Proestukkie: Onpeilbare vreemdeling

Onpeilbare vreemdelingZoë druk die foon dood en toe sy omdraai, bots sy teen iemand. Haar oë vlieg op na die man se gesig om verskoning te vra, maar die woorde stol op haar lippe. “Alan!”

“Haai, Zoë. Ek is net so verras om jou hier te sien.”

Verrassing beskryf nie juis wat sy voel nie. Sy herwin haar ewewig. “Wat doen jy hier?”

Hy boog sy wenkbroue en sy oë is onverklaarbare kil. “As jy wil weet of ek ook tussen hierdie besope en lawaaierige klomp mense sit en drink, dan is die antwoord beslis nee. Nou gaan ek jou vra wat jý in hierdie … hool doen?”

Zoë frons dadelik. “Miskien het ek te veel shooters agter die blad, Alan Watsenaam, want ek mis beslis iets. Wanneer het jy jouself as regter oor my lewe aangestel? En wie is jy om hierdie plek ’n hool te noem? Behalwe om onsself te geniet,het ek nie gesien dat enige iemand homself sleg gedra het nie.”

“Jy sien duidelik nie hoe wellustig die mans na jou bene in daardie kort rokkie en hoë hakke kyk nie. Het jy daaraan gedink dat jou rok onwelvoeglik kort is? Uitlokkend ook.”

Die keer suig Zoë haar asem hard en hoorbaar in. “Van watter planeet kom jy?”

“Wat bedoel jy?”

“Want jy is totaal oningelig oor die werklike lewe. Aan ons tafel sit drie ander meisies, en my rok is nie ’n sentimeter korter as enige van hulle s’n nie. En wat hierdie plek betref, die meerderheid jongmense het nie sakke vol geld om by fensie eet- en kuierplekke uit te hang nie. Ons kry ons onskuldige pret en plesier in goedkoop ‘hole’ soos die een,om jou eie woorde te gebruik. Dis nie ’n sonde om te lag en te gesels en die lewe te geniet nie. Inteendeel, dis jou plig om voluit te lewe. Dis ’n geskenk van ons Skepper.”

“Skepper, sê jy my? En dit terwyl jou naels pikswart geverf is.”

Zoë kan nie glo sy het in hierdie gesprek beland nie. Alan het pas sy bekrompe siening oor die lewe bevestig. “Pasop, Alan, jy verklap nou jou werklike ouderdom. Swart naels maak jou lankal nie meer ’n duiwelaanbidder nie. En dis mý keuse om swart te dra as ek wil, niemand anders s’n nie.”

“Haai, Zoë skat, gee hierdie ou jou moeilikheid?”

Gerrie sit sy arm om haar skouers en leun swaar teen haar. Sy stem is ’n paar grade skriller as gewoonlik en sy kan die alkohol in sy asem van ’n afstand af ruik. Alan se oë raak nog meer broeiend toe hy na die hand op haar skouer kyk. In die agtergrond sien sy hoe Kelvin en Willlie ook nader staan.

“Wat gaan hier aan, Zoë?” vra Willie toe hy aan Gerrie se ander kant gaan staan.

“Ken jy die ou? Lol hy met jou, Zoë?” gooi Kelvin sy stuiwer in die armbeurs.

Sy skaam haar morsdood as hulle almal nou by ’n bekgeveg betrokke gaan raak. Dit sal net Alan se vermoede bevestig dat dit ’n hool is. Sy skud Gerrie se arm van haar skouer af, maar haak dadelik by hom in.“Alles is onder beheer, ouens. Die vreemdeling wou eintlik net weet waar die deur is.” As Alan dit nie snap nie, is hy onnosel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s