Proestukkie: Diagnose verlief

Diagnose Verlief GEPLAAS “Jy is gevoelloos, Adriaan,” beskuldig sy in ’n dik stem. “Jy verstaan nie hoe ek voel nie. Ek en Michael het vanaand ’n bietjie van die spontaniteit wat nog altyd tussen ons was, verloor. Dit sal nooit weer dieselfde tussen ons kan wees nie.”

“Verdomp! Huil jy, Maribelle?”

Sy skud haar kop, maar hy kan dit waarskynlik nie sien nie. Toe trek sy haar asem in. Want Adriaan trek haar nader en of sy dit nou wil hê of nie, haar kop vind ’n plekkie iewers onder sy ken. Dis heerlik warm en koesterend  en die gedagte om weg te ruk kom nie eens by haar op nie. Terselfdertyd raak sy bewus van die geur van sy lyf so styf teen hare en sy sterk, egalige hartklop so na aan haar eie. Haar arms raak waaghalsig, kruip stadig om sy lyf en haar hande sluit agter hom. Sy hou hom net so styf vas en dis heerlik.

“Voel jy beter?” vra hy by haar oor.

Bang dat as sy sê ja, hy haar sal laat gaan, skud sy verwoed haar kop.

“Toemaar, dis nie so erg nie. Jy sal nooit Michael se vriendskap verloor nie. Jy het vanaand die regte besluit geneem. Julle is nie regtig pasmaats nie.”

Sy lig haar kop. Bedoel hy nou sy is van Beukesstraat en Michael van Pearl Park? Maak dit hulle nie pasmaats nie? Vererg druk sy hom effens weg. Sy kyk op en probeer sy gesig of  sy oë, of net iets, in die donker sien. “Hoekom nie?”

“Want as jy na hom kyk, is daar geen vuur in jou oë nie. Nie  begeerte nie en definitief ook nie passie nie.”

Haar hart bokspring en klop dan vinniger. “Hoe weet jý?” vra sy ademloos.

“Want ek is ’n man. Ek weet wat ek in ’n vrou se oë wil sien. Veral in die een vir wie ek lief is. En Michael het nog nooit daardie kyk van jou gekry nie.”

Daar is emosie in sy stem wat sy nog nie voorheen gehoor het nie. En ’n tikkie van die passie waarvan hy so pas gepraat het. Dis onverklaarbaar, maar dit voel asof haar keel wil toetrek. En dan is daar haar verraderlike lyf wat wonder of sy van daardie passie op sy mond sal kan proe as hy nou vooroor leun. Sy skrik vir haar gedagtes. Voordat sy regtig so ’n simpel ding staan en aanvang, moet sy die situasie onder beheer kry. Beheer oor haarself terugkry.

Al waaraan sy kan dink, is sarkasme. “En jy is natuurlik ’n ekspert op die gebied van menseverhoudinge? Die kyk in vrouens se oë?”

“Nie ’n ekspert nie, maar ek weet hoe ’n man se kop werk. Ek weet dat as Michael jou sou soen hy nie ’n greintjie van jou vroulikheid roer nie. En ek kan dit bewys.”

Sy wil nog vra wat hy bedoel maar die woorde kom nie oor haar lippe nie. Want Adriaan trek haar terug in sy arms en sy mond rus warm en passievol op hare.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s