Proestukkie: Raaiselvrou

RaaiselvrouToe sy huiwerig klop, klink ’n waarskuwende gegrom uit die bloute hier dig by haar op. Verskrik tree sy agtertoe en onderdruk ’n gil. Sy is nie ’n diereliefhebber nie, ken hoegenaamd nie enige van die verskillende honderasse nie en hierdie is ’n groot hond. Dit lyk asof hy haar enige oomblik kan bespring.

            “Stil, Keiser!” Die bevel klink sag, dog gebiedend en die gegrom hou dadelik op.

            Emma kyk verbaas na die groot man met die deurmekaar bruin hare wat die stoepkamer se deur vol staan. Sy is gewoond aan mans in pakke klere, en hier … Dit voel asof alles in haar kop skoon deurmekaar warrel. Is sy nou van lotjie getik? Vir wat affekteer die man se gespierde sonbruin arms en breë skouers haar nou so? Genugtig, sy is tog verby daardie jare.

            “Dis reg, Keiser, jy weet mos hoe om jou te gedra. Veral teenoor dames.” Die stem, die man en die hond pas by mekaar: groot. Tog klink die man nie intimiderend nie, daarvoor lyk sy oë te sag. Hy tik die hond liggies op die kop. “So ja, oubaas se honne, stil maar, ek wil hoor wat die dame wil hê.”

            Verbaas luister Emma hoe hy met die hond gesels. Seker ook een van daardie absolute diereliefhebbers. Hy praat met sy hond soos met ’n kind, sag en vertroostend, liefkoos die hond as’t ware met sy oë.

            Keiser nogal? Regeer seker die werf.

            Toe tref dit haar: Baas en hond lyk na mekaar. Dieselfde sagte karamelbruin oë.

            “Ek soek verblyf vir ’n paar dae. Dit is mos ’n gastehuis?”

*****

Albertus kreun innerlik. Sy is hier om ’n boek te skryf. Haar verblyf is dus onbeperk. Ysige oë, kom dit by hom op. Haar blonde hare, byna skouerlengte, is modern gekap met punte wat in alle rigtings staan. Haar fyn gelaatstrekke vertoon porseleinagtig. Dresdenpoppie, kom die nagedagte. Sy is mooi. maar magtig, mens kan haar eenvoudig nie peil nie. Is sy bang of uitdagend?

            Hy streel ingedagte oor Keiser se kop. “Hiert my ou honne, lyk my ons is in vir ’n ding. En sy hou nie eens van jou nie. Bly tog net van haar af weg, sy’s kapabel en kry een of ander aanval as jy naby haar kom. Ons hoop maar sy besluit om die pad verder noorde to te vat.”

            Toe hy in Keiser se oë kyk lyk dit asof sy ou kameraad hom wil uitlag, asof hy wil sê: “Praat die man wat vir almal, mens en dier, omgee; die man met die sagte hart.” Albertus skud sy kop. Indien Keiser kon praat sou hy natuurlik reg wees. Sy ma het hom goeie maniere saam met moedersmelk ingegee. Hy sal maar net volgens sy aard hoflik en vriendelik wees.

            Maar die vrou gee hom die koue creeps. Sy lyk na ’n regte yspaleis. En dit is die hele probleem: hy weet nie hoe om haar te benader nie, waaroor om te gesels nie. Hy sit elke keer met sy mond vol tande in die geselskap en glimlag vriendelik terwyl hy eintlik wil vlug.

            Dis net … iets snaaks draai in sy binneste elke keer wanneer hy in daardie twee blougroen oë kyk, iets wat hy nie geweet het hy nog kan beleef nie. Hoe meer hy dit probeer doodsmoor, hoe meer spook die twee byna turkooiskleurige oë by hom. Hy hou nie van hierdie woelende emosies in hom nie.

One thought on “Proestukkie: Raaiselvrou

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s