Thys Krige is terug!

As daar nou een skrywer is wat my daai regte moet-blaai gevoel gee, dan is dit Peet Venter met sy rillers! En hy is terug met die derde aflewering in die Thys Krige reeks, Waar Boosheid Broei.

Dit is die derde spanningsroman in die Thys Krige-reeks, waarmee Venter naam gemaak het en hierdie keer lei Krige se speurinstink hom na Zimbabwe, waar ’n joernalis iets aanskou het wat hom sy lewe kan kos.

Kyk uit vir hierdie enkeltitel wat pas by LAPA verskyn het.

 

Waar boosheid broei

Lees ook gerus my resensie op Peet Venter se vorige Thys Krige-spanningsroman, Ou Bloed:

Onrusbarend, ontstellend, realisties – ‘n maalkolk van emosies met die lees van hierdie boek.

 

Min sal ‘n boek jou so aangegryp en vasgenael hou, vanaf die heel eerste paragraaf van die boek tot aan die einde, soos Peet Venter se Ou Bloed. Die eerste hoofstuk is ‘n absolute kunswerk! Die beskrywing van die karakter se bewings, sy rituele, sy gedagtes. Dit suig jou in, bladsy vir bladsy, sin vir sin, woord vir woord. Elke woord noukeurig uitgesoek tussen ander woorde en versigtig op die regte plek geplaas, sodat die leser nie kan wegkom nie. Al wil jy ook. Want die tema is nié gemaklik nie…

 

Ou Bloed is die opvolg van Peet Venter se Dieper as Bloed wat verlede jaar verskyn het.

Die boek vertel die verhaal van ‘n speurder, Kaptein Thys Krige, wat ná sy pa se moord onverpoos na die moordenaar bly soek. Terwyl hy op die spoor van die moordenaar is, krap hy onwetend die sweer van ‘n sindikaat oop waarvan die bose tentakels wyer en dieper strek as wat Krige ooit kon raai.

Wat Venter goed regkry, is om die storie te weef tot ‘n ingewikkelde, taai, multi-dimensionele storielyn met oorsrponklike temas en karakters. Van ‘n vigilante-moordenaar wat sy moorde slegs op pedofiele mik en wat die storie tot ‘n morele tweespalt dryf, tot ‘n menseroof-sindikaat wat kinders ontvoer en verkwansel, wat die donkerste vlek van die mensdom blootlê.

 

‘n Uiters spanningsvolle verhaal waarby die leser hart-en-siel betrokke raak. Die temas word rou senuweepunte wat sonder genade of verdowingsmiddels geknyp word en jy as leser móét ‘n opinie vorm: wanneer is reg en geregtigheid genoeg? Wanneer word ‘n onvergeeflike daad geregverdig?

 

Howel die temas universeel is, spreek dit dalk selfs duideliker tot die Suid-Afrikaanse gehoor vanweë die bekendheid van ‘n korrupte samelewing, asook sekere unieke kenmerke wat (trots?) Suid-Afrikaans is. Die leser kan daarom vereenselwig met die magteloosheid van die protagonis wat nie alleenlik moet stry teen die drek van die samelewing nie, maar ook teen die regsdienaars wat veronderstel is om beskerming te bied teen hierdie booswigte.

Venter skets ‘n onrusbarende, ontstellende verhaallyn wat wys hoe diep die verval van die mensdom lê. Hoe skynbaar onverwante misdade deel vorm van ‘n ingewikkelde netwerk van boosheid wat die mens op elke vlak in die samelewing raak. As leser raak jy ongemaklik wanneer jy besef hoe na aan die waarheid hierdie storie werklik is.

 

Ek het ‘n bad gaan tap om hierdie boek te begin lees: my intensie, om te ontspan vir ‘n uur of wat. Twee geysers en ‘n hele Sondagmiddag later, in ‘n yskoue bad, het ek die laaste hoofstuk klaargelees. Hierdie boek het my nie toegelaat om hom neer te sit nie!

 

Sterk aanbeveel. Vir albei geslagte ‘n móét lees.

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s