Proestukkie: Engel sonder vlerke

Engel sonder vlerke“Jy is reeds net vel en been. As jy nie swanger is nie, wat gaan aan?” Die warm hand op haar elmboog ontwapen haar sekondes lank.

“Wat traak dit jou?” herhaal sy, maar die opstand is weg uit haar stem.

“Dit raak my, want dit maak my woedend as studente hul gesondheid weggooi ter wille van ’n modegier of erger, en dit terwyl julle voedsame kos kan bekostig.” Sy staar verbysterd na die spiertjie wat in sy wang spring en sy mondhoek laat skeeftrek. Weg is die warmte uit sy stem. “Jy misgun jou honger lyf die gesonde kos wat jy broodnodig het, en as die honger te erg word, vergryp jy jou aan gemorskos.”

“En hoe is dit jou besigheid?” skiet sy wild na hom, bitterheid vlak in haar stem.

“Ek wil weet of ek nog my tyd moet mors om jou werkstukke en toetse na te sien as jy buitendien een van die dae moet opskop omdat jy siek is,” kners hy dit uit.

Sy soek verontwaardig na ’n antwoord, maar kry nie die regte woorde voor hy verder praat nie.

“As jy nie swanger of anoreksies is nie, moet jy jou laatnag gefuif by die huis gaan afslaap eerder as om die klasse te ontwrig, want jy mors my en jou klasmaats se tyd. Wil jy verskoon word?”

Dink hy werklik so min van haar? As dit die geval is, kan sy net so wel opskop, want dan gaan sy nooit deurkom nie, in elk geval nie sy afdeling nie. “Ja.” Sy kry nie ’n beleefde meneer of dokter oor haar lippe nie, sy is te kwaad. En verneder. En gereed om hom te lyf te gaan oor die duister gedagtes van mans in die algemeen en van hom in besonder. “Ja, jy is reg want jy weet mos alles, heldersiende dokter wat jy is. Verskoon my vir hierdie klas en die semestertoets en vir die res van die jaar. Ek gee oor want ek is moeg gebaklei. Ek skop op. Jy kan ophou wroeg oor die bedorwe brokkie wat ’n meer verdienstelike student se plek beset. Ek’s klaar met die universiteit en met jou en met alles wat met jou te doen het.”

Sy weet sy gaan spyt wees daaroor, maar skielik het sy nie meer krag om te veg nie. Die klasgeldpaaiement is te hoog om net met haar kelnersalaris te betaal, en daarna het sy nie geld vir kos of studiemateriaal nie. Wat help dit sy probeer vasbyt? Hy gaan buitendien dink wat hy wil.

Sy swenk weg om pad te gee uit die situasie, maar ’n ystergreep vat haar pols vas sodat sy in haar spore gehalt word, half na hom toe gedraai.

“Dan gooi jy handdoek in.” Sy stem is sonder venyn, sagter as wat sy in die omstandighede sou verwag. Geskok? Jammer? Sy weet nie, gee ook nie meer om nie.

Sy snorklag onvroulik. Gooi handdoek in, voorwaar. “Glo wat jy wil. Vat sommer my sak en notas en smyt dit in die asblik.” Sy kyk veelseggend af na die vingers wat om haar pols knel. “Los my nou uit.”

“Jy skop op? Ek is nie meer jou dosent nie?” In een beweging swaai hy haar na hom toe sodat sy teen sy bors val. Haar mond gaan oop in verontwaardigde verbasing en die stukkie kougom wat sy skaars begin kou het, gly in haar keel af. “In daardie geval kan jy my nie van onprofessionele gedrag beskuldig nie.” Sy lippe kom neer op hare, hard en deurdringend en ongenadig asof hy haar wil straf vir iets. Dis tegelyk ’n oordeel en ’n versugting, ’n belofte en ’n boetedoening. Dis verrassend en skokkend, opwindend en totaal verlammend. Toe hy van haar af wegstaan, is hy so bleek soos sy self voel. Hy staar tellings lank af na haar lippe, vee toe oor sy oë asof hy spinnerakke wegvee en draai sy rug op haar.

“Jy is verskoon.” Die woorde is feitlik onhoorbaar. Toe loop hy met lang treë terug klas toe.

Sy bly net daar staan, haar kop in die wolke, haar voete op die aarde. Platgeslaan. Doods. Bruisend lewend en uit haar vel.

Vlieg in jou glory in, Hugo, tier sy verwoed in haar gedagtegesprek met hom. Maar trane brand haar wange terwyl sy vinnig terugloop hospitaal toe. Hoe kán jy my só laat gaan sonder om my te sê wat dit beteken?

Al die fut gee skielik uit haar pad tot sy voel soos ’n teddiebeer wie se stopsel uitgeval het. By die hospitaal gaan sy sonder om draaie te loop na die ortopediese afdeling toe, loop by die diensstasie en al die oop deure verby reguit na die stoorkamer toe en gaan in sonder om soos gewoonlik seker te maak niemand sien haar nie. Vir speletjies het sy nie vandag krag nie. Eintlik wens sy heimlik iemand sien haar raak, kom af op haar wegkruipplek en jaag haar weg. Dan is alles finaal op ’n end en kan sy haar ophou bekommer oor hoe en waar en wanneer die swaard bokant haar kop gaan val en sy aan die kaak gestel word.

En juis omdat jy nie omgee nie, sal jy vanaand niemand raakloop nie, erken sy die finale ironie.

 

2 thoughts on “Proestukkie: Engel sonder vlerke

  1. Alma Carstens says:

    Oe, ek wil hierdie boek he! Jou boeke lees altyd so lekker, Bets! En ek is nou bitter nuuskierig oor wat met haar aan die gang is en wat sy storie is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s