Lusmakertjie: Kans van ‘n leeftyd

Kans van 'n leeftyd

“Milla, kan ek jou voorstel aan meneer Roland Strauss. Dis my suster Milla Edwards.”

Roland steek dadelik sy hand uit,  sy aanraking kort en saaklik. En die oë wat op haar afkyk, is ewe koel. “Goeiemiddag, juffrou Edwards.”

Net “goeiemiddag”, nie “aangename kennis” nie? Die man is glad nie beïndruk met haar nie. Hoekom? Bitter min mans kry dit reg om met ’n eerste ontmoeting hulle bewondering weg te steek, haar groen oë en natuurlike rooibruin hare laat gewoonlik die mans se koppe draai, al moet sy dit self sê. Sy knik net koel terug, maar dit is heeltemal onnodig. Hy kyk reeds na Francis. 

“Ek is jammer ek val sommer hier in, maar my tyd is beperk. Is dit moontlik dat ek met Joe kan gesels? Al is dit net vir ’n paar minute?”

Sy houding is selfversekerd en sy stem gekultiveerd, goed gemoduleer. Dit pas glad nie by sy bebaarde gesig nie. Terwyl Francis hom antwoord, het Milla tyd om sy gesig te bestudeer. Sy baard is miskien welig, maar dis netjies en versorg. En sy hare is wel langer as die meeste van haar mansvriende s’n, maar dis skoon en goed versorg. Sonder twyfel die buitelugtipe, som sy hom op. Dit bring haar terug by haar oorspronklike vraag: Waar en wanneer het hy en haar oupa vriende geword?

Roland knik in haar rigting en loop agter Francis aan na Joe toe. Milla het nie eens gehoor dat Francis hom toestemming gegee het nie. Sy oorweeg dit om agterna te stap, maar dit sal lyk asof sy nuuskierig is. Sy ontspan teen die kussings. Ondervinding het haar geleer dat min dinge verborge bly. Die een of ander tyd sal sy wel meer omtrent Roland Strauss uitvind.

Francis loop weer die vertrek binne.

“Jy was lank weg.” Te laat besef Milla dit klink soos ’n beskuldiging.

“Milla, wat jy eintlik wil weet, is waaroor Joe en Roland Strauss gepraat het. Erken dit maar.”

“Jy ken my te goed. Natuurlik is ek nuuskierig om te weet wat hy hier doen. Is jy nie ook nie?”

Francis gaan sit in haar stoel. “Joe wou alleen met hom praat. Ek was so lank weg omdat ek lipstiffie gaan aansit het.”

Milla frons. “Lipstiffie. Vir hom, die bosbewoner?” Jitte, maar die geitjie in haar spring deesdae vinnig uit sy hok. “Jammer, ek het nie bedoel om katterig te wees nie.”

“Hy is nogal aantreklik. En hy het ’n pragtige stem. So gekultiveerd en sexy.”

Lofliedere vir die bebaarde man wil Milla nie hoor nie. Daardie onbetrokke kyk in sy oë het haar skoon omgekrap. Sy staan op en loop deur toe. Maar sy moet die laaste sê inkry. “Daar is hoegenaamd niks sexy aan die man se stem of persoon nie. Wie weet wat kruip onder daardie baard weg? En watter moderne man dra vandag ’n baard. Jig!”

Francis se oë rek skielik en ’n lamheid trek deur Milla. Dis nie nodig om om te kyk nie. Haar radarstelsel waarsku haar dat Roland Strauss agter haar staan en waarskynlik al haar bitsige aanmerkings gehoor het. Wat doen sy nou? Draai sy om en maak verskoning of staan sy doodstil en gee voor sy is ’n standbeeld – deel van die dekor? Daar is natuurlik ’n alternatief, maar sy dink nie sy gaan so gelukkig wees nie: Die aarde kan oopskeur en haar verswelg en sy sal geen verantwoording hoef  doen nie. Daar is net een genade,  daardie hoogmoed waarvan haar oupa haar  beskuldig het. Sy kyk oor haar skouer.

“A, meneer Strauss, het jy jou kuiertjie by my oupa geniet?” vra sy koel.

Roland se oë vernou maar dis moeilik om die res van sy gesigsuitdrukking te peil. “Inderdaad. Jou oupa kon nie uitgepraat raak oor jou nie.”

Die vermakerige brokkie nuus ontsenu haar effens. “Julle het oor my gepraat?”

“Ja, jou oupa reken jy is ’n uiters bekwame en unieke meisie.”

Roland deel nie Joe se sentiment nie. Dit weet sy met elke vroulike stukkie instink. Die wete laat haar nekhare rys. “En mag ek vra wat my die onderwerp van bespreking gemaak het?”

“Nee, jy mag nie.” Roland kyk by haar verby na Francis. “Totsiens, Francis en dit was aangenaam om jou te ontmoet.” Vir Milla het hy net ’n kopknik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s