Die enkeltitel van die maand!

STILETTO’S VAN STAAL – Bernette Bergenthuin

Drie susters met Boere- en Italiaanse bloed beleef ernstige krisisse in hulle liefdeslewe. Meisies met staal in hulle stiletto’s laat hulle egter nie onderkry nie en elke benoude oomblik word verlig deur Bergenthuin se bekende humorsin.

Stilleto's van staal (Hoëres)

Bernette Bergenthuin se nuwe roman, Stiletto’s van Staal, het sopas oor ons drumpel getrippel en kan deur ‘n ring getrek word.  Of jy nou hemelhoë hakke, ’n fyn paar sandale of gemaklike tekkies dra, hierdie boek is vir jou! Maar wees gewaarsku, die drie Beauman-susters gaan jou op ’n reis neem wat jy nie vinnig sal vergeet nie!

Lona is dertig. Dit opsigself is seker nie ’n vonnis nie, maar ’n man wat spesialiseer as ortopeed en al hoe minder aandag aan haar ouerwordende lyf gee en twee kleintjies wat om haar kloek is ’n ander storie. Vanessa is ’n beroepsvrou en klim die leer van haar pa se maatskappy met ywer en waagmoed totdat haar egte leer Italiaanse hofskoene wreed in hulle tog gestuit word. Sienna is ’n student. Of so dink die Beaumans. Maar haar beste vriend, Benna, weet van beter. Voor die Beaumans hulle kom kry is verskeie koeëls deur die kerk en bewe die drie sussies bra wankelrig op hul polfye.

Lees Stiletto’s van Staal en beleef die Beaumans se lief, leed en veral lag eerstehands! Ons wil ook graag jou stiletto-stories hoor, as jy ’n paar skoene het wat jou deur dik en dun dra of sommer net soos ’n prinses laat voel, deel jou staaltjie met ons en plak sommer ’n foto van die skoeisel daarby!