ALDA GEERS: SOMME VAN DIE HART

Somme van die hart (Hoëres)“Die Erfenisagentskap sien om na alles wat in landsbelang bewaar moet word,” verduidelik hy. “En dit sluit historiese bome in.”

“Bome soos die Brekfisdorings?” Sy wens dit was nie vir haar nodig om so ’n simpel vraag te vra nie.

Hy tel sy koffie op, hou sy hande bak om die beker. “Bome soos die Brekfisdorings, ja.”

Die nuwe weet is soos ’n lewe wat van vooraf in haar oopgaan. “Hoe kontak mens die mense?”

“Ek het vir jou vorms van Pretoria af saamgebring om in te vul.”

“Watse vorms?”

“Aansoek om die bome as Erfenis Terrein verklaar te kry.”

Hy is weer besig om vir haar in te tree, dink sy. Maar dié keer maak dit nie saak nie, solank die bome staande bly. “Waar is die vorms? Ek sal dit sommer nou invul.”

“Wag, wag,” keer hy laggend. “Ek het dit nie hier nie. Nooi my vir koffie môremiddag, dan bring ek dit vir jou. Intussen kan jy begin met ’n verslag wat saam met die vorms ingestuur moet word.”

“Verslag?”

”Waarin jy alles noem wat jy van die bome weet. Die hele geskiedenis. Dit sal help as jy afdrukke kan bysit van daardie foto’s wat jou oupa het.”

“En dan is dit ’n wettige dokument wat keer dat die bome afgesaag word?”

“Nie op sigself nie. Maar is die aansoek in, kan jy ’n interdik kry teen enige skade daaraan. Nauderius Cronjé sal jou bystaan.”

Naderius Cronjé, die prokureur wat haar gehelp het met die borgtog. “Is dit jy wat hom aangestel het om my los te kry uit die polisieselle?” Vaagweg het sy die vermoede gehad.

“Ek het jou oupa-hulle beloof ek sal jou terugbring.”

Sy sit haar beker stadig neer en skuif dit van haar af weg. “En die tienduisend rand borggeld?” kom nog ’n vermoede by haar op. “Is dit jy wat dit betaal het?”

Hy sit soos ’n skoolseun wat uitgevang is op ’n onnutsigheid. “Kom ons sê dis ’n korttermyn lening.”

“Ek verstaan jou nie,” sê sy. “Eers help jy my die vangwa in en dan weer om my los te kry.”

“Ek verstaan myself soms nie. Maar ek kon eenvoudig nie toesien dat jy opgesluit bly nie.”

Sal dit al rede wees? wonder sy. Of is hy besig om kat-en-muis met haar te speel? “Vertel my van jouself,” sê sy.

“Wat wil jy weet? Ek is dertig jaar oud. Amper een-en-dertig en daar het nog niks dramaties in my lewe gebeur nie.”

Sy kan dit glo. Hy sou elke tree wat hy gee sorgvuldig vooruit beplan het, gesorg het dat daar niks hom onverwags oorval nie. “Waar het jy grootgeword?” vra sy.

“In die Vryburg-distrik. Op ’n plaas wat my oupa losgeboer het. Jy weet al dat my broer tans daar boer en dat my ouers ook op die plaas bly. My deel daarvan het ek afgestaan om te gaan studeer. Na my studies het ek in die firma begin werk waar ek tans een van drie vennote is.”

Kort en bondig, ’n hele lewe, dink sy. Toe sy uitvis oor sy persoonlike omstandighede, erken hy dat daar meisies was, maar dat hy nog nooit in ’n vaste verhouding was nie.

“En jy?” vra hy. “Wat het jou die kruisvaarder gemaak wat jy is?”

As kruisvaarder het sy haarself nog nooit gesien nie. Maar toe die opstand kom teen die mure wat Jan Combrinck om haar probeer bou het, het sy haarself aan die voorpunt van een na die ander missie bevind. Sy wou gehoor word. En gesien word. Sy wou erkenning hê dat sy ten minste ’n mens is.

Sy vertel hom iets van haar grootword jare, haar skool en haar kuiers by oupa Durham-hulle. Van haar kort huwelik wat nooit moes gewees het nie en haar permanente vestiging hier op Afsaal.

“Met wat boer jou oupa hier?”

“Hier is net twee melkkoeie wat Oupa ruil vir ander as hulle opdroog. Verder is hier ’n paar hoenders en die winkel. Afsaal is maar ’n uitval stukkie bosveld tussen die rivier laer af en die grootpad, ’n regte plaas is dit nie. Maar dit het al die jare nog in al Oupa Durham-hulle se behoeftes voorsien. En in dié van Stefina en Jantjie haar man en dié se ma, Siena wat twee keer ’n week inkom om vir Ouma in die huis te help.”

“En nou vir jou ook.”

“Vir my ook, ja.”

Dit word ’n uitgerekte kuier met baie vrae, lang redenasies en die een na die ander beker koffie. Twee keer is sy hand oor hare en dit stuur ’n vreemde tinteling deur haar. Hulle raak al meer ingestel op mekaar en na middernag met die groetslag by die voordeur, is dit asof daar iets dwingends in die lug is wat hulle na mekaar toe aantrek. Wie eerste beweeg het weet sy nie, maar toe sy arms honger om haar sluit, gee sy haarself, soek sy meer van hom.

Daar is niks teer in die omhelsing nie. Dis ’n bestorming, ’n hongerte na mekaar. Sy lippe beland op haar voorkop, skuur dan af teen haar wang, vind haar mond en dwing dit oop. Sy nestel haar stywer teen sy ferm lyf, klim in hom in, skuif half tussen sy bene in, voel die stuwing daar. Toe sy hande ’n pad onder haar klere in vind, is dit soos ’n gebiedende hitte op haar kaal rug. Sy strek haar arms oor sy skouers en trek sy kop stywer teen haar vas. So het sy dit nog nooit gehad nie. Dit voel asof sy oplos, of haar lyf wegvloei. Asof iets in haar wat jare opgesluit was, skielik losgelaat is.

Niks is belangriker as die oomblik nie. Nie haar gisters of haar môres nie. Nie die bome nie. Niks, en sy wens dit kan vir ewig aanhou.

Toe hulle later swetend en met jagende asems voor mekaar staan, glimlag hy af na haar. “Tot môremiddag dan,” sê hy tussen sy asemstote deur. “Ons maak dit halfvier, dan bring ek daardie vorms. En ek hou van melktert by die koffie, nè?”

Nadat sy die voordeur agter hom toegemaak het, voel dit asof sy in die lug bly hang. Sy staan met haar rug teen die deur, wag vir die kalmte om te kom. Wat nie gaan gebeur nie, weet sy. Sy het nou ’n drumpel oorgesteek wat alles verander het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s