beweeg. Hy kom stadig nader gestap, en die beweging skok haar ledemate terug tot die lewe.

“Ek kom nou weer,” sê sy amper onhoorbaar, swaai om en gee ’n tree weg van hom af, maar hy vat haar stewig maar sag aan die bo-arm. Sy kyk verskrik om na hom toe en wens sy kan daardie spottende blink in sy oë laat verdamp.

“Bedaar en kom sit. Jy is nie die eerste meisie wat ek in sulke eina-goedjies aangetrek sien nie,” sê hy, en skielik is die halwe gryns om sy mondhoeke weg, en sy oë al weer onleesbaar. Hy druk haar sagkens op ’n bank wat deel van ’n eethoekie is neer. “Ek skink vir jou koffie,” vervolg hy, en stap na die ketel toe.

Sal sy tog maar hier opvlieg en eers gaan behoorlik aantrek? Of sal dit uiters kinderagtig wees en hom die indruk gee hy is die kaas hier en sy maar net die dikmelk? Voor sy egter haar gedagtes behoorlik kan orden, sit hy die koppie koffie voor haar neer. Hy gaan sit op die teenoorgestelde kant van die langerige tafel op die bank wat in ’n halfmaan om die tafel gebou is.

“Wat soek jy hier? Jy het gesê jy is net naweke hier,” brom sy en vou haar hande om die koppie.

“Ek weet, maar ek het nie gesê ek is nooit andersins hier nie. Ek spandeer elke tydjie tussenin wat ek kan ook hier.”

“Wel, ek loop nie normaalweg so as ek weet ek is nie alleen nie,” mompel sy steeds vies al is sy uiters bewus van die manlikheid wat hy van oorkant die tafel na haar toe uitstraal.

“Ek sien jy het die kontrak geteken.”

“Ja, ek het. Ek wil egter by jou weet hoe jy sommerso ’n gewone meisie vir sulke werk kan aanstel? Die dinge wat jy van my verwag is nie alledaagse kennis nie.”

“Hoekom het jy dan geteken?” vra hy en trek sy linkerwenkbrou die hoogte in.

“Ek wil kyk hoe wurm jy jou uit hierdie situasie uit die dag wat ek ’n geboorte van ’n werpsel of ’n siek hond moet hanteer en jy sien ek is onkapabel,” antwoord sy nou spottend.

Rustig neem hy die laaste slukkie uit die koppie, sit dit neer en sit agteroor teen die rugleuning. Hy skud sy kop effens terwyl hy haar ondersoekend aankyk. Wat sou nou deur sy kop broei?

“Annico Veldsman, wil jy nou vir my kom vertel jy het regtig geglo ek weet nie wie jy werklik is nie?” vra hy eindelik net so spottend.

Die spiere in haar lyf ruk styf.

“Wat bedoel jy? Jy het tog seker eers geweet na jy die kontrak wat ek ingevul het geteken het.”

“Nee. Ek het al daardie dag in die vergadering geweet jy is Dana se dogter en  jy is eintlik ’n veearts. Ook het ek baie gou besef waar ek vantevore met jou kennis gemaak het, maar jy sal my nie onthou nie. Sowat tien jaar gelede was ek vir omtrent ses maande in dieselfde skool as jy. Onthou jy die teatergroep? Jy het botweg geweier om teenoor my te speel aangesien jy dolverlief op Kurt Stander was en teenoor hom wou speel, en as die ryk Dana se dogter, het jy jou sin gekry al het Kurt die rol veel swakker as ek vertolk.”

“Dit kan nie wees nie. Jy lyk glad nie soos daardie seun wat ek onthou nie,” hyg sy amper die woorde uit. “Jy wil tog nie vir my sê jy gaan kinderjare terug se ou bog teen my hou nie, of hoe?” Natuurlik onthou sy daardie episode. Maar daardie Christo was ’n lang, maer seun met ’n amper kaal geskeerde kop. Nie hierdie hunk wat hier voor haar staan nie.

“Natuurlik lyk ek nie soos ek daardie tyd gelyk het nie. Onthou, dis eers van daardie jare af wat ’n mens heel dikwels vreeslik verander soos jy volwassenheid bereik. Jy het egter net mooier geword.  Ek is nie kinderagtig om die tienerjare se strooi te laat inmeng met my hedendaagse aktiwiteite nie. Wat ek wil weet, is hoekom wou jy nie gehad het ek moet weet wie jy is nie? Hoekom wou jy my laat glo jy is net so ’n alledaagse werkende meisie soos jou vriendin, Jenna?” vra hy geamuseerd.

Kan sy nie maar net hier in die grond wegsink en hom dus nie in die oë hoef te kyk nie? ’n Oorwonne gevoel wil-wil van haar besit neem, maar sy lig haar kop braaf en kyk hom in die oë.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s