Proestukkie: Siende blind

Siende blind - CopyDie strandhuis lyk vreemd toe sy voor die smeeysterhek stilhou. Nog net so lomp en grotesk lelik soos altyd, maar anders. Witter. Nog groter. Geverf. Eers toe sy uitklim, sien sy die Te koop-bordjie langs die hek. ’n Plakker is oor die “Te koop” geplak. Sold. Sy bly verdwaas staan.

Te Koop? Sold? In Afrikaans aangebied, in Engels verkoop. Baie onlangs, want die plakker is ooglopend splinternuut.

Die huis, oorspronklik haar Klein-Karoo-grootjie s’n, is net die afgelope paar jaar haar pa se woning, maar drie geslagte lank al die Van der Lindes se vakansieplek. ’n Vakansiekrotjie, te oordeel aan swart-en-wit-foto’s wat in haar pa se studeerkamer hang, wat gegroei het tot agt slaapkamers en nege badkamers sodat die familie Desembers kan saamkuier. Die enorme lang tafel tussen die kombuis en sitkamer met genoeg sitplek vir sestien Van der Lindes en aanhangsels. ’n Tafel wat in haar oupa Carolus se dae dikwels vol gesit is.

Is dit hoekom haar pa verkoop het? Omdat die Van der Lindes wat Outeniekwastrand toe kom, gekrimp het totdat net sy en haar pa oorgebly het? Ouma en Oupa lankal dood. Haar ooms en tannies, niggies en neefs oor die aardbol versprei en dié wat wel nog te lande is in vyandskap van mekaar weggekeer. Deels omdat die Van der Linde-sakeryk en -bates destyds aan haar pa bemaak is nadat sy broer en suster hulle oupa Carolus se gramskap op die hals gehaal het. Sy kon nooit uitvind wat regtig gebeur het nie. Een dag het sy nog familie gehad, die volgende was daar net haar oupa en haar ma en pa.

Cara druk teen die tuinhek langs die motorhek. Dit swaai geluidloos oop terwyl die skarniere altyd ’n gruwelike maar waarskuwende skree van metaal teen metaal gegee het. Die skulpgruisvoetpaadjie het plek gemaak vir nagemaakte keistene met grondbedekker tussenin. Die deur wat na die binnehof lei, is steeds enorm en ru, maar nie meer verbleik deur son en wind nie. Dit glim dof, pas vernis. Vernis? ’n Deur van wrakhout gemaak?

Die deur roer nie toe sy die koperhandvatsel afdruk nie. Langsaan knipoog ’n rooi liggie. ’n Deurklokkie by ’n deur wat die afgelope paar jaar altyd ongesluit was om die eenvoudige rede dat die sleutel in die slot afgebreek het? ’n Blikkerige Für Elise klink in die verte op toe sy die knoppie werktuiglik druk.

Dit móét ’n droom wees. Wat beteken Paul het haar nie werklik vanoggend, nog voor hulle eerste koppie koffie, gevra vir ’n egskeiding nie. Waarmee gaan haar onderbewussyn nog vorendag kom?

Met ’n verniste skeepswrakdeur wat oopgaan en ’n vreemde vrou wat haar wenkbroue lig. ’n Mooi vrou. Middel dertigs as Cara moet raai. Lieflike vel. Goed versorg. Rooibruin hare, uitsonderlike groenbruin oë. Middelmatige lengte, proporsioneel gebou en amper te slank in haar ontwerperjeans en sagte pienk kasjmiertrui waarvan die moue opgestoot is.

“Middag?” Dis nie ’n groet nie. Dis ’n vraag. ’n Stel vrae. Wie is jy? Wat maak jy hier? Hoekom pla jy my?

Cara wil wakker word. Langs Paul. In sy arms, met sy lang been oor haar dye gegooi. Haar boude net mooi in die holte waar sy dikwels soggens eers van sy ereksie bewus geword het, voor sy sy hand op haar bors gevoel het. ’n Paul wat nie onbeskaamd erken het hy het die beste seks van sy lewe met ’n ander vrou gehad nie.

“Kan ek help?” Die ligte fronsie vul die res in: Ek het regtig nie hiervoor lus nie, wat dit ook al is wat jy hier soek.

“My pa. Karel van der Linde,” kom Cara se kake uiteindelik los van mekaar, maar ’n vermoë tot sinsverband ontduik haar.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s