KOLWYNTJIE – Madelie Human

Kolwyntjie

Lourens sit sy arm agter op haar sitplek se rugleuning

en sy voel hoe Meyer aan haar ander kant verstyf. “Dis ’n verrassing,” sê hy weer sagter, net vir haar.

“Ja, sy is saam met my,” kom dit grommend van Meyer wat haar hand op daardie oomblik baie besitlik in syne vasvat. Die twee gee mekaar ’n uiters betekenisvolle kyk bo-oor haar kop.

Melani se maag maak ’n benoude draai. Dis presies waarteen Otto haar gewaarsku het. Versigtig trap, het hy gesê. Hoe trap ’n meisie versigtig as jy tussen die enigste twee mans wat vir jou iets beteken,

ingewurg sit terwyl hulle mekaar begluur asof hulle ’n oorlog wil begin? Die stadion se plastieksitplekke is maar klein en laat nie juis spasie tussenin toe nie.

Albei die broers se bobene en skouers skuur teen hare. Met opset natuurlik. Boonop hou hulle mooie ma met ’n fronsplooitjie tussen haar oë die situasie fyn dop. Dis nie moeilik om uit te werk dat sy Melani kwalik neem omdat sy ’n struweling tussen haar twee seuns veroorsaak nie. Is dit hoe ’n kanarie voel wanneer twee honger katte weerskant

sy koutjie stelling inneem en ’n skerpoogvalk ’n entjie verder haar bek sit en skerp maak?

“Ek gaan die kleedkamers soek,” kies sy die lafaard se uitweg en spring op.

“Miskien moet ek saam met jou loop,” krys die valk . . . e . . . klink Mercia se melodieuse stem onverwags op.

Melani slaak innerlik ’n baie benoude sug. Haar ontsnapkans is nul. Niks kan haar nou red nie.

“Dink jy een van ons moet haar gaan red?” vra Lourens bekommerd toe die twee vroue buite hoorafstand is.

“Nee. Miskien kan Ma haar ’n keuse help maak voordat daar bloedvergieting is,” antwoord Meyer met staal in sy stem.

Lourens sug. “Meyer, ek wil nie met jou baklei nie.”

“Maar jy gaan nie kopgee oor hierdie ene nie? Wel, ek ook nie.”

Hul oudste broer Darius se vrou Bea kom wurm haar skielik tussen hulle twee in. “My twee gunstelingkleinboeties,” draal sy.

“H’m. Wat laat my dink ons is nie juis jou gunstelinge op die oomblik nie?” vra Lourens skepties, sy oë op die fyn fronsie tussen die klein brunet se wenkbroue.

“Die spanning tussen julle drietjies is voelbaar tot daar anderkant waar ek sit. Ek en Darius wonder maar net.”

“Jy en Darius kan maar ophou wonder. Melani is my date.” Meyer se houding is nou byna aggressief en Bea kyk heen en weer tussen hulle twee.

“Bea, jy sit op die oomblik in die spervuur, miskien moet jy liewer weer onder jou man se blad gaan inkruip,” keer Lourens. Hierdie ding is tussen hom en Meyer en die familie kan gerus maar hul neuse daaruit hou. Hul ma neem sekerlik reeds die arme Melani onder kruisverhoor. Miskien moet hy haar tog gaan probeer red, maar hulle is natuurlik

nou reeds in die dameskleedkamers waar hy hulle nie kan bereik nie. Boonop is sy mos nie saam met hom hier nie.

“Nes ek gedink het. Julle baklei oor haar.” Bea lyk so ingenome soos ’n honger leeuwyfie wat ’n klein bokkie alleen in die veld raakgeloop het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s