Alma Carstens: KAAPSE DRAAI

Kaapse draai (Hoëres)

Lani sug en sluit haar oë. Die hemel behoed haar die volgende paar weke. Sy weet nie hoe sy daardeur gaan kom nie. Vir ’n vryerige oujongkêrel het sy beslis nie krag nie, want as hy nie sy kloue van haar af gaan hou nie, gaan sy sowaar as wraggies nie daar bly nie. Al moet sy loop tot by die naaste dorp en duimgooi terug lughawe toe.

Nadat sy haar bagasie van die vervoerband afgehaal het, sleep sy die tas agter haar aan na die aankomsaal. Haar handsak rem swaar aan haar skouer, alles wat kosbaar is en sy nie in die tas kon pak nie, het sy daar ingeprop. Haar moed wil haar byna begewe toe sy by die glasdeure uitstap en verskrik rondkyk. Verby die skare mense in die aankomsaal sien sy ’n man met sy arms gevou teen een van die pilare leun. Lani se hart mis ’n slag toe hy sy kop lig en reguit in haar oë kyk. Die man is baie aantreklik, tog lyk sy gesig soos donderweer.

Sy draai haar kop en kyk na die horde wagtende gesigte. Hoe lyk die man wat haar moet kom haal? Jancke het gesê sy het ’n foto van Lani vir hom gestuur en hy sal haar herken, maar sy het g’n idee hoe die De Wet-man lyk nie. Of is dit nou Du Toit? Hene, sy het nie ordentlik aandag gegee aan wat Jancke gesê het nie.

Lani lek senuagtig oor haar bolip. Sy los die swaar tas en verskuif die handsak oor haar skouer. Toe dwaal haar oë weer oor die mense. Die aantreklike donkerkop staan steeds teen die pilaar, sy oë nog rotsvas op haar. Wat is die man se probleem? Hy lyk so befoeterd soos ’n bul wat rooi sien, tog bly sy blik vasgegom op haar. Wel, sy kan ook staar as hy dit kan doen. Laat hy maar sien sy skrik nie vir sy kwaai kyk nie.

Nadat hulle mekaar etlike sekondes met die oë gemeet het, stoot hy hom van die pilaar af weg en kom stadig in haar rigting aangestap. Lani se hart bons onegalig. Hemel, dit het sy nou daarvan. Plaas sy die man geïgnoreer het. Wat kom soek hy in elk geval hier op die lughawe as hy haar die hele tyd staan en begluur? En waar de josie is haar sogenaamde ridder om haar uit hierdie penarie te kom red?

“Lani du Preez?” vra hy toe hy reg voor haar kom staan.

Lani trek haar asem stadig in. Die man se oë is tussen blou en groen, amper turkoois, sou ’n mens kon sê. Oor sy sonbruin gesig is ’n stoppelbaard asof hy drie dae laas geskeer het. Sy donker hare is kort, maar deurmekaar asof sy vingers ’n hele paar keer daardeur gewoel het. Haar oë gly laer, speel oor die T-hemp wat elke kontoer van sy gespierde lyf beklemtoon. Toe sak haar wimpers nog laer na die verbleikte denim en nerfaf werkstewels. Onopgesmuk, byna asof hy mens wil uitdaag om ’n opmerking oor sy voorkoms te maak. Of dalk wil hy ’n stelling maak met sy ongeërgdheid.

“Is jy Lani du Preez?” vra hy weer toe sy niks sê nie.

Lani knik. Haar stem het iewers heen verdwyn toe hy so naby haar kom staan het. Haar hart klop teen so ’n tempo dat dit die bloed deur haar ore laat bruis en haar kop soos duisende sonbesies laat sing.

Hy steek sy hand uit. “Hugo de Villiers.”

Lani vat sy hand, maar hy het skaars aan haar geraak, toe ruk sy haar hand weer terug en verskuif haar handsak oor haar skouer. Haar bene is meteens so lam dat sy beswaarlik daarop kan staan. Is dit haar gasheer? Hierdie aantreklike man wat lyk asof hy uit ’n Camel-advertensie gestap kom? Sy skud haar kop liggies. Dit kan tog nie wees nie. So ’n man sou mos nooit vir ’n vrou geadverteer het nie. Hy is die tipe wat vrouens na hul asem laat snak, nie die bles, boepens oujongkêrel wat sy verwag het nie.

“Is dit al wat jy gebring het?” Hugo knik na die tas skuins agter haar.

Lani knik weer en voel hoe haar wange vlamvat. Wat het hy dan verwag? Dat sy al haar aardse besittings sal saamsleep om te kom huis opsit op sy plaas? ’n Histeriese giggel kriewel in haar keel en sy sluk vervaard. Hierdie man kan nie die regte Hugo Dinges wees wat haar moes kom haal nie.

Hugo vat haar tas en sleep dit agter hom aan. “Kom,” sê hy bruusk en begin wegstap na die skuifdeure wat na die parkeerarea toe lei.

Lani trippel agterna. Of dit nou die verkeerde of regte Hugo is, hier gaan sy nie alleen en sonder haar tas agterbly nie. Sy wonder wat Jancke sal sê as sy moet weet die desperate boer wat vrou soek, lyk soos ’n model. En sy wonder wat fout is met die man, want daar moet beslis fout wees as ’n man wat so lyk ’n advertensie moet plaas om ’n vrou te kry.

By ’n afgeleefde plaasbakkie tel hy haar tas op en sit dit onverskillig op die bak. Toe maak hy die passasiersdeur vir haar oop en staan afwagtend na haar en kyk. Lani verstik byna van skok. Sy het verwag hy sou dadelik agter die stuur inspring nadat hy haar tas opgelaai het. Dat hy die deur vir haar oopgemaak het, verstom haar en verlam haar in haar spore. Is dit goeie maniere of is hy net haastig om haar alleen op sy afgeleë plaas te kry?

“Kan ons asseblief ry? Of het jy ’n rede om langer op die lughawe te vertoef?”

Lani se wange word vuurwarm toe sy nader na die bakkie toe beweeg. Was hy sarkasties of het hy ’n grap probeer maak? “Jammer. Dankie,” mompel sy toe sy ongemaklik verby hom skuur om in te klim.

“O, jy het wel ’n stem. Vir ’n oomblik het ek gedink jy is stom,” merk hy droog op en glimlag skeef.

Lani se hart mis weer ’n slag. Hemel, die man kan ’n harem versamel met daai glimlag. Sy voel skoon verspot oor die manier wat haar lyf daarop reageer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s