Naaswenner in romankompetisie van LAPA: Wilhelmina Radebe kom tuis deur Marinda van Zyl

Wat ‘n spesiale storie. ‘n Klompie jare gelede het Marinda van Zyl met hierdie storie van Wilhelmina Radebe die tweede plek in ‘n romankompetisie deur Lapa gewen. Hier volg ‘n uittreksel wat die skrywer spesiaal vir ons Romanzalesers gestuur het. Sy motiveer haar gekose uittreksel as volg:

“Ek hoop hierdie uittreksel sal Romanzalesers se belangstelling prikkel, want dit handel oor die begin van ‘n liefdesverhouding wat verrykende gevolge vir al die karakters het. Dit wys ook dat die storie fokus op intermenslike verhoudings en nie op geskiedenis of politiek nie al speel dit in n geweldadige tydperk in ons geskiedenis af. Die uittreksel beklemtoon ook die eendersheid, eerder as die andersheid tussen ons.”

 

Wilhelmina Radebe kom tuisuis (2de uitgawe)

Vrydagmiddag kom Angie direk ná skool huis toe. “Ek wil vanmiddag vir Oumatjie ’n bietjie bederf met ’n ekstra lekker bad. Kyk, ek het dieselfde bubble bath gekry wat Maria altyd gebruik het en vir my self ook ’n bietjie lekkerruikgoed en lipstick en eye shadow. Vandat Maria weg is, kon ek my nog nooit weer bietjie opdollie nie,” babbel sy.

Wilhelmina lê behaaglik terug in die skuimbad. Angie het die bad lekker vol getap. Sy moet week terwyl Angie haar make-up uittoets. Wanneer Wilhelmina haar oë toemaak, verbeel sy haar dis Maria hier by haar.

“Hoe lyk die make-up?” versplinter Angie die illusie. “Dink Oumatjie mevrou Schoeman gaan sê ek moet my gesig was of blend dit genoeg in?”

Wilhelmina kyk verbaas na die gesig van die jong vrou voor haar. Angie is sestien en nie meer ’n kind nie. “Dis baie mooi, maar jy sal eers by jou ma moet verbykom.”

“Aag, my ma sien my nie eens raak nie. Dis net Bertie, Bertie, Bertie, van die oggend tot die aand,” bars Angie skielik uit.

“Jy’s tog nie jaloers op ’n ou babatjie nie?”

“Nee,” antwoord Angie kortaf, “maar Oumatjie kan nie stry nie, elke keer wat my ma moet kies tussen huis toe kom of by die Steyns bly, kies sy die Steyns.”

Wilhelmina is so onkant betrap deur Angie se uitbarsting, sy weet nie wat om te sê nie.

“Maar wat help dit tog ek praat met Oumatjie. Vir Oumatjie is dit mos weer net Niklaas en Maria. By niemand kom ek eerste nie.” Sy bars in trane uit en klap die deur toe.

Dit voel of sy heeltemal verkreukel is voor Angie terugkom om haar uit die bad te help.

“Skies, Oumatjie. Ek het nie bedoel om so af te gaan nie. Dis net, ek wil so graag môre mooi lyk. As Maria hier was, kon sy my hare in cornrows gevleg en my mooi grimeer het. Nou moet ek self sien en kom klaar.”

“Ai, kind, ek het nie besef dat my gedurige gewonder wat van Niklaas en Maria geword het jou so ontstel nie. Jy is mos hier by my. Jy was nog altyd die een waaroor ons ons nie hoef te bekommer nie. Maar dit beteken nie ek is minder lief vir jou as vir hulle nie.”

 

Angie lyk anders. Of sy van binne gloei. Miskien het sy koors van die lang dag in die son. Maar toe Wilhelmina aan haar voorkop wil voel of sy warm is, lag sy dit af. “Sjoe, ek’s só opgewonde oor vandag, al die wonderlike dinge wat ek geleer het.”

Sy sprei foto’s op die tafel oop. “Geneem met mevrou Schoeman se Polaroid. Sy’t gesê ek kan maar eers vir julle kom wys want haar mense sal nie eintlik daarin belangstel nie. Dan hoef Oumatjie nie te wag tot die ander foto’s ontwikkel is nie.”

‘n Foto waarop Angie deur ’n man omarm word, trek Wilhelmina se aandag. Dit kan nie een van die skoolkinders wees nie want hy dra ’n kombers en ’n Sotho-hoed. “En wie’s dié wat so aan jou klou?” onderbreek sy Angie se vertelling.

“Maar Oumatjie ken tog vir Mossie. Mossie Vilakazi,” reageer sy verbaas. “Ons is dan al van standerd ses af in dieselfde klas. Hy was altyd Vrydagmiddae saam toe ons nog kon gaan fliek. Het Oumatjie dan nou vergeet?”

“Mossie was ’n potjierol toe ek hom laas gesien het, ’n seuntjie. Hierdie ene is ’n yslike groot man.”

“Maar hy is mos al ’n man, Oumatjie. Hy’s dan al sewentien.”

“Twak,” sê Wilhelmina en Margaret asof uit een mond.

“’n Kind van sewentien is sommer nog ’n bogsnuiter,” stoom Margaret voort, “en behoort nie so in die openbaar aan ’n meisie te hang nie.”

“Hy’t g’n aan my gehang nie. Hy’t my skrik gemaak met ’n spinnekop. Toe raas mevrou Schoeman en sê hy moet ekskuus vra. Dis toe hy so stuitig was,” verweer Angie haar. “Maar Ma is ’n mooi een om te praat. Was Ma dan nie net sewentien toe Ma getroud is nie?”

Vir ’n oomblik vrees Wilhelmina dat Angie, soos Niklaas, ’n klap gaan kry maar Margaret kyk haar net. “Voor ek my gruwelik vererg, gaan maak ek liewer vir ons tee.”

“Skaam vir jou om so oneerbiedig teenoor jou ma te wees. Onthou net, dit was ander tye. Swaar tye. En nie sy of ek wil daaraan herinner word nie.”

Wilhelmina kyk weer na die foto, herken Mossie toe tog aan sy gelaatstrekke. “Nou hoekom het hy Basotho-drag aan as al die ander kinders skoolklere aanhet?”

“Oumatjie weet mos hy’s altyd vol sports. Dis die klere wat die koor aantrek wanneer hulle Sotho-liedjies sing. Vir ’n besoek aan ’n tradisionele stat moet mens tradisionele drag aanhê, was sy verskoning toe mevrou Schoeman hom uittrap. Dis hoekom hy gekom het as ’n Ma-Rashea, ’n kombersdraer. Toe moes sy ook maar net lag.”

Laaste wys Angie die groepfoto van die onderwysers wat saam was. Dis vir Wilhelmina ’n openbaring om uiteindelik die name wat sy al so dikwels gehoor het aan gesigte te kan koppel. Heel laaste in die ry is ’n skraal blonde man. Hy lyk heeltemal te jonk om ’n onderwyser te wees.

“Dis Anton, die army-outjie.”

“Liewe aarde, is julle onderwysers dan so bang dat hulle tot op ’n Saterdag opgepas moet word? Hy lyk nie juis veel werd as ’n soldaat nie. Die kind het dan nie eens ’n uniform of ’n geweer nie.”

Angie lag terwyl sy die foto tussen die ander inskuif. “Dis hy wat die uitstappie gereël het. Dis hoekom hy saam is. Professor Lombaard is sy oupa.”

Wilhelmina lê nog ’n nag met oop oë in die donker. Iets is anders aan Angie, maar wat? Sou die kind nou muisneste oor die lawwe Mossie hê?

 

One thought on “Naaswenner in romankompetisie van LAPA: Wilhelmina Radebe kom tuis deur Marinda van Zyl

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s