‘n Lekker lusmakertjie: uittreksel uit Man met Integriteit deur Dina Botha

Toe die hysbak begin beweeg, dreig haar keel om toe te trek. Sy dwing haar om kalm te bly en egalig asem te haal. Sy waag ’n blik in Streiger se rigting, maar met sy hande in sy broeksakke gedruk staar hy na die syfertjies bokant die deure. Die hysbak kom op die derde verdieping tot stilstand en sy wag dat die deur oopgaan. Dit gebeur nie dadelik nie.

“Moes die deur nie al oopgegaan het nie?” vra sy effense hees.

“Ek hoop nie die ding het gaan staan nie,” antwoord Streiger bekommerd. Hy haal sy hande uit sy sakke en druk ongeduldig aan die knoppies. Die deur gaan nie oop nie en die hysbak beweeg nie. Paniek vlam witwarm in haar op. Dalk is dit ’n goeie tyd om vir Streiger te sê dat sy ’n fobie vir hysbakke het. Ten minste sal hy weet wat om te verwag as sy histeries sou raak.

“Streiger, ek … Daar is iets …”

Die ligte in die hysbak flikker onverwags en haar gehakkel breek stomp af.

“Streiger!”

Samantha is nie seker hoe dit gebeur het nie, maar haar arms is om sy nek en sy arms knel om haar middel. Daar is skok in sy oë, maar ook net vir ’n oomblik want die ligte doof heeltemal uit. Of het dit? Want al wat Samantha voel, is Streiger se warm lippe op hare en sy arms wat nog stywer om haar middel vou. ’n Heerlike warmte sypel deur haar snaarstywe lyf. Sy hoor ’n kreuntjie, maar hoop dis net iewers is haar kop. Sedert daardie eerste dag is sy kantoor het sy ’n heimlike begeerte gehad dat dit wel eendag sal gebeur. Dat sy op een of ander manier net vir ’n oomblik of twee in sy arms sal beland. Want meisies droom dikwels oor sulke oomblikke. In die meeste gevalle realiseer dit nooit. Maar terwyl dit nou ’n werklikheid is, kan sy net so wel die oomblik uitrek – dit uitbuit.

Sy een hand gly af tot op sy bors en deur sy hemp voel sy sy hartklop. Vinnig en onstuimig, nes hare. Haar ander hand kelk om sy nek en sy vel is warm onder haar vingerpunte. Toe stoot sy haar vingers onder sy hare in. Dit gly sysag tussen haar vingers deur.

Streiger trek sy lippe weg van hare, maar net omdat hy die sagtheid van haar nek opsoek. Net betyds keer sy ’n tweede kreuntjie. Sy het nog nooit ’n man met ’n baard gesoen nie, ook nog nooit een in haar nek gevoel nie, maar daar is iets ongelooflik manliks en eroties aan die gebaar. Hoendervleis hardloop in sarsies teen haar arm af en elke keer maak dit haar bene nog lammer. Maar dis nie net die baard nie, dis Streiger se hele manlike essensie wat haar swak maak, haar swaarder teen hom laat aanleun.

Die hysbak se vloer ruk onder haar voete en dis genoeg om haar na die hede terug te pluk. Terug na haar vrees vir hysbakke. Haar oë vlieg oop. Die hysbak se ligte is aan en helder en sy kyk hom verstar aan. Is dit skok oor haar optrede wat sy in sy oë sien? Het sy die arme man nou uit sy geloof gesoen? Sy tree vinnig weg, maar haar bene is nog effens lam. Sy val amper met haar rug teen die hysbak se kantpaneel.

Streiger se arm skiet uit en hy hou haar arm vas totdat sy haar ewewig herwin het. “Stadig, Samantha,” maan hy is ’n onvaste stem.

“Ek …” probeer sy iets uitkry, maar dis net ’n hees krapgeluid wat oor haar lippe kom.

Die hysbak se deur skuif oop, stadig. Altans, dis hoe sy dit in haar gespanne toestand waarneem. En daar is Streiger se oë wat weier om hare te laat gaan.

Die hysbak se ligte flikker weer en dié keer is dit genoeg om lewe in haar verstardheid te bring. In haar haas om by die deur uit te kom struikel sy byna oor haar eie voete. Sy onderdruk die drang om summier in ’n rigting te hardloop, want sy het geen idee of dit die sewende verdieping is of nie. Nogtans draai sy weg, want waarheen sy ook al nou gaan, dit sal met die trappe wees.

“Wag, Samantha,” beveel Streiger dringend.

“Ek … dis laat. Ek wil gaan slaap.”

“Nie voor ons gepraat het nie.”

Ten minste het een van hulle sy normale stemtoon teruggekry, dink sy voordat sy omdraai en na hom kyk. Sy wag dat hy verder praat, maar hy sukkel om sy sinne te formuleer. Haar instinkte om selfbehoud skop is. Daar is net een ding wat haar nou in hierdie uiters ongemaklike situasie gaan red en dis aanval.

Sy gee ’n tree nader aan hom en kyk hom beskuldigend aan. Haar hande uitdagend in haar sye gedruk. “Hoekom het jy dit nou gaan staan en doen?” vra sy terwyl haar asem nog hoorbaar jaag.

Streiger hark sy vingers deur sy hare; ’n teken dat dit hom ook onkant gevang het. “Dit was nie ek nie, maar jy.”

Sy trek haar asem hard in en veins verontwaardiging. “Jy is laf. Hoekom sal ek so iets inisieer? Nee, ek gaan nie hier bly en sulke aantygings aanhoor nie.” Sy probeer by Streiger verby druk, maar hy staan soos ’n geplante paal voor haar.

“Gaan jy nou bedank?”

Sy skrik en haar gedagtes slaan bollemakiesie soos sy dit probeer verwerk. Is dit wat hy van haar verwag? Natuurlik, dis juis oor dié tipe ding dat sy assistente die een na die ander die trekpas gekry het. En nou het sy in presies dieselfde slaggat getrap.

“Nee, maar … gaan jy my afdank?”

Is dit verligting wat vlietend oor sy gesig gespoel het? Sy is nie seker wat sy gesien het nie.

“Oor ’n soen waarvoor nie ek of jy verantwoordelikheid wil neem nie? Nee, ek gaan dit beslis nie doen nie.”Man met integriteit

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s