Lusmakertjie: Diamant uit Afrika

Diamant uit AfrikaRoald se streng gesig is enkele sentimeters van hare. Wasem slaan van hulle lywe op terwyl hulle mekaar in die oë kyk. Sy knip-knip haar oë teen die aanslag van die reën terwyl haar hart in haar keel spring. Hy draai weg van haar toe die rebel langs hom hulle aanjaag en sy beur weer vorentoe deur die reën. Sy verberg haar gesig agter haar nat hare terwyl sy haar bes probeer om nie toe te gee aan die oorweldigende gevoel dat hulle verlore is nie. Die reën vee alle tekens van die magtelose trane wat oor haar wange rol af. Tog hou sy haar gesig afgewend, want sy wil nie hê haar kollegas moet die innerlike stryd in haar sien nie. 

Dit word blykbaar ook vir die leier ongerieflik om in die reën voort te sukkel, want hy roep halt en sy gaan staan dankbaar.

Een van die rebelle beduie hulle moet net daar waar hulle staan in ʼn bondel op die grond sit en sy kyk ongelowig na die man, haar moegheid vir ʼn oomblik vergete. Sy keer toe Shannon wil gehoorsaam. Dis verregaande dat van hulle verwag word om netso in die modder in die gietende reën te sit. Die man kom geïrriteerd nader terwyl hy woes met sy geweer beduie. Die ander gehoorsaam en sy voel hoe sy hard af grond toe getrek word.

“Wat is fout met jou?” vra Roald vererg toe sy noodgedwonge langs hom neersak. “Wíl jy die rebelle verkeerd opvryf?”

“Nee, maar ek gaan nie hier in die modder sit nie. Hulle kan ons gerus êrens anders laat rus.”

“Luister jy nou vir my,” sê hy en sy stem is laag van ingehoue woede. “As jy lewendig hier wil uitkom, doen jy wat hulle sê en jy doen wat ek sê. Dis nie nou die tyd om jou upstairs te hou nie. Hierdie is nie jou gerieflike koninkryk in Engeland nie, hierdie is Donker Afrika. ʼn Koninkryk wat jy nie verstaan nie en nie moet waag om uit te tart nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s