My liefdesverklaring…

Liewe Romanzalesers

Dit is vir my ‘n wonderlike voorreg om hier by julle te kan aansluit. Ek self blog nou al lank graag dat die spoeg spat en ‘n groot liefde van my lê beslis by die romantiese genre: Romanzas sowel as die Liefdesroman. Nou, danksy Alta, Madelie, Linelle en LAPA wat my met hul baba vertrou, kan ek die twee groot liefdes van my lewe, Skryf en Romanse, kombineer. En dit nogal tussen ‘n lieflike klompie mense wat so lekker saam gesels.

Ek het ‘n bietjie gaan krap deur al die kommentaar en dit is vir my duidelik dat ons almal hier hierdie einste passie deel. En hoekom sou ons nou nie? Want wat hou ‘n mens dan warmer in die winter, as ‘n stomende Romanza? Of waarin verloor jy jouself meer as in die blaaie van ‘n lieflike liefdesroman? Ek het grootgeword met Ena Murray se verhale – sy is, myns insiens,  die pionier van die Afrikaanse Liefdesroman, die Moeder van die Romanses.

Intussen het hierdie romantiese genre haar taal-en-styl vere afgestof en ‘n nuwe nommertjie aangetrek en nou hang sy behoorlik uit! En gelukkig het ons wonderlike skrywers wat sorg dat die genre aanhou ontwikkel terwyl die sappige soetheid van die Murray-era behoue bly.

"Liefde laat jou Rice Krispies anders proe" - Tania Brink

“Liefde laat jou Rice Krispies anders proe” – Tania Brink

Tog, snaaks genoeg is nie almal so lief vir hierdie genre nie. Ek het ‘n boekklub wat ek bestuur, kuier gereeld op ‘n Facebook-leesgroep en het ook baie lesersvriende, dus kom ek gereeld in aanraking met ‘n verskeidenheid lesersforums en ‘n tendens wat ek (ongelukkig) tussen die lot bespeur, is dat daar ‘n hele paar is wat redelik neusoptrekkerig is wanneer dit by die liefdesgenre kom. Hul redes? Hulle soek “dieper” leesstof, iets om jou “te boei” en natuurlik wil hulle glad nie die einde vooraf kan uitpluis nie – dit moet kom as een groot verrassing, met ‘n goeie of tragiese einde…

Vir hulle wil ek sê: daar is nie ‘n genre wat ek so geniet soos die Liefde nie! En dis nie asof ek “nie van beter weet nie”. Ek self lees wyd, van speur- en spanningsromans, inspirerende romans, jeugverhale tot selfs toeganklike literêre tekste en niks kan by die opsitkers van die Liefdesgenre vashou nie. Die ontvlugting, die spanning van onvervulde liefde en ja, selfs die voorspelbare einde is wat my telkens lok: ek weet wat ek wil hê en, ou matta, ek gaan dit kry! Elke keer dat jy ‘n nuwe boek oopblaai kan jy met sekerheid weet dat jy met die duur van hierdie boek verlief gaan raak op ‘n aantreklike held, die rol van die heldin gaan speel en dan uiteindelik gelukkig in die arms van ‘n perfekte liefde gaan leef.

Ek voel of dit my persoonlike plig is om ieder en elk net so vurig lief te maak vir die Liefdesgenre. (Partymaal dink ek almal lees dit in elk geval skelmpies maar wil dit net nie erken nie, amper soos die daai ander Afrikaanse tydskrif…). Ek wil elke vrou – en man! – bewusmaak van die wonder van die Romanse.

En los die stigma! Dit is bewys dat hiper-intelligente, beroeps- en sakevroue Romantiese Fiksie lees. Dokters, Advokate, Spesialiste, Tuisteskeppers, Ma’s en dalk selfs die Koninging? (G’n mens kan Corgi’s hê en NIE Romantiese fiksie geniet nie…)

So, getroue Romanzaliefhebbers, miskien moet ons ‘n revolusie begin. Die Romantiese Revolusie. En miskien sal dit beter wees as die Russiese Revolusie, dalk selfs die Industrële Revolusie en veral beter as die Franse Revolusie want, hoewel jy dalk gaan kop verloor, sal hier ten minste geen koppe rol in die Romantiese Revolusie nie!

En miskien is Septembermaand, die maand vir ontluikende liefde wat bloei en bot, net die maand om hals-oor-kop verlief te raak op die liefde. Koop vir al jou vriendinne, jou ma, jou kollegas, jou tienerdogters en selfs jou skoonma die Romanzas wat in September verskyn: miskien het sy nodig om die liefde te ontdek. Koop vir haar die boek. Die koste is klein en die beloning is groot.

Kyk uit vir die nuwe boeke wat ek begin plaas wat volgende maand verskyn. Daar is ‘n hele lot nuwe liefdes asook ou liefdes wat herontdek word. En met titels soos Man van Formaat, Alles wat jy is, Die regte tyd en Dans van die Liefde is daar beslis iets om op verlief te raak hierdie lente…

Terwyl ons nou die laaste bietjie winter geniet, sorg dat jy vanaand gesellig verkeer met ‘n stomende koppie koffie en ‘n warm Romanza in jou hand. Ek weet ek gaan.

Met liefde

Monique

14 thoughts on “My liefdesverklaring…

  1. izak de vries says:

    Wonderlik, Monique. Ek is so bly jy’s deel van die span! Ek het lekker gelees aan jou blog.

  2. Heila says:

    Hi Monique
    Jy gaan ons klomp skrywers weer aan die brand kry. Na ek jou boodskap gelees het, het ek sommer nog n boek aangepak. Die wêreld van n skrywer is nogal n alleen plek. Mens se vriende sê altyd jou boek is goed, want hulle voel hulle moet so sê. Verder hoor jy nie veel nie. Dan wonder jy of jy op die regte pad is. Maar jy klink so vriendelik jy sal sommer vir ons almal sê dis goed of dit nou vrot is of te not.

    • Monique Bisschoff says:

      Alma, dit is die grootste plesier en geen moeite nie. Ek dink ook dis hoogtyd dat mense uit die kas klim en trots kan verklaar dat hul liefdesstories lees en “so what!” Jinne, die lewe is wraggies te kort om jouself die gesonde plesiertjies in die lewe te moet ontsê. En te maak asof jy van iets hou wat jy eintlik heimlik vervelig vind… (Ek ken sulke mense🙂 )

  3. Annetjie van Tonder says:

    Met so ‘n liefdesverklaring kan ons klompie skrywers mos nie anders as om ons met hart en siel by jou te skaar nie, Monique. Lyk my romanse gaan swaar gelaai wees hierdie lente. Mag die bloeisels van jou entoesiasme veel vrug dra.

  4. Rika Du Plessis says:

    Monique, my broer was altyd lief om te sê: Nou weet jy wat! Nou ja, ek wil ook nou vir almal wat hier lees sê, nou weet jy wat gaan vir wat wat die liefde, die lees van liefde, en die beleef van die liefde vir mense beteken. Mooi gestel, en ek het lekker daaraan gelees. Bly jy is aan ons kant van die liefde.

  5. Madelie Human says:

    Daar het julle dit! Met jong, nuwe bloed soos die van Monique stoom ons ‘n nuwe era in. VIVA die liefde!! Viva die romanse en die liefdesroman. Baie dankie aan Monique wat bereid is om die blog oor te neem en dit ‘n nuwe kleurtjie te gee. Lekker lees en ek hoop dat hierdie lente ook ‘n nuwe liefde in jou lewe bring of ‘n ou liefde nuwe woema gee!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s