Proestukkie uit Dirna Ackermann se Splinternag

Zilke hoor die voetstappe voor sy hom sien en haar balhorige hart doen ’n opskop voor dit in haar kuiltjie lêplek soek. Hy kom so twee tree voor haar tot stilstand. Haar treë. Nie sy langes nie.

Sy kan hom ruik. Iets vars. Subtiel. “Hallo.” Tot meer is sy nie in staat nie.

Sy oë fynkam haar van kop tot toon en terug. Vat-vat stadig oor haar gesig asof hy die afmetings in sy geheue wil vaslê, kom tot rus op haar mond. “Is jy oukei?”

Haar blik haak in syne vas. Daar is dit weer. Hierdie man se omgeehart.

“Jammer ek kom nou eers weer hier uit, maar ek was gister Houtbaai toe.”

Hoe gemaak met die begeerte om teen sy bors vas te kruip, haar gesig diep in die voue van sy

leerbaadjie te druk en te vra dat hy haar moet vashou tot haar wêreld weer op sy voete staan? Of tot hulle oud is. Watter een ook al laaste kom.

“E . . . ek’s oukei. Dankie.”

Sy vuiste verdwyn in sy baadjiesakke. “Nee,” skud hy kop. “Dis nie waar nie. ”

“Hoe . . .” Zilke moet eers haar droë lippe met haar tong klam vee. Cade se pupille rek. “Hoekom sê jy so?”

’n Haarstring val oor haar wang en sy sukkel met die opgebondelde lotjie in haar nek toe sy hande uit sy sakke kom. Sy vingers woel onder haar hare in, die drukking warm haar kopvel. Sy duime teen die ronding van haar kaak.

Zilke moet sy polse vasvat om staande te bly toe hy hewig frons. “Waar is jou verloofring?”

Veilig toegesluit in haar kas waar so ’n kosbaarheid hoort. “Ek het dit e . . . by die huis vergeet.”

“Van wanneer af vergeet ’n vrou haar verloofring?”

“Cade.” Dis so hittete, want haar hande wil nie met haar kop saamwerk nie, maar sy kry dit reg. Trek syne los en laat dit dadelik val, maar sy staan met haar rug teen die muur. Letterlik. Sy kan nie wegbeweeg nie. Diep asemhaal, maan sy haarself. “Was daar iets wat ek vir jou kan doen?”

Weer verdwyn sy vuiste in sy sakke, maar die frons bly sit. “Wat het jy Donderdagmiddag in die

verouderingskelder kom soek?”

“Ek was nie . . . O.” Dit voel na ’n leeftyd gelede. “Ek wou iets vra, maar het vergeet jy moes Konrad se gaste ontvang.”

“Wel?”

“Wel wat?”

“Wat wou jy vra?”

“Ek gaan koffie maak. Wil jy ook hê?” Enigiets, solank sy net meer spasie tussen hulle lywe kan bewerkstellig.

“Dankie.” Hy gaan staan voor die skildery op haar werktafel terwyl sy besig is. “Wat wou jy my vra?”

“Hoe is dit dat jy Duits, boonop in Gotiese skrif, kan lees?”

Hy lag. “Is daar iets vreemds aan?”

Sy kan nie anders nie, sy lag saam. “Oukei, dis nie heeltemal so vreemd dat iemand kan Duits lees nie, maar Gotiese skrif?”

“Ek is van kleins af gek na die Duitse heldeverhale en my ouma het later moeg geraak om

dit te vertaal uit die oorspronklike werke wat haar pa nog saamgebring het Suid Afrika toe. Toe het sy my maar geleer om dit self te lees. Ek hou vandag nog daarvan en het al rakke vol versamel.”

“Waar?”

“Waar wat?”

“Waar is dit?”

“Hoe ver het jy toe gekom met die herstelwerk?”

Zilke bekyk die man. Die donker skadu op sy wange wat verklap hy het nie vanoggend geskeer

nie. Die ronding van sy onderlip . . . Dis met inspanning wat sy haar dwalende gedagtes terugruk. “Jy verander die onderwerp.”

“Ja.”

“Hoekom?”

“Omdat ek graag wil weet. Hoe ver het jy gekom met die herstelwerk?”

Zilke wink hom nader. “Kom kry vir jou melk en suiker.” Wat steek die man weg?

Hy kom weer tot byna teen haar, kyk nie eens na die koffie nie. “Was dit darem die moeite werd?” Hy is so naby dat sy haar weerkaatsing in sy oë kan sien en haar gedagtes verlaat haar kop. Sy moet nogmaals haar droë lippe lawe.

“Moenie.” Sy stem rasper, maar die klank rafel soos vlindervlerkies oor haar. Liefkosend. Rillend

lekker.

“Moenie wat nie?”

“Jou lippe natlek nie. As jy dit weer doen, gaan ek jou soen.” Hy vou sy arms. “Ek waarsku jou

maar net.”

Sy wil nie gewaarsku wees nie. Zilke skraap die obstruksie van haar stembande af, tel haar beker op en moet met albei hande keer dat die inhoud nie oor haar spat nie.

“Was wat die moeite werd?”

Hy gooi twee hoog vol lepels suiker in, sy oë op sy hande. “Die uitstalling.”

Neutrale grond. Van pure verligting versluk sy haar amper aan die hittige vloeistof.

Hy lag. Daardie mooi lag. Die een wat sy tot in haar tone voel. “Haastige hond verbrand haar mond.”

 

As hierdie jou nou lus gemaak het vir nog, soos vir my, is daar goeie nuus: haar boek is reeds beskikbaar. Sal dit nou nie ‘n lekker agteroor-sit-en-ontspan boek vir die naweek wees nie? Ek jeuk vir so ‘n lekker bederfie die naweek….

 

Dankie, Dirna, dit lyk na ‘n heerlike lees.

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s