Kristel vertel meer oor Die ander vrou

Die ander vrou - CopyIn my vorige boek, Eendagmooi, het Linda de Jager haar verskyning gemaak as die ander vrou, sy wat ’n hele klomp mense se lewens kom verfomfaai het. Sy, met haar lang bene en blonde haarlokke was die spreekwoordelike femme fatale, die flippen verleidelike Barbie waarmee Fanus van sy middeljare wou ontsnap.

Ek het hierdie feeks van ’n vroumens, saam met my lesers, met ’n passie gehaat. Die skelmpie wat mans van hul vroue en kinders steel en huise opbreek. Die blonde bom. Vroue vrees haar en mans begeer haar. ’n Mens dink aan haar as ’n tert in die bed wat die heks in jou na vore bring.  

Hoekom dóén vroue dit? het ek begin wonder. Hoe kry ’n vrou dit oor haar hart om soveel hartseer te veroorsaak? En daar ís sulke vroue, hulle loop hier tussen ons rond. Ek het begin luister en lees en gesien dat dit van die vrou se kant af dikwels bittermin te doen het met lyflike begeertes en matras-manewales.

Dit gaan eerder oor die idee van ’n volledige gesin soos ons dit in die sprokies leer ken het. Waar daar ’n pappa is, ’n mamma, ’n kind en selfs ’n hond. Dis die hele picket fences-droom. In Die ander vrou het Linda op Fanus verlief geraak die dag toe hy haar dogtertjie op sy skouers getel het. ’n Ma sal enigiets vir haar kind doen en Linda wou Fanus vir haarself hê, maar meer nog vir haar kind. So ’n vrou kan tog nie net sleg wees, of hoe?

Egskeidings gaan nie altyd met die gebreek van borde en ’n geskel op mekaar gepaard nie, maar tweede huwelike is nooit sonder probleme nie. Wanneer die maanskyn verdof en die rose verwelk, is daar rekenings om te betaal, eks-vroue wat saam met jou en jou nuwe man in die bed klim en kinders uit ’n vorige huwelik wat nog aanspraak op hul pa maak.

Ook die man wat so graag van die old ball and chain ontslae wou raak, kan met ’n skok besef wat hy alles verloor het in die proses en selfs terugverlang na die lewe waaraan hy gewoond was. Was dit ooit die moeite werd? Ek het gesien watter radikale en selfs tragiese gebeure daardie ontnugtering tot gevolg kan hê en wou daardie storie vertel.

Om die ander vrou te wees is sowaar nie vir sissies nie . . .    

Maar daar is altyd hoop op die horison. En dit help baie as hy ’n paar breë skouers het waarop jy kan huil, ’n paar hande wat jou behoorlik kan vasvat en kan soen soos ’n kampioen! 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s