Madelie Human se nuutste juweel: Le Fleur se hartebreker

Die  Maand Van Liefde doen sy woord gestand en bring vir ons emmersvol liefde. Lees hierdie uittreksel uit Madelie Human se nuutste juweel: Le Fleur se hartebreker.

 

Madelie Human se nuutste juweel

Madelie Human se nuutste juweel

 

LE FLEUR SE HARTEBREKER – Madelie Human. Romanza, Februarie 2014

 Voor die oestyd verby is, is Janneli een van die vroue in sy album vol gewese meisies. Dit is wat die Franschhoekvallei se hartebreker haar wed! Wel, ons sal sien, besluit Janneli

Proestukkie uit Le Fleur se hartebreker:

Skoon bemoerd pluk Gerard sy bakkie in rat. Hy is nou behoorlik gatvol om van sy sogenaamde reputasie te hoor. Ja, hy geniet die geselskap van vroue, en hy hou boonop van variasie. Nog nooit het hy toegelaat dat ’n verhouding te ernstig raak nie, want ’n strop om sy nek soek hy nie. Vroumense sien alewig wit rokke en huweliksklokke die oomblik wat hy te veel aandag aan een van hulle gee. Daarom glo hy aan afwisseling. Elke paar weke ’n ander een, dan kry niemand die verkeerde idee nie.

            Nou is die oulike rooikoppie ook nog op sy case daaroor. Hartebreker, inderdaad. Dis daai simpele Suna Vermaak, wat as ’n grap vir hom die verdomde album met koerantuitknipsels vir sy verjaardag gemaak het. Hy sal die gastehuisbestuurdertjie wys.’n Plan van aksie, dis al wat hy nodig het. Hy parkeer langs die landgoed se wynkelder en klim uit.

            “Hei, daai suur gesig van jou sal ons wyn se suikergehalte beïnvloed,” begroet Darius hom toe hy die gebou binnekom.

            “Moenie oor jy die afgelope tyd vandat jy gehoor het jy gaan pa word en ewe breëbors hier rondloop, dink ons moet almal alewig wye glimlagte op ons gesigte hê nie, broer,” grom Gerard dikbek. Hy’t ’n koppie koffie en miskien ’n bietjie simpatie kom soek, nie slimpraatjies van sy ouer broer nie.

            “Hokaai nou! Wat byt jou vanmôre? Kom kry koffie in my kantoor, dalk help dit.”

            Hulle stap aan na die kelder se klein kantoortjie wat Darius en Bea deel. “Nie wat nie, wie. Dis daai rooikoppie daar in die gastehuis.”

            “Aha!” Darius tel die warm pot van die koffiemasjien af op en skink twee bekers vol.

            “Watse ge-aha is dit met jou? Sy vryf my skoon verkeerd op.” Gerard kry melk en suiker, neem ’n sluk en verbrand byna sy mond. Dis nie sy dag vandag nie.

            “Gister in die vergadering het dit vir my gelyk dis jy wat die opvryf-ding doen, nie sy nie.” Darius raak tuis agter sy lessenaar met sy beker koffie, rustig soos altyd. Gerard sal dit nooit teenoor sy ouboet erken nie, maar hy wens soms hy kon meer soos Darius wees – so doodseker van wie en wat hy is en wat hy uit die lewe wil hê. Die enigste keer wat hy sy broer onseker gesien het, was toe Bea hom ’n opdraande stryd gegee het aan die begin van hul verhouding.

            Gerard stut homself op die hoek van Bea se lessenaar. “Sy’t daai simpel album gesien wat Suna vir my dertigste verjaardag gemaak het en nou noem sy my ’n hartebreker.”

            Darius se skouers skud van die lag, maar hy sê niks, neem net ’n slukkie koffie.

            “Wat lag jy?”

            “Bea was reg. Hier kom ’n ding. Ek het jou nog nooit so omgekrap oor ’n vroumens gesien nie. Jy’s mos die een wat weet hoe om vroumense te hanteer, wat’s dit dan nou met jou?”

            “Ek is die donner in, dis wat. Wie is sy om iets oor my reputasie te sê te hê?” Gerard drink sy koffie klaar en sit sy beker met ’n stamp neer.

            “Dit het gister vir my gelyk of sy ook nie juis onaangeraak is deur jou nie.”

            “Hoe meen jy nou?”

            “Die lug het behoorlik gekraak van die vonke tussen julle twee daar in die vergadering. Dis gewoonlik ’n teken van aangetrokkenheid?”

            “Ga! Aangetrokke se voet. Afgestoot, ja. Toe ek net aan haar hand raak, blaas sy behoorlik soos ’n kwaai verkleurmannetjie vir my.” Gerard spring op en gaan staan met sy een hand in sy sak voor die venster.

            “As ek reg onthou, het ’n baie ervare loverboy my ’n bietjie meer as twee jaar gelede die raad gegee dat vroumense baie mooi woorde nodig het om hulle gelukkig te hou. Miskien moet jy jou eie raad toepas,” gaan Darius met sy tong duidelik in sy kies voort.

            Gerard se oë vernou en hy gluur sy broer aan. “Jou bliksem. Jy’s baie smug nou dat jy getroud is, nè?”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s