Lekker uittreksel uit Handomkeer van Madelie Human

As jy nog nie Madelie Human se Handomkeer gelees het nie, sal jy hierna moontlik baie lus voel vir hierdie stukkie lekkerte…

Proestukkie:

Met ’n onderlangse swetswoord spring Darius uit die viertrek uit en stap blindelings tussen die rye druiweplante in. Wat het van sy plan geword om haar onder werk toe te gooi? Hy het in sy siel in skoon daarvan vergeet. Terwyl hy heelweek soos ’n besetene gewerk het om haar teenwoordigheid  te probeer ontvlug, het hy nie vir een oomblik daaraan gedink hoe frustrerend dit vir haar moet wees om feitlik niks te hê om te doen nie. Hy’t geweet sy gaan vir hom niks anders as ellende bring nie. Met ’n grom buk hy by ’n wingerdstok en bestudeer die druiwe, pluk ’n korrel en breek dit oop. Haar gesig verskyn skielik reg voor hom tussen die druiweblare.

“Kan jy nie saam met my werk nie, of wil jy nie saam met my werk nie? Is die feit dat ek goed gekwalifiseerd is en dat my vorige werkgewers met die hoogste lof van my werk praat nie goed genoeg nie? Kan jy dit nie vat dat ’n vrou jou gelyke kan wees nie? Is my teenwoordigheid in jou kelder te veel vir jou kosbare manlike ego?” Bea pluk ’n druiwekorrel, breek dit oop en steek die een helfte in haar mond, kou stadig. Hy kan letterlik sien hoe sy haar ergenis inteuel en hoe dit oorsit in suiwer ekstase en fokus op die vrug in haar mond.

Darius sluk droog. Hier tussen die groen van die wingerd en die pers van die druiwetrosse is sy in haar liggeel T-hemp iets om te sien. Gefassineerd verkyk hy hom en vergeet skoon van die korrel wat hy self wou pluk om te toets met die Brixinstrument wat hy uit sy sak gehaal het.

Daardie verloklike rooi mond, die ontwykende lentereuk. Dit maak dat hy weer voel soos ’n verdomde skoolseun met sy eerste aanval van hormoonoorlading. Dis wat hy teen haar het, nie haar bekwaamhede nie! Hoe de hel kan hy vir haar laat verstaan dat haar blote verleidelike teenwoordigheid sy probleem is en nie dit wat op die stapel sertifikate en verwysingsbriewe in haar portefeulje geskryf staan nie?

Dis alreeds moeilik genoeg om dit wat hy as sy persoonlike domein sedert sy oupa Dawid se dood beskou, met ’n buitestaander te moet deel. Is dit nou nodig dat haar blote teenwoordigheid hom begogel elke keer wat sy binne ’n paar treë van hom af kom? Is daar dan geen genade vir ’n arme man nie? Darius druk die korrel stukkend  om ’n druppel sap op die instrument se sensortjie te kry sodat hy kan toets of die suikergehalte reg is. Hy druk dit egter met soveel mag, dat die sap hom in die oog tref.

Hy swets binnesmonds, vee die sap vies uit sy oog en moet desnoods ’n ander korrel pluk om sy toets mee te doen. Terwyl hy op die resultaat wag, kyk hy vies na haar. Die klein verleidster staan en rol die vruggie op haar pienk tong en hy kreun innerlik. Die rooi bekkie waarop druppels druiwesap huiwer, trek op ’n tuit, haar sagte oë skitter en skynbaar doodseker van haar saak, verklaar sy triomfantelik: “Gerard was reg. Hierdie druiwe is gereed vir pluk. Die suikergehalte proe vir my reg. Ons kan dit met jou Brixtoets bevestig, maar die belangrikste is dat die kleur van die pitte perfek is.” Sy bekyk ’n pit op die punt van haar vinger en skiet dit deur die lug.

Sonder om op die uitslag van die toets te wag, trek sy die dop van ’n druif af en kou takserend daaraan. “Ek wed jou die tannienvlakke is ook reg. En …” sy wys met ’n vinger na sy bors daar waar sy hart soos ’n goedkoop koshuiswekker hamer. “…vandag gaan jy na my voorstelle vir nuwe versnitwyne luister. Ek was lank genoeg jou liasseerklerk. Ek is as wynmaker aangestel en as jy nie daarmee saamstem nie, neem die saak met jou familie op.” Met daardie vorstelike verklaring en ’n houdinkie wat dit perfek illustreer, draai die klein watsenaam soos ’n wafferse prinses om en stap terug na die geparkeerde voertuig toe.

Darius sug dat die druiweblare in sy omgewing wapper daarvan en staan van sy hurke af op. Kopskuddend stap hy dieper in die wingerd in om nog ’n paar toetse uit te voer om doodseker te maak die druiwe is gereed vir pars. Dit het hy nou van sy ma en sy broer se agteraf gekonkel, dink hy moerig. Hulle wou kwansuis sorg dat hy meer tyd vir rus en ontspanning kry. Hierdie klein bondeltjie vroulike listigheid gaan hom veel eerder sy laaste bietjie rus en vrede ook nog kos. Dis vir seker.

One thought on “Lekker uittreksel uit Handomkeer van Madelie Human

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s