Eksklusief vir Romanzabloglesers: 2 opwindende uittreksels uit Irma Joubert se nuutste roman, Tolbos!

Irma Joubert was so gaaf om vir ons lesers ‘n spesiale, eksklusiewe bederf te stuur: twee uittreksels uit haar nuutste roman, Tolbos, die laaste aflewering in die Tussen Stasies trilogie. Sy het hierdie twee stukkies spesiaal vir ons lesers uitgesoek! Met die lees van hierdie teks is ek dadelik vasgesuig in die storie. Dis wat ek bedoel met “stories-wat-jou-nie-laat-los-nie”.

Vir ons Wes-Kaapse lesers: Irma is besig met die Kaapse draai van haar boektoer. Ek plaas haar program onderaan. Kom gesels met Irma en maak seker jy laat jou boeke teken.

 

Twee stukkies uit “Tolbos” deur Irma Joubert

Uittreksel 1:

Sy dink ’n oomblik. “Jacques, hoekom kan ons nie ook sulke musiek in Afrikaans hê nie?”

“Is wat James en sy band probeer doen,” sê Jacques en sit regop. Hy neem nog ’n sluk van sy bier, steek twee sigarette aan, gee vir haar een. Die rokie krul lui boontoe.

“Maar dis net ’n handjievol mense wat dit hoor, dié wat na die Jameson’s gaan. Hoekom speel die SAUK nie sy musiek nie?” vra sy.

“Have ’n heart! Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie Korporaal speel? Dink jy dis wat hulle ingegrensde luisteraars wil hoor?” vra Jacques meer driftig as gewoonlik. Hy rank uit die bank op, stap na die musiekstel. “Die probleem met die Afrikaner is jy moet die regte kerk bywoon, vir die regte party stem, vir die regte rugbyspan cheer, na die regte soort musiek luister. Never mind boeremusiek, hierdie stroperige vier-beat gekattekerm oor die liefde en rose en seemeeue en troepie-doepies sal nog my dood beteken.”

Katrien begin lag. “Jy hou regtig nie veel van …”

Maar Jacques is nog nie klaar gepraat nie. “Daar is nie plek vir Afrikaners wat bietjie anders dink nie,” sê hy ernstig.

Katrien trek haar wenkbroue op. “Ons dink anders, ek en jy. Waar hoort ons dan?”

“Ek is nie ’n Afrikaner nie, ek is ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, soos Judy sê.”

“Dis nie waar nie, Jacques,” sê Katrien dadelik. “Jou uitspraak verraai jou, ook dit wat jou omkrap. Jy voel jou verantwoordelik.”

“Not, glad nie,” sê Jacques hurk voor die kas om ’n ander band uit te soek. “Ek weier om verantwoordelik te voel vir die regering se gemors, ek stem nie eens vir hulle nie.”

“’n Mens kan nie net ophou om ’n Afrikaner te wees nie, dit het ek uitgevind,” sê Katrien. “’n Jood is ’n Jood, so ook ’n Griek of Duitser of Chinees, hulle is wat hulle is, hulle kan nie net ophou om dit te wees nie.”

“My ma het my jare terug probeer grootmaak binne die Afrikanerkultuur, ja, maar dit het nooit deel van my make-up geword nie,” sê Jacques. “Daar’s net te veel stuff: die politiek, die Bles-en-Sonja-musiek, die eng Calvinisme, die … Bróéders. Nee dankie.”

 

*          *          *

 

Uittreksel 2:

Sy ma en pa is reeds by Natasha in die kamer toe Wladek instap. Die babatjie lê in ’n bababed in die hoek. Hy groet vrolik en buk oor die dogtertjie. “Wat ’n pragtige kind, lyk na my toe ek so groot was,” sê hy.

“Wladek, praat,” sê ma Han saaklik. Sy is bleker as gewoonlik, sien hy dadelik, ’n spiertjie spring-spring in sy pa se wang. Natasha lê verskrik teen haar spierwit kussing.

“Dis sulke tyd,” sê Wladek.

Ma Han trek haar asem net effens in, verder staan sy doodstil.

Pa Stan knik. “Die toer?” vra hy.

“Dis ’n manier om uit die land te kom,” sê Wladek. “Dis dalk makliker om vanuit êrens in Tsjeggo-Slowakye te ontsnap. En dan het ek minstens ’n paspoort. Anders moet ek nou hier verdwyn, ek kan nie terug Krakow toe nie.”

Pa Stan knik weer. “Wat dink jy?”

“Ek wil nie landuit nie, ek sal verkies om hier te verdwyn, ek glo ’n mens kan.”

Maar nou skud pa Stan sy kop. “Hulle het bloedhonde oral, hulle sal jou enige plek uitsnuffel.”

“Jy moet gaan, Wladzio,” sê ma Han se sterk stem.

Wladzio.

Die emosie druk verstikkend in Wladek se keel op.

“Jy moet uit die Oosblok kom, Weste toe,” sê pa Stan. “Memoriseer oom Jakób se telefoonnommer. Bel hom of stuur ’n telegram wanneer jy uit is, hy sal reël dat jy by hom kom, hy sal sorg dat jy geld het.”

“Hulle sal weet van oom Jakób ook,” besef Wladek skielik.

“Gaan dan na ’n Britse ambassade, nie Suid-Afrikaans nie, vra dadelik vir asiel,” sê ma Han.

“Of ’n Amerikaanse ambassade, of Nederlands,” voeg pa Stan by. “En vlug te voet oor die grens, moenie jou paspoort gebruik nie.”

“Ek sal,” sê Wladek, maar sy stem klink vreemd.

Skielik tree ma Han vorentoe, haar sterk arms oop. “Wladzio?”

Hy gee een tree in sy ma se arms in, hy vou sy arms om haar, hulle klou soos drenkelinge aan mekaar.

Dan maak hy sy ander arm oop, trek sy pa ook in.

Hy voel hoe eers sy ma ruk-ruk, dan ook sy groot, sterk pa.

Hy trek sy asem diep in en tree terug. “Ek gaan tydelik omdat ek moet,” sê sy sterk stem. “Ek kom terug so gou ek kan, ek glo dit sal binne die volgende jaar of vyf wees.”

“Jy moet nou gaan,” sê sy pa.

“Sê vir my broers …”

“Ons sal,” sê sy ma ferm. “Gaan veilig, Wladzio, kom veilig terug. Mag die Moeder van God by jou bly.”

 

Irma se Wes-Kaapse program:

 

Irma Joubert Wes-Kaap toer

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s