VERKEERDOM SPROKIE – Rosita Oberholster

Verkeerdom sprokie (Hoëres)

Die deur gly geluidloos oop en sy voel hoe Maggie se grasbrousel ’n draai hoog in haar keel kom maak. Sy kan sweer sy proe bloekomblare ook. Asem diep in en uit. Haar kop klop darem nou net twee keer vir elke asemteug. “Meneer Basson, môre. Ek is Jenna.” Sy steek in die oop deur vas en het moeite om haar mond toe te hou en nie te staar nie. Wat ’n beeld van ’n man. Hy is nou wel miskien ’n oujongkêrel, maar hy lyk ver van verstok af. Brokke en stukke van gister kom stadig van iewers af haar geheue binnegesypel en sy onderdruk die begeerte om om te draai en weg te hardloop.

Wat moet hy net nie van haar dink nie? Sy wat Jenna is, moet sy verswakte ma kom geselskap hou en help versorg, en hy tel haar lekker hoog in die takke langs die pad op. Geen wonder hy lyk so befoeterd nie.

“Ek weet wie jy is. Maak toe die deur en kom sit,” val hy haar in die rede. Hy gluur haar aan, maar sy sien tog hoe sy oë net vir ’n sekonde of twee langer as wat nodig is op haar heupe rus. “Jy beter ’n baie goeie verduideliking hê.”

Sy skarrel tot by die stoel en neem op die punt daarvan plaas. “Eerstens wil ek net dankie sê dat Meneer my …”

“My naam is Ben en kom tot die punt.”

Jenna vererg haar, maar sy hou haar stem gelykmatig. Sy haal diep asem en kry haar woorde agtermekaar. “Almal wat slinger en snert praat, is nie noodwendig dronk of onder die invloed van dwelms nie. Wel, tegnies gesproke was ek seker onder die invloed, maar dis nie wat jy dink nie. Gee my asseblief kans om te verduidelik.” Dit sou natuurlik makliker gewees het as hy minder aantreklik was. Deksels, die man lyk asof hy in ’n Dior-advertensie tuishoort en dan kyk hy nog ’n barshou ook. Sy is oorbewus van haar verbrande gesig en klam hare. Haar oë is ook nog rooi en pofferig.

Ben kruis sy arms en kyk na haar met opgetrekte wenkbroue. “Gaan gerus voort. Dit behoort interessant te wees. Ek sal graag wil hoor watse liegstorie jy vir my opdis om jou verslawing te probeer wegsteek.”

Met bomenslike inspanning kry sy die stortvloed woorde wat op die punt van haar tong huiwer ingesluk en verduidelik so kalm as moontlik. “Die hele scenario moes baie verdag voorgekom het, maar ek is normaalweg ’n goed gebalanseerde mens met sober gewoontes. Dit wil voorkom asof Nonnie se wit pilletjies en die son ’n dodelike kombinasie was. Ek het werklik gedink dit sal help vir die spanningshoofpyn wat ek begin ontwikkel het. Asseblief, Meneer … Ben. Ek het hierdie werk bitter nodig. Soos jy seker afgelei het uit my verhaal, is ek nie eintlik vir iets opgelei nie, en ek moet werk. Jy kan vir Herman vra as jy my nie glo nie. Hy en Nonnie ken my al jare.”

Hy kyk lank na haar sonder om iets te sê. Sy raak kriewelrig onder sy blik en sug innerlik. Wie het nou ooit kon dink dat skatryk Jacques Albrecht se dogter ’n wildvreemde sal moet sit en soebat vir die behoud van haar werk?

“Ek moes geweet het ek kan nie my ma vertrou met die aanstelling nie. Haar oordeel is nie op die oomblik wat dit moet wees nie. Maar ek het darem beter van Herman verwag.” Hy dink ’n oomblik na. “Goed. Ek en Maggie sal hierdie insident voorlopig vir onsself hou, maar ek waarsku jou. Malana betaal miskien jou salaris, maar ek is en bly die baas van hierdie plaas. Jy beter in jou spoor trap. As ek agterkom dat jy my om die bos probeer lei met mooi storietjies is die hel los. En ek sal vir seker vir Nonnie bel en vra of sy vir jou pille gegee het of nie. Jy kan vandag gebruik om te rus, ek sal vir Malana verduidelik dat jy sonsteek opgedoen het. Môreoggend stiptelik om sesuur meld jy weer hier by my in die kantoor aan. Maak asseblief die deur agter jou toe.”

Sy staan huiwerig op. Sommer net so. Wat sê sy nou? Moet sy hom bedank? Sy het nie ’n idee hoe hierdie goed werk nie. “Dankie. Dan sien ek jou môre.”

Hy maak ’n handgebaar en sy neem aan dat sy verskoon is.

Stiptelik om ses klop Jenna aan Ben se kantoordeur. Die gebrom aan die ander kant beteken seker sy kan inkom. Sy stoot die deur versigtig oop.

Gedurende die nag het sy ’n paar keer wakker geword en elke keer het sy iets nuuts onthou van hulle gesprek in die middel van die pad. Telkemale het sy gewens sy kon in haar motortjie klim en terugry huis toe. Probleem is net, daar is nie meer ’n huis nie. Sy sal maar haar trots en haar verleentheid in haar sak moet steek en klaarmaak waarmee sy begin het.

“Môre, Ben.” Sy kry slegs ’n grinnik bemeester. Dit voel asof haar vel gaan skeur as sy te veel spiere op een slag gebruik. Maggie se pappery wat sy aangesmeer het, beter vinnig begin help. Die handradio op sy lessenaar maak ’n kraakgeluid en ’n vrouestem kom oor die eter. Hy beduie dat sy moet sit.

“Ja,” blaf hy oor die radio. Hy luister vir ’n wyle. “Alexa, ek wil asseblief insae daarin hê. Jy kan nie net die blesbokke van die een kamp na die volgende skuif nie, ons moet eers daaroor praat.” Hy brom iets wat soos ’n groet klink en plak die radio terug in sy staander.

Jenna sit op die punt van die stoel. Hy is omtrent kort van draad. Sy kry die onbekende Alexa innig jammer. Sy skrik toe hy haar hard aanspreek. “Jammer, ek was ingedagte.”

“Ek vra, het jy ’n notaboek gebring?”

“H’m, nee, hoekom?” Sy onthou net betyds om nie te frons nie. Haar vel trek pynlik saam elke keer wat sy dit waag om ’n gesigspier te gebruik.

Hy sug. “Jy het baie om te leer. As mens na jou werkgewer se kantoor ontbied word, neem jy ’n notaboek en ’n pen saam.” Hy vroetel in een van sy laaie en kom met ’n boekie te voorskyn wat hy saam met ’n pen na haar kant toe stoot. “Nommer een: Ek duld nie die gebruik van sterk drank of dwelms deur my personeel nie. As jy wil fuif, dan doen jy dit buite die grense van Bassonsdrift.”

“Ek het mos verduidelik,” begin sy, maar hy val haar in die rede.

“Dit het niks met jou te doen nie, dis die reëls. Skryf. Nommer twee: Ek duld nie los-en-vas-verhoudings onder my personeel nie. As jy ’n verhouding wil aanknoop, beter jy bereid wees om met hom te trou. Nommer drie: Ek duld nie ’n flankeerdery met my manlike kliënte nie. As jy ’n man soek, stel ek voor jy gaan soek hom op ’n ander plek. Is dit duidelik? Nommer vier …”

Sy voel hoe haar bloeddruk die hoogte inskiet, maar val hom koel en beheers in die rede. “Nommer een: Sover ek weet, is mevrou Basson die persoon wat my aangestel het, en sal ek my opdragte direk van haar ontvang. Nommer twee: Ek aanvaar dat hier reëls en regulasies is wat nagekom moet word, maar ek sou verkies om nie behandel te word asof ek beplan om ’n bordeel op jou voorstoep oop te maak nie. Glo my, die laaste ding waarin ek belangstel is ’n man, soos jy seker vir jouself kan dink.” Sy klap die notaboek toe en sit dit op sy lessenaar neer. “Nommer drie: Gister het jy my soos ’n krimineel laat voel en ek het maar stilgebly. Hoofsaaklik omdat ek moeg, seer en futloos was. Vandag voel ek egter aansienlik beter en gaan ek my nie langer deur jou laat beledig nie. Verskoon my, asseblief, ek wil my aan my eintlike werkgewer gaan bekendstel.”

Sy staan op en trek haar skouers reguit. Sonder om een keer in sy rigting te kyk stap sy stywerug by die studeerkamer uit. Sy los die deur aspris agter haar oop.

“Maar so ’n klein helleveeg,” hoor sy hom brom, maar sy ignoreer dit en stap verder.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s