Lusmakertjie: Halwehuisliefde

HalwehuisliefdeBabette maak haar oë oop en sukkel om te fokus.  Haar kop klop van ’n hoofpyn wat haar naar laat voel. Sy verskuif en sit regop in die bed om teen haar slape te druk, daar waar dit voel asof haar kop wil bars. Maar sy ruk regop toe die skerp klanke van ’n elektriese kitaar deur die gebou weergalm. Sy knyp haar oë styf toe; dit voel asof die snare soos lemme deur haar lyf sny.

Haar bene beweeg outomaties na die badkamer waar sy wild in die kassie rondkrap vir pynstillers. Toe sy water uit die kraan tap om die pille te drink, bewe die glas tussen haar vingers.

Nadat sy twintig minute lank plat op haar rug gelê het, klop haar kop nog erger en dit voel asof die pille na ’n verkeerde plek gekanaliseer is. Juliette kruip verskrik nader aan haar en sy druk die kat onder haar arm vas. “En ek het gedink hy het ’n werk,” sug sy en staan op.

Op pad na die kombuis toe sit sy Juliette in die gang neer. In die sitkamer gaan sy botstil staan toe tromme skielik ritmies saam met die kitaarklanke deur die mure klop. Haar voorkop trek op ’n plooi. Wat te erg is, is darem net te erg! Daar is harde musiek en dan is daar oorverdowende musiek en sy het nou net mooi genoeg gehad van die man se onbedagsaamheid.

Sy ruk haar voordeur oop en storm na die stoepie langsaan. Nes gister staan die deur wawyd oop en kitaarmusiek stroom na buite. Babette lig haar hand om te klop, maar laat dit sak toe sy besef dat geen klop in hierdie oorverdowende lawaai gehoor sal word nie. Haar oë sukkel om ná die helder lig buite in die skemer vertrek te sien, maar sy let byna dadelik die lang figuur op wat effens agteroor geleun staan met die kitaar skuins oor sy breë bors. Sy linkerhand flits oor die instrument in geoefende drukke terwyl sy regterhand met ’n plektrum aan die snare pluk. Een nerfaf stewel trap op die ritmepedaal waarop ’n horde liggies flits en hy gebruik sy voet om die knoppies op die instrument te verstel, wat die tromme se ritme verander.

“Arnold!” Sy druk haar vingers teen haar slape waar dit voel asof haar breinselle tromme speel in haar kop. “Arnold!” skree sy weer om bo die lawaai gehoor te word net toe hy sy vingers van die snare lig.

Hy frons gesteurd en skakel die klankversterker af voor hy die kitaar versigtig op ’n staander neersit. “Hoekom skree jy so?” vra hy nors.

“Sodat jy my kan hoor. Dis nou te sê as jy nog nie doof is van al die lawaai nie,” sê sy en vererg haar vir die lamheid wat, net soos gister, stadig teen haar bene opkruip.

Hy kom tydsaam nader en haar oë volg onwillekeurig die soepel beweging van sy lyf onder die verbleikte T-hemp wat styf oor sy bors span. “Jy lyk gedaan. Harde nag gehad?” Sy een wenkbrou skiet op toe hy teen die deurkosyn reg voor haar kom aanleun.

“Ja, danksy jou. En nou het ek ’n kloppende hoofpyn as gevolg van min slaap en hierdie afskuwelike musiek van jou.” Sy verwens die vlinders wat weer begin wakker word agter haar naeltjie.

“En hoe is dit my probleem?”

Babette druk weer haar vingerpunte teen haar kloppende slape. “Ek het nie nou lus om met jou te redeneer nie. Al wat ek vra, is dat jy my asseblief stilte sal gun om te slaap sodat my kopseer kan bedaar,” sê sy so kalm as moontlik.

“Ek sê jou wat, Bettie. Kry vir jou ’n ordentlike day job, dan kan ons albei snags rus, h’m?”

Babette se oë boor in syne en dit voel asof sy dubbelvisie het van die hoofpyn wat met haar ergernis ook verdriedubbel het.  “My naam is Babette,” sê sy afgemete. “En ek hét ’n ordentlike werk, baie dankie. Waarom kry jy nie eerder vir jou ’n werk nie, sodat ek bedags kan rus?” vra sy. Dit voel asof haar bloed wil oorkook toe ’n lui glimlag om sy lippe kruip.

“Asof jy nie weet wat ek doen nie,” sê hy sarkasties.

“Ja, ek weet. Jy lê leeg en werk op mense se senuwees. Ek praat van ’n werk waaruit jy ’n inkomste kan verdien.”

“En jy dink nie musiek is lonend nie?” lag hy skepties.

“Musiek? Ja, musiek kan lonend wees, maar ek sal nie hierdie lawaai wat jy maak musiek noem nie. Jy sal nie ’n sent maak as jy dit probeer verkoop nie, so spaar jouself die moeite en kry ’n ordentlike werk.”

Sy oë vernou skaars merkbaar en hy lag verleë. “Jy weet rêrig nie wie ek is nie, weet jy?”

Sy fynkam sy gelaat vir ’n sekonde. Daar is iets bekend aan hom, asof sy hom al iewers gesien het, maar sy kan sy gesig glad nie plaas nie. “Is ek veronderstel om jou te ken? Dalk het jy net nie op my indruk gemaak met ons eerste ontmoeting nie,” sê sy sarkasties, maar sy weet dat sy hom beslis sou onthou het. Geen man het al ooit hierdie uitwerking op haar lyf gehad nie.

Hy skud sy kop en vryf ingedagte oor sy ken waar donker stoppels oornag verskyn het. “Never mind. Dis nice om ’n slag iemand te ontmoet wat nie weet nie.” Hy trek sy een skouer ligweg op en plant sy hande op sy heupe. “Dis jammer jy’s ’n vrou van die nag.”

Babette moet sluk toe die hoofpyn weer naarheid in haar keel laat opstoot en sy vryf oor haar oë wat voel asof dit buite teen haar voorkop sit en klop. “Ek gaan nou lê, voor ek hier omkap,” sê sy floutjies en draai om na haar stoepie.

“Babette,” sê hy sag en vou sy hand om haar arm toe sy byna op sy stoeptrappie struikel. “Jy is doodsbleek. Kan ek jou dokter toe vat?”

“Nee, los my net in vrede dat ek kan slaap,” mompel sy en trek haar arm uit sy hand.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s