KAAPSE DRAAI – Alma Carstens (2)

Kaapse draai (Hoëres)

Die gedagte dat hy ná haar dalk nog meisies vir ’n maand na sy plaas gaan nooi, krap aan haar. Nee, dit laat haar byna siek voel. So erg dat sy nie eens die gedagte daaraan kan verduur nie.

Met ’n onvroulike swetswoord staan Lani van die bankie af op en stap kombuis toe. Die hemel weet, sy begin haar kop verloor. Sy moet iets doen om haar aandag van hom af te trek.

Impulsief maak sy kaste oop en haal panne en bakke uit om koekies te bak. Sy het vroeër ’n verskeidenheid bestanddele in die spens gesien en aangesien Hugo gesê het sy moet haar tuismaak, is dit presies wat sy gaan doen. Nes tuinmaak haar kalmeer, help bak en brou ook om haar gedagtes besig te hou en haar kop skoon te kry.

Die resepte vir die kleinkoekies wat sy vir haar klas gebak het, is ou familieresepte wat sy in een van haar ma se kookboeke gekry het en sy ken dit al uit haar kop.

Teen elfuur is byna al die oppervlaktes van die kombuiskaste oortrek met kleinkoekies. Sy maak wild kaste oop op soek na houers om die koekies in weg te pak toe sy opkyk en Hugo teen die deurkosyn sien leun. Om sy mond lê ’n breë glimlag.

“Is dit alles vir my?”

“En vir Siena. Kersfees is om die draai en ek is seker sy sal baie bly wees vir ’n ekstra geskenkie.”

Hy vat ’n koekie op een van die rakke en druk dit in sy mond. “Heerlik,” sê hy nadat hy dit afgesluk het en vee met die rugkant van sy hand oor sy mond. Toe kom staan hy voor Lani en vee liggies met sy vingers oor haar wang. “Het jy in die meel gerol?” Sy stem is meteens laag en sy oë raak donkerder. “Of is jy net ’n passievolle bakster?”

“Wat?” Haar keel is kurkdroog en sy kry met moeite die woorde oor haar tong.

“Daar was meel op jou wang.” Hy laat gly sy vingers stadig teen haar arm af en vleg dit deur hare wat slap langs haar sy hang. Sy ander hand kom rus ligweg op haar heup. “Ek het gewonder waarmee jy jou vandag besig hou.”

“Ek . . . e, wat maak jy hier? Ek dag jy moes . . .” Haar asem stoot rukkerig deur haar lippe toe hy hulle hande wat inmekaar gevleg is, lig en sy lippe sag teen die rugkant van haar hand druk.

“Ek moes en ek het. Ons was vroeg klaar met die eerste vergadering, toe dag ek ek kom kyk gou wat jy aanvang. Die tweede een is oor middagete, ek is al weer op pad soontoe.”

Lani staar net stom na hom. Die soen op haar hand was so ’n intieme gebaar, dit het behoorlik die lug uit haar longe gepers. Sy hand wat steeds op haar heup rus, voel of dit ’n gat in haar vel brand.

“Kom eet vanaand saam met my by ons restaurant hier onder, sal jy?”

Sy knik en hy glimlag ingenome. Toe speel sy oë ’n paar sekondes oor haar gesig voor hy omdraai en by die deur uitstap. Lani se liggaam is die ene bewerasie. Sy sak op een van die stoele by die ronde tafel neer. Wat de josie is met haar aan die gang? Het sy net groot geskrik toe hy so skielik verskyn het of is dit sy aanraking wat dit aan haar doen?

Sy sit haar hand teen haar kuiltjie en voel hoe haar hartklop woes te kere gaan. Hugo het haar net onkant betrap, dis al.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s