Proe-stukkie: Man van Formaat

Marie-Louise Cronje

Marie-Louise Cronje

Kat moet lag toe sy Vrydagmiddag die kombuis binne stap en Rob met ‘n mes en ‘n bak aartappels by die tafel aantref.

“Wat op die aarde vang jy aan?”

Hy grinnik toe hy die vraende uitdrukking op haar gesig sien.

“My ander niggie het my in die werk gesteek. Volgens haar het ek nou lank genoeg lyf weggesteek en is dit tyd dat ek my verblyf hier begin verdien.”

“Vera het dit gesê?”

“Wel, miskien nie in soveel woorde nie, maar sy is heeltemal reg.”

Kat sit die inkopiesakke op die kas neer. Rob het laas week geld in haar rekening laat oorplaas en haar gevra om vir hom ‘n skootrekenaar en ‘n nuwe selfoon aan te skaf. Hy was baie spesifiek en die bedrag wat sy op die twee artikels spandeer het, laat haar nou nog wonder waar hy soveel geld kry om rond te gooi sonder om te blik of te bloos.

Drie dae gelede was daar weer ‘n groot bedrag in haar rekening oorgeplaas. Sy het hom daarna uitgevra, maar hy het haar net ongeёrg meegedeel dat dit sy skuld vir afgelope drie weke se verblyf behoort te dek. Hy het non-chalant bygevoeg dat sy hom maar moet laat weet as hy haar nog iets skuld.

Sy moes die vrae terugsluk. Dit het niks met haar te doen nie. Hy het vir sy verblyf betaal, ver meer as wat hul tarief is. Hy is ‘n gas en sy lewer ‘n diens. Of hy ‘n bank beroof het of nie, dis waar haar betrokkenheid met Rob van Eck ophou.

Sy pak die inkopies tydsaam weg, vou die sakke netjies op en skakel die ketel aan voor sy omdraai na hom.

“Weet jy ooit hoe om aartappels te skil?”

Sy mondhoeke vertrek in ‘n breё glimlag.

“Haai, daar is ‘n paar dinge van kosmaak wat ek jou kan leer wat jy nooit geweet het nie.”

Nog ‘n aartappel verdwyn tussen sy groot hande. Die manier waarop hy die mes hanteer, laat Kat sidder.

“Gee vir my. Netnou sny jy jou vinger oop en dan raas Vera weer omdat ons haar skoon vloer bemors het.”

Haar hande sluit om syne, maar hy laat nie die mes of die aartappel los nie. Haar gesig is eensklaps baie naby aan syne en sy oё lag in hare.

“So, jy gee meer om vir Vera se skoon vloer as vir jou pasiёnt se gesondheid? Wat se tipe verpleegster is jy?”

“Die kwaai tipe wat nie sal skroom om jou krukke weg te neem en jou terug te stop in die bed nie. Gee die mes.”

“Allakragtie, maar jy kan jou gewig vreeslik rond gooi. Is jy altyd so ‘n ‘kruitjie-roer-my-nie,’ Matrone?”

Kat kyk ondersoekend af in sy oё. Die vryheid wat die krukke hom bied, het van hom ‘n totaal ander mens gemaak. Dis asof hy meer ontspanne is en die terggees wat nou en dan sy kop uitsteek, verklap dat daar ‘n ander, beter tyd in Rob van Eck se lewe was. ‘n Tyd waar die lag maklik gekom het en sorge baie ver op die agtergrond geskuif is…

“Nee. Ek kan eintlik baie goed en gaaf wees as ek wil. Alles hang van die pasiёnt af.”

Sy kop kantel en nou is sy gesig maar sentimeters van haar eie. Die ontspanne luim wat oomblikke gelede nog tussen hulle geheers het, is weg en die atmosfeer is eensklaps gelaai. Sy hand vou om haar agterkop om haar nader te trek. Kat spring byna terug, weg uit sy aanraking; weg van die onsigbare houvas wat hy skielik oor haar uitoefen. Sy mag nie toelaat dat hierdie deurmekaar gevoelens vir Rob die oorhand oor haar nugter denke kry nie. Sy ken hom nie. Hy ken haar nie. Dis hoe dit moet bly…

“Rob…”

Hy kyk nie na haar nie, fokus net op die aartappel in sy hand, maar sy ken teen die tyd die koppige trek wat om sy mond gaan lê.

“Ek gaan nie sê ek is jammer nie. Ek weet ook nie wat daar tussen jou en jou seuntjie se pa gebeur het nie. Maar een ding weet ek wel.”

Sy kop lig en sy oё rus vir ‘n lang oomblik in hare.

“Hy was ‘n sot om jou ooit deur sy vingers te laat glip het. Jou soort, Katinka Meijer, is inderdaad baie dun gesaai. As ons net op ‘n ander tyd, ‘n ander plek kon ontmoet het…”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s