Uittreksel uit Eindelik Liefde deur Marilé Cloete

Sonbruin en selfversekerd verskyn die man in die deur van die trem. Loshande die mooiste voorbeeld van die spesie waarop Anke Viljoen nog haar twee oë gelê het. Deurleefde jeans, stewels wat al ‘n paar kilo’s afgelê het, sterk gesig. Anke kan sweer die temperatuur van die koel Duitse somerdag styg ‘n paar grade toe die vroulike passasiers hom in hulle radar kry. Die enetjie naaste aan hom se gesiggie kry ‘n ligte gloed en sy vat-vat onbewustelik aan die ringetjie in haar onderlip, haar vriendin vee haar mini-rompie glad oor haar sexy paar bene. Self moet Anke konsentreer om nie aan haar hare te begin vroetel nie.

Met sy bos donker krulle, oopnekhemp met opgerolde moue en gehawende rugsak oor die skouer lyk hy soos ‘n swerwer wat nie regtig op ‘n vaal laatsomerdag in ‘n Europese stad tuishoort nie. Hy lyk soos iemand wat wye horisonne ken, iemand wat al ver geloop het en elke oomblik daarvan geniet het. Sy beny hom uit die diepte van haar hart.

Haar kans sal nog kom, sy sal nog wyd reis, veel wyer as Europa wat sy al betreklik goed ken. Die Ooste, Suid-Amerika, Kanada. Dalk vir ‘n paar jaar in die buiteland gaan werk. Vreemde plekke, verre streke, dis wat haar trek, dis wat haar geliefde ouma Santa by haar ingeprent het – hou jou kop oop, verskuif jou grense. En sy is gelukkig met haar beroepskeuse – oral in die wêreld is tog wetenskaplikes nodig, al word hulle nie oral na waarde geskat nie. Net haar doktorsgraad klaarmaak, ‘n bietjie ondervinding opdoen, ‘n lys van publikasies begin opbou. Dan kan sy die langpad vat, haar vlerke werklik sprei.

Die man se oë flits oor die passasiers op soek na ‘n oop sitplek, vir ʼn oomblik fokus hy op haar. Donker, dringende oë, maar oë wat kan glimlag. Daarvan getuig die bekoorlike lagkreukeltjies, afgeteken deur die son van ander streke. Anke sluk ‘n slaggie, dwing haarself om na haar boek af te kyk, maar die epiese tog na die Suidpool waaroor sy aan die lees is, hou skielik vir haar geen bekoring meer in nie. Dalk was dit nie heeltemal die regte keuse vir ‘n Europese besoek nie, maar daardie ure op Charles de Gaulle was eenvoudig te lank en die boekwinkels op lughawens is hoeka vir haar ‘n konstante versoeking.

Dis nie net sy wat onderlangs na hom loer nie. Hy maak ‘n impak op sy omgewing; almal in die tremwa wéét hy is daar. En hy maak ‘n behoorlike impak op die tempo van haar hartklop. Ai toggie, en sy het haarself so mooi belowe sy gaan nie gou weer hierdie soort hartprobleem opdoen nie. Indien ooit.

Langs haar het ouma Santa natuurlik nie ‘n dingetjie gemis nie. Sy sit soos ‘n kleuter in ‘n lekkergoedwinkel en rondkyk, soos altyd nuwe indrukke met amper kinderlike genot aan die indrink. “Mensig, maar dis nou vir jou ‘n meesterstuk,” spreek sy haar mening uit. En nie besonder saggies nie.

Op elke reis verkeer Anke in die vrees dat ‘n Suid-Afrikaner êrens gaan opduik en een van haar ouma se aanmerkings gaan verstaan. Dis net ‘n kwessie van tyd, dit gebeur elke keer. Nie altyd met die beste gevolge nie, want ouma Santa se opmerkings is nie altyd van die vleiendste nie. Met die paar uur se oorstaan in Parys het sy later gevoel haar ore staan sigbaar gespits om tog net die geringste snapsie Afrikaans op te vang. Nie dat ‘n mens in die vervelige ure op ‘n lughawe veel meer kan doen as lees of mense kyk nie, dit moet sy toegee. Haar liewe ouma is nie een vir stilsit en lees as daar nuwe dinge te siene is nie, al is dit maar net moeë reisigers op ‘n lughawe wat soos al die ander lughawens lyk. Maar ai, as sy net ordentlik wou leer fluister, sou Anke se lewe ook minder gekompliseerd wees.

“Van wie praat Ouma tog?” Asof sy nou nie weet nie.

“Van die een wat nou net opgeklim het, natuurlik. Jy maak verniet of jy hom nie raakgesien het nie, kindjie.” Ouma Santa se mond maak ‘n plesierige bogie na bo, haar blou oë vonkel ondeund. “Hy weet natuurlik baie goed die vrouens kyk vir hom. ‘n Man wat gewoond is aan aandag, hierdie ene.”

“Sjuut, Ouma, netnou is hier iemand wat Afrikaans verstaan.” Anke probeer haar bes om haarself onsigbaar te maak. Haar ouma is te klein om agter weg te kruip en haar eie bos rooi hare trek in elk geval aandag net waar sy gaan. Sy het as student al geleer om dit liewer ‘n bate as ‘n las te maak. Net soms wens sy sy kon effens minder opvallend deur die lewe gaan.

Dis egter klaar te laat vir wegkruip. Die man het die oop sitplek skuins oorkant die paadjie raakgesien en kom doelgerig daarop afgestap. Anke voel soos ‘n voëltjie in ‘n wip; sy voel hoe hy weer op haar fokus, hoe sy oë haar dwing om op te kyk. En in daardie oë sien sy dit: Hy het hulle verstaan.    Eindelik liefde

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s