Proestukkie: Die ander vrou

Die ander vrou - CopyDie volgende oggend skrik sy en Fanus gelyktydig wakker van die gespat van water buite by die swembad. “Wiedehel swem hierdie tyd van die oggend?” brom Fanus.

“Dit kan net Kyla wees wat so vroeg al aan die swem is. Hierdie tyd van die oggend!”

Kon sy nie ten minste net gewag het totdat almal behoorlik wakker is en dalk ’n slukkie koffie gedrink het nie. So vroeg in die oggend het ’n mens sowaar jumper cables nodig om aan die gang te kom.

Linda kan raai wat om te verwag en tog slaag Kyla daarin om haar tot stilstand te skok. Sy lig haar uit die water toe Linda  en Fanus op die stoep uitgestap kom, haar lyf glad en blink soos ’n dolfyn, ’n lyf so reg uit FHM-tydskrif waarin net die hotste girls geduld word.

Linda sien hoe Fanus haar suster aangaap en sy skrik. O hel, kyk, as Fanus vanoggend op Kyla gaan staan en verlief raak, as die geskiedenis hom gaan herhaal, gaan sy sowaar selfmoord pleeg. Of moord. ’n Dubbele moord.

Dan moet hy maar eerder met leepoë na Janeke kyk. Want, net soos sy, het Janeke ten minste ook al ’n paar rekmerke. In vergelyking met Kyla wat lyk asof haar hele lyf gephotoshop is. Nie ’n merkie nie, nie ’n rimpeltjie nie, nie ’n vatseltjie vet nie. Barbie-boobs, dun middeltjie, selfs oulike boudjies. Perfek, per-flippen-fek. En gegiet in ’n paar flentertjies lap wat soos body paint aan haar kleef, elke kloof en elke heuwel afgeëts en geaksentueer. Sy kan Fanus seker nie kwalik neem dat hy daar staan en na haar suster staar met sy gedagtes leesbaar in sy oë en aan ander dele van sy anatomie nie.

“Kom julle slaapkouse!” roep Kyla vrolik uit. “Spring in. Die water is wonderlik.”

“Ek’s nou by jou,” belowe Fanus, skielik wawyd wakker en vreeslik gaaf en tegemoetkomend, hy wat gisteraand tot in sy siel geskok was om te ontdek sy pasgetroude bruid is nie so blond soos sy voorgee om te wees nie. Hy wat, vreeslik verontwaardig en verontreg soos ’n seuntjie ge‘sulk’ het en sy rug op haar gedraai het toe sy langs hom onder die komberse inskuif, hy is skielik pure man en gretig om dit ook in die water waag, terwyl hy dit nooit normaalweg hierdie tyd van die oggend sou doen nie. Mans is sowaar deurskynend. Pure plastiek. Veral Fanus. En hy beskik blykbaar nie oor die nodige finesse om ten minste sy oerdrange en dinge te verberg nie, al is dit bloot net uit goeie maniere.

Linda wil vreeslik graag badkamer toe gaan, haar tande gaan borsel, gesig gaan was, deur al die rituele gaan wat help om haar so mooi as moontlik te maak, maar sy is te bang om van die stoep af weg te beweeg toe Fanus in sy Mauritius-swembroek en met ’n handdoekie oor die skouers uitgedraf kom. Hy is skielik sowat tien, vyftien jaar jonger as gisteroggend toe hy traag was om orent te kom. Tog wonderlik hoe verfrissend die vooruitsig van so ’n vroegoggend-swem in chloorwater kan wees. Hý het beslis nie nou meer jumper cables nodig om aan die gang te kom nie. Die vonke in sy enjin is so aan die spat dat dit maklik ’n kortsluiting kan veroorsaak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s