Dirna Ackermann: Die perfekte oplossing

Die perfekte oplossing (Hoëres)Talani struikel-val uit haar bed. Dit is nog nie heeltemal lig nie. Met oë vaal van die slaap en so half en half instinktief storm sy na Ryan se kamer waar Lian die laaste twee aande aangedring het om te slaap. Die enigste plek waarvandaan die gil wat haar wakkergemaak het, kon kom.

Nog ’n gil klink op, maar nou kan sy hoor. Dis nie een van pyn of angs of enigiets anders wat bedreig nie. In die kamerdeur verloor haar voete vanself hulle pas en haar steeds slaap deurdrenkte lyf soek ondersteuning teen die kosyn.

Ryan is terug.

Hy het gister vroegmiddag gebel het om te sê hy kom met ’n veel later vlug. Lian het onder groot protes bed toe gegaan en sy het probeer wakkerbly, maar êrens ná een het die slaap gewen.

Lian staan in die middel van die dubbelbed en sy boude is kaal, sy pajamabroek lê in ’n hopie op die vloer. Sowaar sy sal vandag nog daardie rek moet vervang.

Ryan in ’n lang slaapbroek, stut sy knieë op die bed se rand. Die spel van spiere oor sy rug en arms ’n fees vir ’n vrou se oë en sy lag ’n verleiding vir haar sinne.

Die wildeweghol huppel haar hele binnekant helder wakker. Dit is die mooiste iets wat sy nog ooit gesien het. Pa en seun in ’n kussinggeveg.

En sy is in die moeilikheid. Tensy sy haar hart bewaar, het hierdie twee Wentzel-mans die vermoë om haar so te laat verstrik dat sy moeite gaan hê om haar eie naam te onthou. Sy is lankal, lankal by omdraai verby waar dit die seun aangaan. En die pa …

Talani tree so stil moontlik agteruit. Te bang om daardie gedagte selfs toe te laat om klaar te vorm. Sy vind hom aantreklik, ja, maar wys vir haar die vrou wat nie sal nie. Sy stem maak koekstruif van haar emosies, maar weer eens, wys vir haar die vrou wat nie dieselfde gaan voel nie. Hy is gaaf. Hy het mooi maniere. Noem maar op. Hy is ’n goeie pa, ’n uitstekende besigheidsman lei sy af. Sy kan ’n boek vul met die goeie kwaliteite wat sy die laaste paar dae raakgesien het.

Hy soen weliswaar sommer ’n wildvreemdeling dat sy steeds die kluts kwyt is, maar hierdie prentjie? Die een van hom en sy laggende kind in hulle pajamas? Pa se bolyf kaal, seuntjie se boude. Haar hart het ’n noodlottige hou weg.

“Lani!” gil Lian voor sy kan omdraai. “Ons kussingbaklei! Kom help ons.”

Ryan kyk om en kry ’n allemintige hou teen sy kop. Sy knieë verloor hulle greep op die matras se rand en hy tuimel grond toe.

Toe sy weer sien, hurk sy langs hom. “Is jy oukei?”

Hy gryns, maar sy oë loop oor haar gehurkte lyf in die dun gewaste pajamas. Kop en knieë tot by haar kaal voete en terug tot op haar mond. Uiteindelik haar oë, en die strepies vlam helder voor die sluiers sak en hy moeiteloos regop kom, sy hand na haar uitsteek. “Jammer. Het ons jou wakkergemaak?”

Gedagteloos lê sy haar vingers in syne en laat hom toe om haar orent te trek. Sy greep ferm en warm, voel dit so veilig, maar terselfdertyd ongelooflik verslawend onveilig.

“Nee … e …” Sy probeer haar onvermoë tot logiese denke met albei hande wegwapper. “Dit maak nie saak nie. Ek is bly jy is veilig terug.”

Weer toer sy oë oor haar. Stadig. Tastend. Sy vou haar arms oor haar lyf se verraderlike reaksies. “E … verskoon my, ek wil gaan stort en aantrek. Dan sal ek koffie maak en ontbyt gereed kry.”

Sy het al ’n tree agteruit geskuifel toe hy met ’n sidderende sug sy asem uitblaas, ’n hand deur sy kuif stoot en Lian in sy arms opswaai. Kussing en al. “Ek het gedink ons gaan eet sommer ontbyt in die Waterfront.”

“Goed. Dan sien ek julle wanneer julle terugkom.” Sy skuifel nog ’n paar treë in die deur se rigting. Hoekom voel sy soos ’n afvlerkvoël?

“Lani?”

Sy kyk terug oor haar skouer na die man met sy seun voor hom. Amper soos ’n skild.

“Ek het bedoel al drie van ons.”

Dit is soos wind onder haar vlerke, want skielik kan sy vlieg, maar eers moet sy weet. “Is jy seker?” Hy is die een wat die grense daar gestel het. “Ek wil nie inbreuk maak nie, Ryan. Hy het jou baie gemis.”

“Natuurlik is ek seker. Jy is nou deel van hierdie gesin.”

Nee, dít is soos wind onder haar vlerke. “Wanneer wil jy ry?”

’n Vinnige blik na die muurhorlosie. “Oor ’n driekwartier of is dit te veel gevra?” Sy mond maak ’n kink. “Kan juffrou Loots so vinnig klaar wees as ek vir Lian aantrek?”

“Is dit uitdaging, meneer Wentzel?” Sy skrik vir die speelsheid in haar eie stem, maar sy lag is pure genot.

“Ja, juffrou Loots. Laat ons sien.”

Eers onder die stort verstil haar hande in haar kop vol sjampoe. Was dit haar verbeelding of was daar net so ’n effense huiwering, ’n skaars waarneembare klem op daardie laaste “Loots”? Het hy iets agtergekom? Iets by haar pa gesien wat haar kon verraai het? Sy kan nie onthou of daar foto’s van haar in sy kantoor is nie.

Nee. Seepsop spat toe sy onwillekeurig kop skud. Ryan Wentzel is nie die soort man wat hom ’n rat voor die oë laat draai nie. As hy iets vermoed het, was sy en haar goed lankal op die sypaadjie. Of by die balkon af.

One thought on “Dirna Ackermann: Die perfekte oplossing

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s