Uittreksel uit die besonderse verhaal van Madelie Human: Terug na jou.

Terug na jou

Etienne kyk rond na die gaste wat rustig kuier oor geurige borde kos. Skielik verstar hy. By die tafel in die verste hoek van hulle sit niemand anders nie, as Mercia in die geselskap van ’n man. ’n Dolksteek van suiwer jaloesie gaan deur sy hart. Rustige aandjies tuis, nè? Die twee sit met koppe intiem bymekaar en gesels. “Wie is daar saam met jou ma?”

Gerard volg sy blik en bly verbaas stil. “Ek het nie ’n idee nie.”

“Kyk daar, hy soen haar hand en dit lyk of sy dit geniet ook nog.” Etienne sluk byna sy servet, wat hy besig is om oop te vou, in. Nie ’n sosiale vlinder nie, nè? Sy lyk dan alteveel na ’n skoenlapper met daai mooi rok wat sy aanhet en dit vir ’n ander man.

“Rustig nou, Prof,” waarsku Gerard vinger in die lug. “Reël nommer een van die dating game is dat jy nooit moet wys dat jy jaloers is nie. Maak ook eers seker van jou saak voordat jy die ander party van enigiets beskuldig. Dis dalk ’n heel onskuldige uitstappie vir al wat ons weet. Ma gaan gewoonlik slegs uiteet saam met ’n man as dit ’n sake-afspraak is.”

“Sake-afspraak my voet, mens soen nie iemand se hand terwyl jy oor besigheid onderhandel nie.”

“Jy sal jou verbaas wat gebeur in die naam van saketransaksies,” grinnik Gerard met ’n glinstering in sy oog. “Janneli, wie is daar saam met Ma?” vra hy toe Janneli terugkeer van die kombuis af.

Sy gaan sit op die stoel wat die kelner vir haar uittrek. “O, dis die Fransman.”

“Fransman?” vra Etienne met ’n suur smaak op sy tong.

“Dis die hoof van ’n Franse hotelgroep wat gekom het om wynaankope hier te kom doen. Hy en Ma het glo vanoggend ’n reuse kontrak onderteken,” verduidelik sy.

“En hy is so ingenome met die kontrak dat hy haar hande soen? Kyk, daar doen hy dit weer!” Etienne styg byna van sy stoel af op.

Janneli giggel onderlangs. “Die Franse dink mos hulle is die wêreld se beste minnaars. Hulle hou van ’n gesoenery op die hand.”

“Minnaars?” Hierdie keer styg Etienne werklik op. Hy sal die Franse haantjie ’n ding of twee gaan wys! Hy lyk buitendien of hy Mercia se seun kon gewees het. Maar dit sê niks. Is hy dan nie self ’n voorstander van ouderdom wat nie ’n verskil behoort te maak nie? Hy is einste ’n twee en sestigjarige verliefde sot.

“Sit!” sis Gerard en trek hom neer op sy stoel. “Ek sê mos, hou dit kalm. Moenie wys jy is jaloers nie. As jy jou cool verloor, het jy klaar die game verloor.”

“Dis g’n ’n speletjie nie, jong man, my lewe hang hiervan af,” kla Etienne moedeloos.

Gerard kry openlik baie lekker. “Ek het jou mos gesê die prof het die skoot hoog deur,” fluister hy vir Janneli met sy oë spottend op Etienne. “Jy moet maak of dit niks is nie, Etienne. Laat haar al die pad wonder of jy omgee. Dis hoe ’n man dit doen.”

“Luister ou seun, ek is nie meer ’n kuiken nie. Ek het min tyd oor vir die dating game, soos jy dit noem. Ek moet nou my saak beredder, of my koppie sal lankal al begin bewe het teen die tyd dat jou ma haar keuse gemaak het. Ek gaan daai Fransman nou op sy plek sit. Jou ma het net een minnaar nodig en dis ek.” Hy mik weer om op te staan.

Hierdie keer is dit Janneli wat sy baadjie se mou vasvat. “As jy nou ’n spektakel hier veroorsaak, gaan my skoonma jou nooit vergewe nie. Luister na Gerard,” fluister sy dringend.

“Kom, ons bestel liewer vir ons ’n lekker bottel wyn. Waarvoor is jy lus?” vra Gerard paaiend.

Gelate sak Etienne op sy stoel terug. “Ek dink ek het nou eerder van jou oupa se brandewyn nodig,” kla hy dikbek. Gerard en Janneli kyk met baie pret in hul oë na mekaar, maar sê niks. “Ja, kry julle maar lekker, julle hou mos nog steeds wittebrood.”

“Toemaar, Prof, een van die dae eet jy ook wit brood al die pad. Luister net wat ek vir jou sê, dan sal alles goed gaan.”

“Nou glo ek sowaar ook dat liefde dieselfde is vir ouer mense as vir die jongklomp,” Janneli klop hom simpatiek op die hand.

Etienne draai doelbewus sy stoel sodat hy nie vir Mercia en haar vryerige metgesel hoef te kyk nie. Netnou veroorsaak hy werklik ’n spektakel en sy lys van sondes teenoor sy Mia is alreeds so lank.

One thought on “Uittreksel uit die besonderse verhaal van Madelie Human: Terug na jou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s