Proestukkie: Miljoenêr in ‘n teekoppie

Miljoenêr in ’n teekoppie’n Proestukkie:

“Ek het vyfuur ’n afspraak, maar daar is nog genoeg tyd vir ’n lekker koppie tee. Sal jy solank vir ons gaan maak? Ek wil net my baadjie gaan haal.”

Abigail staan dadelik op. In die kombuis skakel sy die ketel aan en haal die blik teesakkies uit die kas. Haar oog val op die blikkie langsaan. Impulsief druk sy die houer in haar hand terug in die kas en haal die blik met teeblare uit. Sy kry ’n potjie en toe haar ouma die kombuis binnestap, trek die tee al ’n rukkie.

Abigail dra die skinkbord terug sitkamer toe en skink vir hulle.

“En as jy die teeblare uithaal?” vra ouma Moekie toe sy die tee deur ’n siffie gooi.

Abigail trek haar skouers op. “Ek het gehoop ouma Moekie kan my teekoppie lees.”

Ouma Moekie lag. “Abby, jy weet dit werk nie so nie. ’n Teekoppielesing gaan nie jou lewe vir jou makliker maak nie.”

“Maar ek moet weet wat my toekoms inhou, Ouma! En my ma is reg. Ek weet nie waarheen my lewe gaan nie. Ek het alles wat enige meisie maar kan begeer. Enigiets wat ek nog wil hê, kan ek vir myself koop, maar daar is hierdie groot leemte en ek weet doodeenvoudig nie hoe om dit te vul nie.” Abigail skep asem. “Wil Ouma nie net maar loer nie. Dalk sien Ouma iets.”

Ouma Moekie se wyse oë kyk haar ’n rukkie stil aan. “Nou goed, kom ons kyk, maar jy moet my belowe as ek niks sien nie, gaan jy jou nie wend tot ’n waarsegster of so iemand nie. Ons Skepper het nie bedoel dat ons weet wat in ons toekoms vir ons lê en wag nie.”

“Natuurlik sal ek nie so dom wees nie, maar ek soek net ’n bietjie raad.”

“Hoekom vertrou jy nie eerder jou instinkte nie, Abby? Dit gewoonlik onfeilbaar. En die antwoorde wat jy soek,  dit lê in jouself opgesluit.”

“Nie hierdie keer nie, Ouma. My intuïsie en elke ander ingeboude waarskuwingsintuig het my totaal en al in die steek gelaat.”

“Drink klaar jou tee en gee jou koppie.”

Abigail hou haar ouma dop. Toe sy die koppie eers dié kant en toe daardie kant toe draai, staan Abigail vinnig op en gaan langs haar op die bank sit. “Is daar iets?”

“Ek sien ’n man.”

“En?”

“’n Vet R.”

“Wat beteken dit?”

Sy naam kan met ’n R begin of … Nee, ek dink dit staan vir Rand. Die man is ryk. Beslis ’n miljoenêr.”

Dis ’n simpel ding wat sy wil doen, maar sy doen dit in elk geval. Sy gryp amper die koppie uit haar ouma se hande. “Wag, laat ek kyk. Waar sien Ouma dit?”

Ouma Moekie lag. Sy vind Abigail se angstigheid definitief prettig. Sy vat die koppie terug en beduie na ’n paar blaartjies. “Sien jy? Daar staan die man en bokant sy kop is die groot R.”

“Ek sien net ’n klomp deurmekaar teeblare,” sê Abigail teleurgesteld.

“Nee, hy is daar. Ek sien hom duidelik.”

“Kan Ouma sien hoe hy lyk?”

“Nee, Abby.”

Abigail sak terug teen die kussing. “Dit beteken niks nie, Ouma.”

“Hoekom vertel jy my nie maar net van die man en kry klaar nie, Abby? Wie is hy?”

Haar oë vlieg op, reg in haar ouma se wyse oë.

“Van watter man praat Ouma nou?”

Haar ouma lig haar wenkbroue beterweterig. “Die een wat jou tot teekoppies dryf. Toe, uit daarmee!”

“Nou goed. Ek het ’n man ontmoet en hy is alles wat ek in ’n man wil hê en hy is ook alles wat ek nié in ’n man wil hê nie. Maak dit sin?”

“Dis ’n vreemde antwoord, maar dalk maak dit vir jou sin. Vertel my eerder meer van hom.”

Abigail kry nie kans om verder te praat nie, want ouma Moekie se voordeurklokkie lui skril.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s