Proestukkie: Karoo-droom

Karoo-droom“Toe-toe,” roep Lizelle uit, “die verkeer begin optel. Hoe gouer ons begin hoe beter.”

Sy beduie Jana moet ook voor in die straat kom staan. “Dis oorlog!” roep sy uit en gooi haar vuis in die lug op.

“Dis oorlog!” roep almal saam uit en volg haar voorbeeld.

“Wie dink hierdie oliemaatskappye en die ander korrupte geldwolwe is hulle?” sweep Lizelle hulle op. “Dis ons land en ons kan nie stilsit en toekyk hoe alles uitmekaargebreek en vergiftig word nie.”

“Gaan weg! Gaan weg!” roep hulle in ’n koor uit en swaai hulle vuiste en die plakkate in die lug rond.

Van die brug se kant kom ‘n paar straatmense na hulle toe aangestap.

‘n Verflenterde man kom voor om en druk langs Jana in. Hy hou sy vuis in die lug en glimlag kameraadskaplik met sy tandlose mond. “En ons wil ook hyse hê,” skree hy in ‘n oomblik van stilte.

 “Gee pad, dis ons betoging,” probeer Lizelle hulle verwilder.

’n Silwergrys motor ry stadig nader en kom reg voor Jana tot stilstand. Sy staan verskrik terug. Sy het sowaar gedink hy gaan nie betyds stilhou nie.

“Is jy besimpeld!” roep sy uit.

Die venster word oopgemaak. “Nou toe nou,” kom ‘n man se stem deur die venster.

“Wat makeer jou?” vererg Jana haar. “Jy het amper oor my voet gery!”

Hy kyk na haar plakkaat. “O, dan is dit jou reg om te veg?” vra hy sarkasties. “Interessantheidshalwe, Juffrou, het jy nie ook ‘n week of wat gelede hier gestaan en betoog oor groter lenings vir behoeftige studente, of so iets nie?”

 “Dit het niks met jou te make nie,” vervies sy haar bloedig. Hierdie vervlakste man is so verwaand soos môre heeldag. “Jy kon my raak gery het, weet jy dit?”

Tipies! Hy dink net omdat hy aantreklik is, kan hy haar kom staan en hiet en gebied.

“Die straat is vir motors en die sypaadjie vir voetgangers,” verduidelik hy soos vir ’n kind.

“Dink jy miskien jy het die reg om vir my te kom sê waar ek mag en nie mag staan nie?” Sy kyk hom in die oë. “Kan jy nie sien ons betoog juis teen mense soos jy nie. Jy rits in ’n yslike, petrol-vretende motor rond en gee nie ’n duit om as die oliemaatskappye beplan om die Karoo te vergiftig nie.”

“As jy dink jy weet alles van motors en van die Karoo, het ek nuus vir jou,” knip hy haar kort.

“Nie al die studente het soos jy met hulle agterente in die botter beland nie,” kom een van die mansstudente vyandig tussenbeide.

“En wat weet jy in elk geval van honger gaan slaap om klasgelde te betaal?” Jana stoot uitdagend haar onderlip uit en kyk dwarsdeur hom.

“Seker net so min soos jy.” Sy groen oë spot met haar. “En nou staan jy hier en vermors jou ouers se geld. Hulle is seker salig onbewus daarvan  hulle bloedjie staan met ’n rooi sirkel op haar bates in die straat en betoog. Laat ek raai …” Dit lyk asof hy kennis van iewers uit die hemele kry. “Hulle is onder die indruk jy sit dag en nag voor die boeke en swoeg,” kom hy dramaties tot die slotsom.

Sy gluur hom boos aan. “As dit van jou soort afhang, sal die Karoo so gou soos nou uitmekaargebreek word. En dit net sodat jy goedkoper petrol kan kry. Voor jy my kom staan en kritiseer, moet jy eers jou eie huis in orde kry.”

“Hyse, ja. Ons wil ook hyse hê,” stem die straatman kopknikkend langs haar saam.

“En ons soek toilets!” roep die een uit wat sy babbelas vrou in ‘n Pick n Pay-waentjie nader stoot.

Die man in die motor kyk vies na Jana. “Weet jy ooit waar die Karoo is, Juffrou? Of is dit net weer een van ‘n rits sake, waarvoor jy op en af kan spring om ’n adrenalien-opwelling te verkry?”

“Anders as jy, wil ek met my gewete saamleef,” antwoord sy hard en duidelik. “Met hierdie windgat motor van jou is jou koolstofvoetspoor definitief groter as die van ’n olifant. En nog iets, daar is arm studente wat krepeer van ellende, terwyl jy kreef en kaviaar by kerslig eet. Om nie te praat van die duur bottel wyn nie.”

 “En spaar ‘n ou botteltjie vir die nadors, seblief, meneer,” kry die vrou in die inkopie-waentjie van iewers af lewe en hou haar leë bottel na sy kant toe uit.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s