Juanita Aggenbach – OP DIE HORISON VER

Op die horison ver (Hoëres)“Wag, dat ek help.”

Haar liggaam span snaarstyf die oomblik wat hy agter teen haar rug kom staan.

Hy haal ’n sjerrieglas af en gee dit vir haar aan.

Sy neem dit werktuiglik by hom. Sy kan sy hartklop teen haar rug voel. Haar lyf is een brandende kool vuur. Hy gee vir haar nog een aan. Stadig. Sy vingerpunte raak aan haar en blaas nog hitte deur haar. Hy ruik verruklik. Die derde glas word op dieselfde manier aangegee. Sy gaan binnekort uitbrand. Die vierde glas hou hy vir ’n sekonde langer vas sodat sy langer só in die kom van sy lyf staan. Sy sit die laaste glas op die toonbank neer en stut albei haar arms daarop. “Dankie.” Daar is niks

meer as ’n hees fluistering wat uit haar polsende keel kom nie.

“Plesier.” Dawid se stem teen haar oor klink dieselfde as hare. Sy liggaam talm nog vir ’n paar tellings agter teen haar en toe is dit weg.

Sy staan nog vir ’n oomblik, sonder om om te draai. Sy mag nie so na aan hierdie man staan nie. Nooit weer nie. Enigiemand wat nou in haar oë kyk, sal haar hele hart daarin kan lees. Daarvan is sy seker. Sy trek die lug diep in haar longe in voor sy die

koffielikeur uit die kruidenierswarekas haal. Maryke sal vinnig moet drink.

“Gee vir my.” Dawid se oë is donker terwyl hy sy hand na die likeurbottel toe uithou.

Sy gee die bottel vir hom en vlug uit die kombuis uit. Maryke het gesien. Dis baie duidelik in die waarskuwende kyk wat sy haar gee.

Dawid oorhandig soos ’n ware gasheer elkeen se glasie likeur en kom sit op die bank langs haar.

Waar anders moet hy sit? Sy moet ekstra los stoele koop. Twee tweesitplekbanke in ’n sitkamer werk nie as jy gaste het nie.  Sy speel met die romerige koffiesmaak op haar tong in ’n poging om haar aandag van Dawid af te lei. Dit werk nie. Hier sit Dawid nou langs haar op haar bank in haar huis en koffielikeur drink. Hoe lieflik sou dit nie gewees het as hy nie vir Louise in sy lewe gehad het nie. Hoe anders sou

hierdie aand nie gewees het nie. Hoe spesiaal sou die oomblik in die kombuis nie gewees het nie. Sy sou kon omdraai in sy arms in en … Nee. Sy sluk die likeur af en staan op om die leë glas in die opwasbak te sit.

“Nou toe.” Dawid staan langs haar op. “Ons moet ook in die bed kom.”

Gerhard staan traag op, strek hom lui uit en trek Maryke van die bank af op.

Ek is nes ’n vroumens wat nie weet wat ek wil hê nie, dink Anja kriewelrig terwyl sy die deur vir haar gaste oopmaak. Die hele aand wens sy dat hierdie aand tog net tot ’n einde moet kom, en noudat dit uiteindelik gebeur, is sy terneergedruk.

“Nag, my vriendin.” Maryke vat haar twee hande in die voorportaal saam. “Baie dankie vir alles. Dit was heerlik.”

“Nag, sussie.” Gerhard gee haar ’n klapsoen op die wang voor hy Maryke na buite toe volg. “Ek stap saam met jou kar toe.”

“Nou goed dan,” glimlag Maryke inskiklik. “Nag, Anja. Nag, Dawid.” Maryke wuif en verdwyn saam met Gerhard om die hoek van die huis.

Nou is dit net sy en Dawid. Sy stap saam met hom uit tot op die voorstoep.

Die flou stoeplig weerkaats in sy mooi oë. “Baie dankie vir alles, Anja. Dit was lekker om jou weer te sien.”

“Daar is niks om voor dankie te sê nie, jy het vir alles betaal.” Wat anders moet sy sê? Dat dit vir haar ook lekker was om hom nog een keer weer te sien?

“Ek sê eintlik dankie.” Hy druk ’n los haarsliert sagkens en tydsaam agter haar oor in. “Dat jy ingestem het.”

“O.” Nou sal ’n goeie tyd wees om vir hom te sê dat hy haar eintlik hierin geboelie het, maar haar tong wil nie saamwerk nie.

Dawid se hand kom in die draai van haar nek tot ruste. “Kyk na my, Anja.” Dit voel of die aarde aan die draai is. “Asseblief?”

Sy moenie. Sy moenie nou kyk nie.

Hy lig haar ken met sy voorvinger. “Ek is mal oor jou.” Die deernis in sy oë verwoes alle weerstand in haar. “Vanaf die eerste oomblik wat ek jou gesien het, het jy iets in my wakker gemaak wat ek nog nooit voorheen met enige iemand anders

beleef het nie.”

Wat moet sy sê? Elke vesel in haar lyf hunker na hom. Nog nooit voorheen het sy so oor enige iemand gevoel nie, maar Louise het nie verdwyn nie. Sy mag nie toegee aan hierdie aantrekkingskrag nie. Sy lek haar droë lippe af. Dit is binne haar vermoë om hierdie situasie stop te sit. Sy sal in elk geval nie met haarself kan saamleef as sy dit nie nou in die kiem smoor nie.

Dit verg elke greintjie wilskrag wat sy bymekaar kan skraap om haarself te laat regop staan en hom vas in die oë te kyk. “Ek is jammer, Dawid.” Sy sluk. Hopelik

sal sy vergewe word vir die leuen. “Ek het reeds iemand anders in my lewe.” Hoe anders kan sy hierdie belaglikheid finaal stopsit? “Jy sal my nou moet verskoon.”

Daar is soveel verwarring in Dawid se oë dat dit haar soos ʼn vuishou in die maag tref, maar sy maak die deur agter haar toe en sluit dit.

Sy staan met haar rug teen die houtversperring tussen hulle en sluit haar oë. Dis beter so. Sy gaan sit op die bank wat hy warm gesit het en luister hoe die twee motors die een na die ander wegtrek.

Dawid se sjerrieglas staan leeg op die koffietafel. Sy dop dit om om die laaste druppel koffielikeur te proe. Sy verwarde oë bly voor haar toe sy haar oë toemaak. Dis beter so, besweer sy die steekpyn in haar bors. Sy gaan haal die bottel koffielikeur weer uit die kas, gooi die glasie halfvol en gaan sit op die mat. Dawid het gesê hy is mal oor haar. Sy maak weer haar tong nat. Hy moes dit bedoel het. Geen mens kan so goed toneel speel nie, maar wat maak dit tog saak? Telkens maak sy haar tong nat tot die glas leeg is. Toe sit sy die sitkamerlig af. “Totsiens, Dawid.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s