DIE EEN VIR MY – Salomé Schutte

Die een vir my (Hoëres)

‘n Paar minute later hou hulle voor ‘n plaashuis stil. Dit lyk netjies met gordyne voor die vensters en alles. Tipies aan Hogsback, is die tuin ‘n wilde mengelmoes van groen bome en welige rankplante. Mariella is mal daaroor. Eendag gaan sy vir haarself net so ‘n tuin maak.

Victor volg haar blik. “My ma en pa bly graag hier oor. Ten minste een naweek in ‘n maand. Toe ek nog gestudeer het, het ek ook hier kom bly. Hier pla geen siel jou nie.”

“Ek kan my indink. Ek sou nie omgegee het om so ‘n wegkruipplekkie te hê nie.”

“Ek sal die huis later vir jou wys. My ma het dit baie mooi gerestoureer. Sal jy kans sien om saam met my op ‘n motorfiets te ry? Ek wil na die beeste gaan kyk.”

“Dis reg.” Mariella is nie mal oor die idee nie. Hopelik sal Victor baie stadig ry.

Hy verdwyn in een van die buitegeboue en ‘n kort rukkie later kom hy op ‘n kleinerige motorfiets uitgery. Sy donker hare waai in die wind om sy manlike gesig en sy sluk swaar by die blote gedagte aan hoe naby sy aan hom gaan wees agter op die motorfiets. Gelukkig sal hy nie haar rooi gesig kan sien nie.

Toe sy naderstaan om op te klim, skud hy sy kop. “Wag, ek gaan haal eers vir jou ‘n valhelm. Ek dink daar is een in die buitekamer. My oupa maak my dood as ek jou sonder een laat ry.”

Mariella bekyk die valhelm wat hy in haar hande plaas. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy so ‘n ding gebruik, maar dit lyk darem nie te ingewikkeld nie. Sy plaas dit versigtig op haar kop terwyl hy haar geamuseerd dophou. “Het jy al motorfiets gery?”

“Nee.” Dink hy Ella Smit sou ooit in haar lewe so-iets toelaat?

“Toe maar, ek sal stadig ry. Jy hoef nie bang te wees nie. Nou toe, spring op.”

Tussen die voorste en agterste sitplekkies sien sy ‘n metaalbalkie waaraan sy kan vashou. Victor trek stadig weg en sy klou styf vas. Sy voel nie so heeltemal stabiel hier agter nie.

Hy praat oor sy skouer met haar. “Hou eerder om my lyf vas. Dis veiliger.”

Hoewel Mariella nie sy gesig kan sien nie, kry sy die gevoel dat hy breed glimlag. Tog voel sy nie in ‘n posisie om met hom te stry nie, en plaas haar hande versigtig om sy breë borskas. Die sensasie is so ongelooflik dat sy dankbaar voel vir die valhelm wat haar kop, en dus haar verleë gesig, bedek. Sy borskas is nog meer gespierd en manlik as wat sy verwag het. Dit voel wonderlik onder haar hande.

Ná hulle ‘n kort rukkie gery het, sien sy hulle is weer terug op die grondpad. En die volgende oomblik is die kudde beeste voor hulle. Daar is twee veewagters wat agter hulle loop. Skynbaar word die beeste na ‘n ander kamp of iets aangejaag.

Victor ry baie stadig en gelukkig lyk dit nie of die beeste vir die motorfiets skrik nie. Hulle gee een-een traag pad sodat die motorfiets verby kan kom. Toe Mariella weer sien, is hulle in die middel van die trop beeste.

Nou voel sy so ‘n bietjie benoud en sy hou die naaste beeste bekommerd dop. ’n Paar van hulle se horings lyk vir haar gevaarlik lank. Maar na ‘n rukkie ontspan sy. Hulle lyk darem baie vreedsaam. Toe Victor stilhou, kyk sy in die koeie se sagte, rustige oë. Dit laat haar ook sommer rustig voel. Die meeste is rooi, met hier en daar ‘n witterige of ‘n swart een.

Victor begin weer stadig ry en gou is hulle aan die anderkant van die trop. Hy hou stil en hulle hou aan kyk tot die beeste ‘n entjie verder af in die pad verdwyn het. ‘n Rukkie later ry hy terug in die rigting van die plaashuis.

Oppad soontoe gee hy ‘n bietjie vet en Mariella kan voel hoe haar hare agter haar in die wind wapper. Tot haar verbasing geniet sy die gevoel van spoed. Sy kan nie onthou wanneer laas sy so vry en sorgeloos gevoel het nie.

Toe hy stilhou, voel Mariella hartseer om haar hande weg te vat, maar sy doen dit so gou as moontlik en klim af. Sy begin vroetel om die bandjies onder die valhelm los te maak, maar haar hande voel dom. Hy glimlag, stap tot voor haar en haal die valhelm versigtig van haar kop af. Sy skud haar hare terug oor haar skouers in ‘n poging om die onmoontlike blou oë te ontwyk, maar dit trek haar eie oë soos ‘n magneet.

Op daardie oomblik sien sy uit die hoekie van haar oog dat iemand voor die huis staan. Mariella draai haar kop en haar oë gly vinnig oor die meisie wat hulle met ‘n ernstige gesig staan en dophou. Haar eerste indrukke is van ‘n petite meisie met kort hare wat rooi vlam in die sonlig. Sonder dat iemand dit vir haar hoef te sê, weet Mariella dit kan net Alicia wees.

Victor volg haar blik en sy gesig verstrak effens toe dit op die rooikop val.

Dié tree nader. “Hallo, Victor. Jou ma het gesê jy’s op die plaas, toe besluit ek om ‘n draai te kom maak. Ek het nie geweet jy het reeds gaste nie.”

“Hallo, Alicia.” Victor steek sy hand uit en trek Mariella aan haar arm nader. “Kan ek jou voorstel aan Mariella? Sy kuier vir ‘n paar dae by die Inn.”

Die rooikop kyk van Victor na Mariella en haar ligte vel lyk skielik nog bleker. Mariella se hart krimp ineen terwyl sy besef Alicia is baie lief vir Victor. Dis daar op haar gesig vir almal om te sien, asook die feit dat dit vir haar ‘n onwelkome en pynlike ervaring is om Victor saam met ‘n ander meisie te sien.

Mariella groet die ander meisie vriendelik, maar sy voel so skuldig, dis vir haar moeilik om te glimlag. Vir al wat sy weet, is Victor en dié meisie ernstig oor mekaar en sy wat Mariella is, behoort nie enige tyd saam met hom deur te bring nie. Sy hoort glad nie hier nie. Die paar minute wat sy wel so gevoel het, was net ‘n fantasie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s