DINA BOTHA: GESTEELDE SOENE

Gesteelde soene HoeresHy steek sy hand uit. “Sal ek vir ons bid?”

Of dit die kerslig, sy stem of sy versoek is dat hy wil bid, weet sy  nie, maar sy lê haar hand gewillig in syne. Oorwonne deur sy blote teenwoordigheid. Sy vingers sluit warm en sterk om hare en sy maak haar oë toe. Die lewe is uiters onregverdig, kom sy tot ’n slotsom. Hoekom kan hierdie man nie aan haar behoort nie? Hy is dan alles wat sy in ’n man begeer. Sy is op hom verlief, weet sy in een helder oomblik. Dis nie net meer ’n vermoede nie, maar ’n klinkklare feit. Dieselfde eufories verliefde emosies wat sy destyds vir Albert ervaar het, is daar, maar ook ’n warmte wat haar hele wese vul. Haar hart wil nie ophou bons nie. Van blydskap. Van vrees. Van ’n magdom ander emosies.

Toe hy amen sê, maak sy haar oë oop. Wat sy eintlik wil doen, is opspring en weghardloop na waar sy oor haar gewaarwording kan gaan peins. Waar sy die gedagte vir ’n paar minute kan vertroetel en dan met mag en mening weer probeer vergeet. Maar sy kan nie. Decklan sal wil weet wat met haar aangaan. Nee, niemand mag ooit weet hoe sy voel nie. Allermins Decklan.

Sy vermy oogkontak en tel haar eetgerei op. “Smaaklike ete.”

“Nog wyn?” vra Decklan later toe die tafel skoon en netjies afgedek tussen hulle lê.

Uiterlik mag sy dalk kalm lyk maar binne is sy ’n bol senuwees. ’n Tweede glas wyn help haar dalk  ontspan. “Dankie,” sê sy en stoot haar glas in sy rigting.

“Jou kos was heerlik en gesond. Ek is beïndruk.”

Hy klink so kalm en ongesteurd dat sy moet vra: “Is jy nie bekommerd oor Nadia nie?”

“Nee, is jy?” gooi hy haar vraag terug.

“Nee, want ek weet dat Nadia haar soms soos ’n kind gedra en dink sy kry mense terug deur nie haar foon te beantwoord nie. Maar jy is tog haar verloofde.”

Decklan kyk na die glas tussen sy vingers en vind dit skielik vreeslik interessant. “Danielle, soms maak ’n man groot foute en dan weet hy nie hoe om daaruit te kom sonder om sy integriteit te verloor nie. Verstaan jy wat ek sê?”

Sy is te bang om hom te verstaan, want sê nou net sy maak ’n fout? Sy skud haar kop.

Hy lig sy glas na sy lippe en kyk oor die rand na haar. “Ek wil iets aan jou verduidelik, maar ek weet nie hoe nie.”

“Wat is dit?”

“Soms tree ’n man oorhaastig op. Neem hy belangrike besluite omdat hy … eensaam is, moeg gewag is op sy regmatige maat en dan  uit pure ongeduld sien hy eienskappe in iemand wat hom laat dink dat daardie persoon reg is vir hom. Danielle, dis so maklik om toegeneentheid vir liefde aan te sien.”

Danielle sluk swaar. Sy dink nie hy verwag regtig ’n antwoord nie. Dit lyk in elk geval of hy sy gedagtes net hardop uitspreek.

“Die vraag is net,  hoe gaan ’n man terug op sy woord? Wat sê hy vir haar ouers? Sê jy dat jy ’n fout gemaak het of sê jy bloot dat jy  van plan verander het? Die een dag het jy haar nog liefgehad, maar die volgende dag was dit oor. Hoe oppervlakkig en besluiteloos klink dit nie? Wat sê dit nie van ’n man se integriteit nie?”

Decklan se oë vernou asof hy sy ware emosies van haar wil  verskans.

“Ek was nou die aand verskriklik kwaad vir Albert. Hoe durf hy by jou aanlê, terwyl hy ’n verloofde het? Hoe kan hy so swak  en ruggraatloos wees? het ek myself afgevra. Maar nou het ek net simpatie vir hom. Ek verstaan sy posisie. Hy het ook ’n fout gemaak. Dieselfde een as ek. Gedink hy het iemand lief en toe uitgevind hy het nie. Hy het iemand anders lief. Ek is ’n huigelaar as ek hom daaroor veroordeel.”

Ingedagte speel Decklan met die leë glas in sy hand. “Dalk kan jy my sê,  wat doen ’n man in my en Albert se posisie? Gaan hy voort met sy verlowing? Verloën hy sy  hart en geluk en probeer die res van sy lewe ’n leuen leef, of skraap hy genoeg moed bymekaar en maak ’n einde aan die verhouding? Doen hy dit, ontbloot hy sy  swakheid aan die hele wêreld.”

Danielle kry skaars asem. Decklan het nie meer vir Nadia lief nie, is al wat deur haar kop refrein. Tog is sy nog te bang om dit te glo. “Ek dink glad nie dis swakheid nie. Ek dink dis bloot menslik om foute te maak.”

Decklan sit sy glas op die tafel neer en hy kyk reguit na haar. Sy oë is soos ’n oop boek. Versteek niks meer nie.

“Dis egter nie die einde van my dilemma nie. Hoe kan jy vir ’n ouerpaar sê dat jy hulle een dogter nie meer wil hê nie, maar dat die ander een jou hart vinniger laat klop? Die bloed wild deur jou are laat pomp? Dat jy net aan haar kan dink. Haar lag, haar parmantigheid en die omgekraptheid in haar oë.”

Hy praat van haar. Sy is daardie ander dogter. Haar hart wil bars van vreugde. En daardie stemmetjie wat sy heeltyd onderdruk het: Sy was reg. Van die eerste oomblik af kon sy die aantrekkingskrag tussen hulle voel. Daarom was sy so katterig en onvriendelik met hom. Sy het toe al geweet dat sy haarself teen sy magnetisme moet beskerm.

“Maar sê ek dit vir haar ouers, het ek dalk geen kans op geluk met die tweede dogter nie. So iets saai onmin en verdeeldheid.”

’n Bietjie van haar vreugde sterf. Decklan is heeltemal reg. ’n Verhouding wat op so ’n voet afskop, is reeds gedoem. So iets vernietig liefde tussen ouer en dogter en tussen susters en dis amper onafwendbaar dat dit uiteindelik na die twee bemindes sal uitkring. Magteloosheid spoel oor haar en sy sluk moeilik.  Toe word sy kwaad.

“Hoekom het jy dit nou gedoen? Ek … Dit was makliker om te hoop dat jy … nou weet ek en …”

Decklan se oë blink en sy lees vreugde en verwondering en ’n klomp ander emosies in sy oë. Tog sit hy in sy stoel en hy oorbrug nie die emosionele grens tussen hulle nie. “Dan voel jy ook so oor my? Hoe belaglik dit ook al is?”

Sy weet presies wat hy met belaglik bedoel, want twee weke is belaglik kort om verlief te raak. Maar daar kan niks goeds uit hierdie situasie kom nie, som sy al die feite op. Decklan het beloftes aan Nadia gemaak en hy moet verantwoording daarvoor doen. “Nee, ek sê nie ek is … ek sê eintlik niks nie.” Sy spring op. “Dis ’n gemors.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s