Proestukkie: Liefdesboodskap

Liefdesboodskap“Kris!” Sy ignoreer die bevelende stemtoon en stap haastig voort.

Haastige voetstappe klink agter haar op en vir ʼn oomblik dink sy hy stap saam met Claudie weg. Sy trek haar asem rukkerig in toe haar elmboog in ʼn ystergreep vasgevat word en sy met min ontsag omgeswaai word. 

Die grys oë is donker toe sy teen ʼn harde borskas vasgetrek word.

“Groet jy nie ordentlik nie?” vra hy sag en vir ʼn oomblik is sy verward, maar dan sak sy kop en kom sy mond op hare neer met ʼn beslistheid wat haar asem wegslaan. Dit is beslis nie ʼn piksoentjie nie. Dit is ʼn soen van ʼn man wat ʼn stelling wil maak. ʼn Boodskap wil oordra. Kristie is net nie seker aan wie nie. Haar kop is buitendien te wollerig om enige logiese verklarings te formuleer. Sy hang soos ʼn semelpop in die omhelsing, nie in staat om te beweeg nie.

Dit duur nie lank nie, seker ʼn paar sekondes, maar vir Kristie voel dit of sy in ʼn wilde wentelbaan saam met die aarde begin tol. Toe Sebastiaan sy kop lig, sukkel sy om op die gesig naby haar te fokus. 

Hy los haar stadig, maak seker dat sy nie sal omval nie en buk dan om haar sambreel wat sy laat val het, op te tel. Hy druk dit in haar dom, koue vingers.

“Ek bel jou later,” sy vinger vee vinnig oor haar nat wange, voordat hy op sy haak omdraai en na Claudie stap wat hulle dophou met ʼn krytwit gesig.  

“Waarvoor?” kry sy eindelik haar tong om die woorde gevou.

Sebastiaan draai om: “Die onthaal.”

Sy kan net knik, al is sy nie seker waarvan hy praat nie. Lank staan sy daar, kyk die verspotte pienk sambreel en die lang man agterna, maar die verwarring in haar wil nie opklaar nie.

Dit voel of haar kop in ʼn draaikolk beland het. Sy kan geen sin uitmaak van wat sopas gebeur het nie. As haar hart net nie soos ʼn hans boklam net voor reën tekere gegaan het nie, sou logika dalk nie te moeilik gewees het nie. Maar dit voel of alles teen mekaar bots en sy iewers in die middel staan en die slae moet absorbeer.

Hy het haar gesoen! Hoekom het hy dit gedoen? In al die jare wat hulle mekaar ken, het hy nooit aan haar geraak nie. 

Toe ʼn motor agter haar sy toeter blaas, skrik sy en waai verskonend vir die man agter die stuur. Sy is sopnat en kry bibberkoud, terwyl sy oor plasse spring om onder ʼn dak te kom.

 “Genade! Kyk hoe lyk jy,” Gerda leun oor die toonbank wat haar van die pasiënte se wagkamer skei toe Kristie die glasdeur oopstoot. “Jy is sopnat. O, jy gaan hondsiek raak as ons jou nie vinnig uit daardie klere kry nie. Gaan trek gou uit. Ek bring vir jou warm klere.” Sy trippel op hoë hakke in die gang af, terwyl sy aaneen praat, informasie soos ʼn masjiengeweer aframmel, sonder om ʼn teug asem te neem. “Dokter Lombard het na jou gesoek. Gelukkig hou jy darem ʼn ekstra langbroek en trui vir noodgevalle in jou kantoor. Bert het gebel om te sê hy gaan direk hospitaal toe. Terwyl jy aantrek, gaan ek gou vir jou ʼn koppie tee maak, voordat die eerste pasiënt opdaag.”  

Kristie laat Gerda begaan, te dankbaar dat sy nie konstruktief hoef te dink nie. Haar verstand is soos die van ʼn willose skaap wat oppad is slagpale toe. Dit het vasgehaak by Sebastiaan en die gevoel van sy warm lippe, wat haar mond ferm vasgevat het. Daar was niks dikdood aan die manier waarop hy haar gesoen het nie. Sy liggaamsreuk, gemeng met reën en die soet geur van peperment op sy asem, is in haar geheue ingeprent.

En die meisie se ontstelde gesig.

 

2 thoughts on “Proestukkie: Liefdesboodskap

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s