BETS SMITH: MARLET SE DROOMMAN

Haar oë gaan vanself toe.

“Salig,” erken sy toe sy opkyk. Sy glimlag vir hom, “Wil jy proe?”

Sy uitdrukking verander terwyl sy vir hom kyk. Die humor stroop van sy gesig af en sy pupille rek. Hy staar woMarlet se droomman (Hoëres)ordeloos na haar, sy vurk  halfpad na sy mond toe.

Verleentheid laat haar wange brand. Dit was die verkeerde ding om te sê, besef sy. Het sy te veel van haar  gebrekkige opvoeding verklap? Mense van Gerhard Maré se klas proe nie uit iemand anders se bord nie. Ma  Daleen kry sowaar die stuipe.

“Dit lýk baie lekker,” erken hy, maar sy mondhoeke bly styf.

Tot haar verbasing leun hy nader en wag. Sy steek haar hand oorstelp uit om sy vurk by hom te vat, maar hy  hou haar hand oomblikke lank vas. “Gebruik sommer joune.”

Wat nou?

Sy steek vir hom ’n stewige hap af, skep dit en hou die vurk na hom toe uit. Hy vat dit nie by haar nie, maar  leun nog nader en maak sy mond oop.

Haar hand bewe en die soet happie wankel gevaarlik. Laat dit tog nie afval en ’n blerts op sy klere mors nie.  Of erger nog, laat sy asseblief nie sy lip of mondhoek met die vurk raaksteek nie.

Haar skouerspiere voel lam toe sy in die donker oë staar na waar ’n miniatuurbeeld van haar weerkaats lê. Sy kry die vurk om de dood nie uit sy mond getrek nie. Sy wil dit nie uitpluk nie, wil dit ook nie laat los dat dit miskien uit sy mond op die tafelblad neerkletter nie.

Uiteindelik sit hy terug en het sy weer haar vurk terug. “Dit ís nogal lekker,” stem hy gelykmatig saam nadat hy gekou en gesluk het.

Lug syg terug in haar longe in. Wanneer het sy ophou asemhaal? Sy hou haar oë op haar bord terwyl sy stem rustig voortdreun, maar sy registreer sekondes lank niks wat hy sê nie.

“Jy het nie net ’n soettand nie, jy is ook ongeneeslik romanties.” Dié stelling van hom dring wel tot haar deur en sy lag spontaan.

“Hokaai nou.” Sy hou haar hand op. “Dis die laaste ding waarvan jy my kan beskuldig. Ek is nie net ’n realis nie, ek is eerder skepties, die ander punt van die skaal.”

Voor sy klaar is, het hy al sy kop begin skud. “Dis nie wat die feite verklap nie.” Sy oë glinster. “Dink maar aan die veranderings wat jy tot dusver by Bateleur gemaak het: ’n romantiese plek vir troues en onthale, die grot as wittebroodsuite.” Hy laat die sin onklaar hang asof hy ruimte laat dat sy nog iets op Bateleur gaan doen wat hy later sal moet bylas.

“Alles praktiese besigheidsbesluite. Dis toevallig dat ’n troupaartjie die buite-venue eerste gebruik het,” wys sy uit. “Dit kon enige ander funksie gewees het. En die grot is ’n blyplek soos enige ander een, waar enigiemand van voëlkyker tot  kluisenaar kan oorslaap.”

“Ja?” vra hy skepties. “Hoekom is die koppie dan klaar die Trouklippe gedoop? En in jou kop is die grot die honeymoon suite, stry?”

Sy gooi haar hande in die lug. “Oukei, oukei, maar dis nie asof ek dit so beplan het nie. Ek het net die moontlikhede raakgesien en gedink dit kan Bateleur se potensiaal vergroot sodat ons meer gereeld vol bespreek sal wees.”

“H’m.” Dit lyk of hy oorgee, tog voel dit of sý die onderspit gedelf het. “Nog koffie? Ek gaan vir my ’n tweede koppie bestel.”

Sy skud haar kop en steek nog ’n stukkie wortelkoek af. Die man kyk ontstellend diep en ontdek dinge in haar wat sy nie eens besef het is daar nie. Netnou ontdek hy ook sy is net so uitmekaar en verkrummel soos die oorblywende koek op haar bord.

Toe sy hand oor hare vou, kyk sy verbaas op.

“Gee die vurk vir my voor jy die hele stuk koek verongeluk.” Sy stem is laag. Toe hy die vurk laai en dit na haar mond toe lig, gaan haar hart dawwerend aan die klop.

Sy maak haar mond oop, hap en kou selfbewus, lek toe haar bo-lip om seker te maak daar bly nie ’n blerts daarop agter nie. Sy oë verdonker en die vurk bly minute lank roerloos voordat hy afkyk om nog ’n happie te skep. Marlet lig haar hand en skud haar kop.

“Dankie, nie nog vir my nie.” Sy klink hees en glad nie seker van haar saak nie, maar sy weet sy sal niks meer afgesluk kry nie – nie met al die vlinders wat in haar maag rondfladder nie.

Hy knik en vra die kelnerin vir ’n wegneembakkie toe sy sy tweede koppie koffie bring. Hy drink die koffie in stilte. Toe die kelnerin die wegneembakkie en die rekening bring, betaal hy en bedank haar beleefd.

“Sal ons gaan?” vra hy. Byna ’n derde van die koffie in sy koppie is nog oor.

Sy knik net. Haar gesels het onverwags opgedroog, maar terwyl hulle terugloop kar toe klop ’n vreemde afwagting deur haar. In die parkeerterrein gaan staan hy stil ’n entjie van die motor af en wys na ’n alwyn. Bokant die oranje blomsuil hang ’n voëltjie in die lug, sy lang bek in die kelk van een van die blommetjies.

“Suikerbekkie,” fluister hy by haar oor.

Sy staar na die voëltjie wat sy vlerkies so vinnig flap dat mens hulle skaars kan onderskei. Daar is nie vlinders in haar maag nie, eerder klein voëltjies, dis die enigste verklaring vir die hewige reaksie in haar binnekant. Sy hou nog asem op, toe vlieg die voëltjie verder.

“Pragtig,” asem sy verwonderd.

Sy hand is warm op haar vel waar skouer en nek aanmekaar kom. Presies waar sy die pols teen haar vel kan voel klop. “Jy’s reg,” sê hy en buk van agter af na haar. Voor sy besef wat gebeur, soen hy haar op die mondhoek. “Bietjie versiersuiker,” verduidelik hy.

Die hele swerm voëltjies in haar maag vlieg vervaard op. “O.” Sy vee met haar voorvinger oor haar lip en kyk terug na hom. “Is dit alles af?”

“Nee.” Hy draai haar heeltemal na hom toe. “Hier is nog ’n bietjie.” Sy lippe roer teen haar ander mondhoek, kuier toe talmend oor haar onderlip, proe-proe oor haar bo-lip voor hy haar styf teen hom vastrek. “Suikersoet.” Toe soen hy haar behoorlik, met dringende oorreding.

Sy laat haar maklik oorreed want sy is te lam om te protesteer. Eers toe ander klante ook by die kwekery uitkom, laat hy haar gaan en maak die motordeur vir haar oop. Sy sak dankbaar in die sitplek neer, haar knieë skielik te lam vir haar gewig.

Sy het skaars tot verhaal gekom, toe klim hy in, leun oor na haar toe en soen haar weer. “Hieraan kan ek maklik verslaaf raak.”

Daarna skakel hy die motor aan en trek besadig weg asof niks uitsonderlik gebeur het nie.

 

3 thoughts on “BETS SMITH: MARLET SE DROOMMAN

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s